Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing: Hand.9 : 1-19
Teks: Hand 9 : 1, 4 en 15
Geliefdes, ek loop al lank met ’n bekommernis in my hart rond. Hier op Gansbaai het ek mense uit die Sudan en mense uit Etiopië ontmoet wat sê dat hulle Christene is. Ek het ook twee mans wat van Pakistan kom wat elkeen in ’n selfoon winkel werk,ontmoet. Op my vraag het hulle gesê dat hulle Muslims is. Hier is ook Sjinese en Somaliërs en miskien nog ander wat niks van Christus se verlossing weet nie. My bekommernis is dat die Here hierdie mense tot op ons drumpel gestuur het, maar ek is nie seker of ons met die evangelie na hulle uitreik nie. Ons wat bely dat ons die Here Jesus as ons Verlosser ken en dat ons hom lief het, kom Sondag na Sondag , jaar in en jaar uit, in die erediens bymekaar. Die tergende vraag is : Het ons ’n passie om die blye verhaal te vertel aan hulle wat dit nie ken nie. Ek onthou die verhaaltjie uit my kinderjare. ’n Man wat gesê het dat hy ’n Christen is, was in gesprek met ’n roekelose ateïs. Toe sê die ateis vir die Christen : “As ek glo, wat jy sê jy glo, sal ek dwarsdeur England op glasskerwe kruip om mense van die Here Jesus se verlossing te vertel. In my kommer oor hierdie mense se sieleheil het ek traktaatjies in Engels, Chinees en Arabies bestel wat die weg van verlossing duidelik maak. My diaken het die traktaatjies in my huis gesien en gevra wanneer ek hulle gaan uitdeel. My antwoord was dat ek wil kyk of ek nie ander kinders van die Here ook betrokke kan kry nie. Ek kan dit doen, wil dit doen, maar dan is dit maar een uit die meer as twee duisend lidmate wat betrokke is. Die kerk funksioneer tog nie so nie. Ek wil met my volgende preek, kyk na Paulus se onverskrokke passie vir die evangelie. En dan met ’n uitdaging kom.In aanloop tot daardie preek wil ek vanoggend ’n bietjie na Paulus se lewe kyk.
1. PAULUS DIE VERSKRIKLIKE MAN
Ja, ons weet van Paulus die skrywer, die reisiger die sendeling en die man met sy talle ontberinge. Paulus die skrywer van 1 Kor. 13 oor die liefde. Paulus se lewe het ook ’n anderkant gehad.
Die eerste keer wat ons hom ontmoet was by die steniging van Stefanus die eerste christenmartelaar. Dan lees ons in Hand. 7. “ Die getuies het hulle klere neergesit by ’n jongman met die naam Saulus.”’ Dan begin Hand. 8 met : “Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur.” Miskien instemmend geknik, miskien selfs diegene geprys wat Stefanus gestenig het. En in vers 3 :”Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.” Baie jare later vertel hy vir koning Agrippa : “ ( Hand 26: 9 en 11) “ Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret…Dikwels het ek hulle in die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het.” Tereg kan ’n mens hom ’n verskriklike man noem. Deur die hewige vervolging is die Christene van Jerusalem uitmekaar gejaag. Hand 9 begin met : “ Intussen het Saulus soos ’n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig.” Met bekendstellingsbriewe van die hoëpriester in sy sak is hy op pad na Damaskus. Daar wou hy die gelowiges, mans sowel as vroue, gevange gaan neem en na Jerusalem te bring. Die nuus van sy koms na Damaskus en die doel van sy koms het die groepie gelowiges in Damaskus bereik. Miskien was van hulle juis vlugtelinge uit Jerusalem weens die vervolging van hierdie verskriklike man. Daar sou by die gelowiges gewis angs en spanning gewees het oor die koms van hierdie verskriklike man.
Die geskiedenis is vol van verskriklike mense wat die kerk van die Here Jesus vervolg het. Herodes wat Jakobus met die swaard laat dood maak het en Petrus in die tronk laat gooi het. Die wrede keiser Nero wat Christene met pik laat besmeer het en hulle dan lewend aan die brand gesteek het om sy tuinpartyjies te verlig.
