Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing: Hand.9 : 20 en Rom. 1 : 1-7 en 13-17
Teks: Hand.9 : 20 “ verkondig dat Jesus die Seun van God is … Vers 22: dat Jesus die Christus is.” Rom.1: 4 “ Jesus Christus ons Here … Vers 5: om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring” vers 29:” Net soos onder die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.”
Ek het by die vorige diens gesê dat ek ’n groot bekommernis in my hart het. Hier op Gansbaai is mense uit Nigerië, Sudan, Etihopië, Somalië, Sjina en by twee verskillende selfoonwinkels, twee Muslimmans van Pakistan. Die vraag is : Sê nou hulle gaan oor 10jaar terug na hulle lande van herkoms en mense sou hulle vra : “ Julle het vir 10 jaar daar tussen Christene, waaronder meer as 2 000 lidmate van die NG Kerk is, gewoon. Het daardie mense met julle ooit oor Christus die Verlosser gepraat ?” Wat sou hulle antwoord wees? Ek het ook gesê dat in my pogings om iets te doen ek van Bybelkor traktaatjies in Arabies, Sjinees en Engels bestel het wat die weg van Verlossing verduidelik, maar dat ek graag lidmate betrokke wil kry om hierdie traktaatjies te gaan uitdeel.
By daardie geleentheid het ek gepreek oor Paulus die verskriklike man, die vervolger van Christene, Paulus die verskrikte man as hy platgeslaan en blind buitekant Damaskus lê en Paulus die geskikte man as die Here vir Ananias sê : “Ek het hom gekies as my werktuig.”. Vanoggend wil ons besin oor: Paulus die onverskrokke man.
1. Paulus se wonderlike ontdekking:
Daar buitekant Damaskus het Paulus ’n wonderlike ontdekking gemaak. Hy het die Here Jesus ontmoet. En wat is die eerste ding wat hy gedoen het? Hy het “ dadelik in die sinagoges verkondig dat Jesus die Seun van God is.” ( Hand.9 :20 ) En in vers 22 lees ons “ Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode in Damaskus in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Hierdie Jesus wie se volgelinge ek so wreed vervolg het, hierdie Jesus wie se Naam ek van die aarde wou uitwis. Hy is die Seun van God, Hy is die langverwagte Messias, Hy is die een wat die dood oorwin het, Hy het as die lewende aan my verskyn”.
Paulus wat daarop kon roem dat hy ’n Israeliet ,’n egte Hebreër en ’n Fariseër was wat onberispelik die wet onderhou het om sy saligheid te verdien, skrywe na hierdie wonderlike ontdekking aan die Filippense : Fil.3: 7 “ Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus Jesus, my Here, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde, ek is vrygespreek , nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo". As Fariseër moes dit vir hom ’n dramatiese ontdekking gewees het. "Ek kan niks verdien nie, in Christus skenk God my alles uit louter genade: Geregtigheid, vryspraak, versoening, vergifnis en nog meer, ook kindskap van God en die ewige lewe. Nie die feit dat ek ’n Jood is of ’n Fariseër is wat onberispelik die wet onderhou nie of enigiets anders nie, maar hierdie Jesus en slegs Hy is die Verlosser wat my in die regte verhouding met God bring”.
Ek doen dikwels aan rylopers wat ek oplaai my voor as iemand wat soekend is na wat ek moet doen om gered te word en hemel toe te kan gaan. Dan kom die antwoorde: Meneer moet die Bybel lees, of bid of kerk toe gaan of hoogstens meneer moet glo in God ( bedoelende God wat die hemel en die aarde geskep het. In ruim 90 % gevalle word nie na Christus se offer aan die kruis verwys nie. As mense net kan ontdek dat as my wetsonderhouding, my offers, gebede en kerkbesoek, selfs my geloof dat God die Skepper en onderhouer van hemel en aarde is, my kon red, dan was Christus se geboorte, lyding en sterwe totaal onnodig. Maar dat Christus en Hy alleen my verlossing verwerf het dit is presies dit wat Paulus ontdek het.
Paulus het hierdie ontdekking gemaak, daarom skrywe hy aan die Korintiërs met hulle talle vraagstukke: 1 Kor. 2 : 2 “ Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” Christus is die inhoud van die evangelie.
2. Hoe reageer mense op hierdie wonderlike ontdekking?
Kom ons kyk eers na die verkeerde of sondige reaksies:
2.1. Hulle is selfsugtig en vertel vir niemand van die ontdekking nie:.
Ek sou talle voorbeelde in ons praktiese lewe kon noem, waar ons weens selfsugtigheid swyg. Meesters op hierdie gebied is hengelaars. Die hengelaar ontdek ’n sloep wat oop gespoel het en waar die galjoene gulsig byt. As Jy hom ontmoet met die groot en vet galjoene en vra waar hy hulle gevang het, dan kom die antwoord dikwels “ Ek het hulle in die see gevang.” Hy wil nie sy geheim weggee nie, want môreoggend staan daar ’n klomp hengelaars op die plek wat hy ontdek het. ’n Mens kan nogal ’n hengelaar vir hierdie selfsug verskoon. Dat iemand egter die verlossing in Christus ontdek en dit nie aan ander wil vertel nie, is onbegryplik.
2. 2 Hulle is skaam om van hul ontdekking te vertel:
Net dat Jesus gesê het dat elkeen wat hom skaam vir My en my woorde vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam, bewys dat dit ’n magtige middel van die vyand is om my te laat swyg. ’n Studentemaat vertel dat toe hulle vir vlootopleiding van Kaapstad na Durban geseil het, het hy gekyk of die ander Bybel lees, maar niemand het oënskynlik ’n Bybel gehad nie. In Durban moes hulle hul bagasie uitpak en toe sien hy dat daar nie ’n enkele een was wat nie ’n Bybel gehad het nie. Ons jongmense wil nie uit wees by hulle groep nie. Groepsdruk maak hulle skaam om vir Christus uit te kom. Paulus vermaan die jonge Timoteus ( 2.Tim 1: 8) “ Jy moet nie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie.”
2.3. Hulle is bang om van hulle ontdekking te vertel:
Petrus was so ’n man. Toe die diensmeisie hom konfronteer dat hy een van Jesus se dissipels is, word hy bang vir wat met hom kan gebeur. Toe verloën hy Jesus met die woord: “Ek ken die man nie.” In die kerkbanke sit baie Petrusse. Die teenoorgestelde van onverskrokkenheid is om lafhartig of om bang te wees. In die vroeë Christelike kerk was daar die paraboelani – die waaghalse. Toe die pes in Carthago uitbreek en mense uit die stad vlug was dit hierdie paraboelani wat die siekes versorg en hulle begrawe het. Hulle was nie bang dat hulle kon aansteek en sterwe nie. Die kerk het vandag weer waaghalse nodig, mense wat onbevrees vir Jesus getuig
Die Heilige Gees maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. ’n Sendeling vertel van ’n ou frisgeboude Sotho wat as hy met sy Bybel in sy hand na hom kom met sy kierie op die grond slaan en hom wegjaag. Op ’n dag ignoreer hy die man en sê: “ Vandag gaan ek met jou oor die Here praat.” Dis toe dat die man sê:” Sit Moruti en vertel vir my van die Here, want ’n man wat loop as ek hom wegjaag, het nie vir my ’n boodskap nie.” Ons geloofwaardigheid lê in ons onverskrokkenheid om die goeie tyding aan ongereddes te vertel.
‘n Groot % lidmate is ten spyte van die wonderlike ontdekking dat Jesus die enigste Verlosser is, dikwels te selfsugtig, te skaam en te bang om vir Hom te getuig. En dan is ons verbaas omdat ons so min vreugde en krag in ons godsdiens beleef.
3. Wat doen Palus met die wonderlike ontdekking ?:
Hy verkondig die evangelie ( Goeie tyding) onverskrokke:.
3.1. Omdat hy verskuldig is om dit te doen
Die 1953 vertaling lui: Tenoor Grieke en nie-Grieke is ek ’n skuldenaar en 1983 vertaling lui: Ek staan onder ’n verpligting teenoor Grieke en nie- Grieke. ( Rom.1: 14)
Hy handel soos die vier melaatse manne tydens die beleg van Samaria. Hulle ontdek dat die Arameërs gevlug het en die buit agtergelaat het. Toe hulle klaar geëet en gedrink en van die skatte begrawe het, het hulle aan die mense in Samaria wat van honger sterf, gedink en vir mekaar gesê: “Vandag is ’n dag van blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”
Paulus kon die goeie nuus nie vir homself hou nie, hy voel hom ’n skuldenaar teenoor hulle wat die nuus nog nie gehoor het nie, “ vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.” ( Rom.1: 15 onselfsugtig). Met onverskrokkenheid wil hy die evangelie aan hulle wat dit nog nie gehoor het verkondig. Dis ’n moet in sy lewe. Met hom was dit soos ons in Jer. 20: 9 lees: “ En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.”
3.2. Omdat hy nie skaam is om dit te doen nie:
“Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo. . . ” ( Rom.1 : 16 ) ’n Mens is nie skaam vir krag nie, jy bewonder krag. Hoe het hy nie op sy sendingreise die krag van die evangelie ervaar nie ? Dink maar aan die tronkbewaarder van Filippi wat die nag homself om die lewe wou bring en toe Paulus vir hom sê : “ Glo in die Here Jesus Christus “ en toe tot bekering gekom het. Of die waarsêers gees vir wie hy sê: “ Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit! Die gees het op dieselfde oomblik uit haar uitgegaan.”