Paulus se vervolging was godsdiens gedrewe .Hy was ’n Fariseër. Die mense wat die wet van God uitgebrei het tot 248 “ moets” (getal ledemate van die mens se liggaam) en 365 “moenies” (soveel dae in ’n jaar). ’n Totaal van 613gebooie, (soveel letters as wat daar in die 10 gebooie is). Dit is wat ’n wettiese godsdiens wat hy fanaties beoefen het en waar die uitwissing van die Christene sy hoogste ambisie was. ’n Verskriklike man.
Dit was ook radikale Katolieke wat op 23 Augustus 1572 op Batholomeusnag ( Paryse bloedbruilof) 100de Protestante vermoor het,en in die volgende maande moes 20 000 Hugenote vir hulle geloof sterf. My eie voorouers het ter wille van hulle geloof na Holland gevlug en vandaar na SA gekom. Baie Suid-Afrikaners se voorsate was Hugenote vlugtelinge uit Frankryk. Tans is dit die Islamietiese ekstremiste groepe soos Boko Haram wat op die wreedste wyses Christene vervolg.
Gelukkig het ons die troos om te weet dat Christus die eerste groot Christen vervolger se lewe radikaal verander het en hom ’n ander passie gegee het.
Dit bring ons by die 2de gedagte
2. PAULUS DIE VERSKRIKTE MAN
Dit word gesê dat die pad wat Paulus na Damaskus gegaan het, berug was vir elektriese storms (donderstorms en weerlig) wat daar voorgekom het. Hy het daardie dag al die meeste van die 140 myl lange reis, ongeveer ’n week te voet, voltooi. Dan skielik straal ’n lig uit die hemel. Dit is nie die van natuurkragte nie, daar is ’n stem wat met hom praat. Verskrik val Paulus op die grond en vra : “ Wie is U, Here ?” Dis vir my opvallend dat Jesus 2 keer vir Paulus wil laat insien dat hy in die eerste instansie nie die kerk vervolg nie, maar vir Jesus.
…”waarom vervolg jy My… Dit is vir My wat jy vervolg”. Daar lê Paulus op die grond – verskrik, die mense by hom sprakeloos en hy blind. Nogal ’n patetiese figuur as mens hierdie blinde man se hand vat en Damaskus inlei.
Ek lees van ’n supermark waar die rowers op mense begin skiet het en hulle verskrik was. Maar Paulus was om ’n ander rede verskrik: Dit het te make gehad met die vrese van die Here, die diepe ontsag vir die Here, die eerbied en respek vir Hom. Iets wat in ons dag baie skaars is.
Vyf en dertig keer kom in die Bybel die uitdrukking voor : “ God se magtige teenwoordigheid.” As Moses bewus word van God se teenwoordigheid by die brandende braambos, dan bedek hy sy gesig. As Jakob by Betel die droomgesig het dan sê hy : “ Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” As Jesaja die Here op ’n hoë troon sien sit, dan roep hy uit : “: Dit is klaar met my! Ek is verlore!” As Petrus op bevel van Jesus die net aan die regterkant te gooi die wonderlike visvangs beleef, roep hy uit : “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige mens.” As Jesus op die eiland Patmos aan Johannes verskyn dan lees ons : “ Toe ek Hom sien, het ek by Sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. “
Een van ons gesange lui : Heilig is O, God u wese, reiner as die son se lig, engele selfs in heil’ge vrese, dek voor U die aangesig.
Wat het van eerbied en ontsag vir die Here geword.? Of is ons godsdiens so ordinêr, verkeer ons met God so familiêr, is ek self so groot en belangrik dat God vir my klein geword het, dat ons nie meer iets van hierdie skrik vir die Here beleef, die vrese vir die Here ervaar nie. Wie nie iets weet van met skrik en bewing voor die Here staan nie, sal voortgaan om sonde te doen sal onbetrokke wees by die uitbreiding van God se koninkryk.
Die vraag van die berouvolle man aan sy medekruiseling wat Jesus bespot:"Vrees jy ook God nie", moet soms ook aan onbetrokke selftevrede kerkmense gestel word. Mense gaan rondom jou verlore en jy doen niks nie: Vrees jy nie God nie?
3.PAULUS DIE GESKIKTE MAN :
As die Here vir Ananias na Paulus stuur, dan protesteer hy : “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo in Jerusalem aangedoen het.” Die Here snoer egter Ananias se mond: “Ek het hom gekies as my werktuig.” Wonderlik! Mense wat ons nooit sal kies nie, nog minder die kortlys sal haal, hulle word deur die Here gekies!
Wat maak mense geskik as werktuig van die Here ?
Daar is ’n paar dinge:
1. Hy het ’n ontmoeting met die Here gehad:
Die grootste ramp wat die kerk deur die eeue getref het, was nie vervolging nie. Dit was toe Keiser Konstantyn die Christendom as staatsgodsdiens verklaar het. Voor daardie tyd is die kerk wreed vervolg. In die tyd van vervolging het mense die duur prys van Christenskap bereken en aan die kerk behoort omdat hulle Jesus so liefgehad het dat hulle bereid was om vir Hom te ly en te sterwe. Toe Konstantyn die Christendom as staatsgodsdiens verklaar, het onbekeerde mense na die kerk gestroom. Mense wat nie die Here geken het nie en nie die Here liefgehad het nie het by die kerk aangesluit en hulle het geen getuienis gehad dat hulle die Here ontmoet het nie en daarom ook geen passie om ander van Jesus die Verlosser te vertel nie. . .
Natuurlik het ons nie almal so ’n Damaskus ervaring soos Paulus nie, maar dit neem nie weg dat ek ’n ontmoeting met die Here Jesus moes gehad het. Dat ek soos die blindgebore man moet kan sê : Een ding weet ek dat ek blind was en nou kan sien. Daardie dag toe die twyfel uit my hart verdwyn het en ek die vrede ervaar het by die wete dat ek aan Hom behoort. Daardie dag toe ek onvoorwaardelik my lewe vir die Here Jesus gegee het. Daardie dag toe ek Hom in my lewe ingenooi het. Noem dit bekering of volle oorgawe of iets anders, maar ’n ontmoeting met die Here Jesus is die onvervangbare vereiste om geskik te wees as sy werktuig.
2. Hy is deur die Here gekies:
Dis so jammer dat dikwels slegs predikante en kerkraadslede as geroepenes van die Here beskou word. Hierdie einste Paulus herinner die gelowiges dat hulle medewerkers van God is. As ek die Here ontmoet het, Sy kind geword het, is ek ook deur Hom gekies om Hom te dien. Hy kies ons nie danksy ons bekwaamheid nie, maar ondanks ons onbekwaamheid, die skaapwagtertjie as koning, die ongeleerde vissermanne van Tiberius as sy dissipels, die vervolger van christene as sy werktuig.
Paulus skryf dan ook aan die Korintiërs : 2 Kor.3 : 5 “ Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…” Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes, of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam…”
Hoe wonderlik: God kyk nie na wat Paulus in die verlede gedoen het nie, hy kyk nie na velkleur geleerdheid of bekwaamheid nie. Hy kies my ondanks my beperkinge en begrensinge. En sou u vanoggend : “ Ds. Jy ken nie my omstandighede nie, ek weet die Here roep my om sy getuie te wees, maar die mense wat saam met my werk het nie erg aan die Here of aan die kerk nie”. Dis dan wat Paulus ons herinner : Phil.2 : 15 “ Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld”.
Onthou hoe donkerder rondom ons is hoe helderder kan ons lig skyn
3. Hy is deur die Heilige Gees toegerus:
Jesus se bevel aan sy dissipels was dat hulle in Jerusalem moet bly totdat hulle toegerus is met die Heilige Gees. Niks minder as dit was Paulus se toerusting toe Ananias hom die hande oplê en hy met die Heilige Gees vervul is. As ons Paulus se briewe lees hoor ons altyd van die toerusting deur die Heilige Gees: Die Heilige Gees vul ons met krag en liefde en selfbeheersing, Die Heilige Gees lei my, skenk aan my gawes, laat my vrugte dra, staan my by in my swakhede en veel meer . Vervulling met die Heilige Gees is onontbeerlik ononderhandelbaar as werktuig van die Here Jesus. Ja, dis nie deur krag en geweld dat ek iets vermag nie, maar deur die Heilige Gees.
4. Hoor vanoggend in die jaar 2015 in die kerk op Gansbaai. Jy is my verkore werktuig. En antwoord : Hier is ek Here gebruik my!
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.