Natuurlik word jy nie van die krag van die evangelie bewus nie, tensy jy dit met iemand deel. Ek het een agtermiddag gehoor dat in die polisieselle op Leonardville ongeveer vyf Botswana’s was wat weens onwettige jag gearresteer is. Ek het die aand na die polisiestasie gegaan en in die aanklagkantoor aan hulle die evangelie gebring. En daar in die dowe lig het ek soos nooit tevore die teenwoordigheid van die Here ervaar nie. Ek sou hierdie kosbare moment gemis het as ek nie gehoorsaam was aan die begeerte om aan hierdie mense die evangelie te bring nie. Dis ’n wet van die Koninkryk van God: Hoe meer jy Jesus aan ander gee des te meer word Hy vir jou ’n heerlike werklikheid.
3.3 Hy was onverskrokke, want die eer van God en die redding van mense was op die spel:
Luister in Rom. 1: 5 na sy passie : “ om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring.” Vers 13 : “om ook by julle net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.” En sou jy vir Paulus vra: “Paulus hoe volhard jy met hierdie passie” dink ek hy beantwoord dit in 2 Kor.5 : 14-15 “ Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het. . . En Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulle self moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf en uit die dood opgewek is". ( 2 Kor.5 : 14-15 ) Ons kan onderskei tussen die liefde virChristus wat jou onverskrokke maak soos ’n moeder wat uit liefde vir haar kind in die vlamme sal spring om die kind te red. Of die liefde van Christus, daardie liefde wat Christus vir verlorenes gehad het en wat in my hart uitgestort is. Die liefde soek immers nie sy eie belang nie. Die liefde van Christus vul hom met passie en maak hom onverskrokke. Miskien moet die Here die skille van ons oë laat val, vir ons wat dikwels so selfgerig , so selfsugtig is die insig gee en ’n visie gee van die nood van mense wat sonder Christus verlore gaan. ’n Visie van verloregaande siele.
3.4. Hy was so onverskrokke dat ontberings hom nie kon stuit nie:
Wat doen Paulus as die sendingpad steil en eensaam en vol ontberinge is. Deins hy terug ? Nee. Luister maar weer wat sê hy vir die ouderlinge van Efese: Hand. 20: 23-24 “ Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig”. Dit spreek van onverskrokkenheid. Toe die profeet Agabus Paulus se gordel om sy eie hande en voete bind en sê: “ So sê die Heilige Gees sal die Jode in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.” En die gelowiges hom smeek om tog nie Jerusalem toe te gaan nie, is sy reaksie: “ Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.” (Hand. 21 : 13.) Nog nooit was die pad van die uitbreiding van Christus se Koninkryk ’n maklike pad nie. Jesus sê vir sy volgelinge : “Julle sal my getuies wees”. En die woord vir getuie (martus) is dieselfde woord wat gebruik word vir martelaar.
Na hierdie wonderlike ontdekking kon Paulus eenvoudig nie swyg nie. Luister wat skrywe hy in 1Kor. 16 :9 “ Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie. Niks kan my stuit nie, allermins nie ontberinge nie”.
Ek het aan die Sending-Instituut op Wellington studeer. Sondag namiddae het ons studente bymekaar gekom om veral te bid vir hulle in die verre sendingvelde van Afrika. Dan het ons afgesluit met die sendinglied: “Jesus liefde laat my heengaan na die heidendom so groot, om te ly te stry te sterwe, want dis sterker as die dood. “ Ja, ontberinge sou daar wees, maar dit het die sendelinge nie afgeskrik nie.
So pak Ds. Ferdi Weich en agtermiddag sy goedjies van sy bakkie en sit dit in die skaduwee van ’n kameeldoringboom naby Tsumkwe met die Boesmans wie se taal hy nie verstaan nie as sy sendingveld. Een aand in Windhoek het hy my so ’n ietsie vertel van sy ontberinge. ’n Ongelooflike verhaal van volharding ondanks ontberinge.
Vir baie jare na sy aftrede het Ds. David Botha en sy vrou Nettie op Pearly Beach die Sendinggemeente bedien. Ds. Botha se pa was sendeling in Nigerië. Met hulle koms na SA vir hulle vakansie elke vier jaar is sy sustertjie langs die pad, waarskynlik aan witseerkeel oorlede. Ds. David is op Wellington gebore. Na 3 maande is sy Pa en na ses maand sy Ma terug na Nigerië. Hy moes by sendingvriende op Wellington agterbly. Na vier jaar sou sy ouers hom vir die eerste keer weer sien. Toe is sy broer gebore en het sy Pa en Ma weer respektiewelik na 3 en ses maande vertrek, Dit sou weer vier jaar duur voordat hulle hul kinders sien. Dis waarom een sendeling se vrou op Wellington se stasie nie haar kindjie na vier jaar herken het nie.
Kan u sien waarom ek byna bewoë raak as die Here die sendingveld tot op ons drumpels stuur en dat ons oënskynlik nie die goeie nuus van die Here Jesus aan hulle vertel nie.
As hier vanoggend iemand is vir wie die Here Jesus die nood van mense wat Christus nie ken op die hart gedruk het, kan u na die diens by my traktaatjies kom kry om aan diesulkes te gee.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.