Seestrome 2015: Ouderdom en veranderinge. Al verander dinge, God verander nooit!

Seestrome 2015: Ouderdom en veranderinge. Al verander dinge, God verander nooit!

NG Kerk Gansbaai

Mense van my ouderdom ( 80 + ) het ongekende veranderinge beleef. In die plek van die griffel en die lei het die rekenaar gekom. In my kinderjare het ek op ’n donkiekar gery en baie, baie  jare later eers op ’n vliegtuig. Dinge soos ’n radio, yskas, elektrisiteit was onbe-kend. So ook slaghuise en bakke-rye . ’n Bode te voet of te perd moes die doodstyding uit die kontrei  bring en die brief was omtrent die enigste kommunikasie-middel met iemand wat ver was en het lank geneem om jou te be-reik. Telegramme en telefone het veel later gekom en die selfoon nog later. Ons lewe in tye van verandering.

Die ouderdom het te doen met sy eiesoortige fisieke en psigiese veranderinge. Die huis word te groot, die skrif hoe ek die medisyne moet drink te klein, die trappe te hoog, die stoel te laag, die bad te diep, die nagte lank, die geheue kort en die kragte min. Die noem van hierdie dinge spreek nie van negatiwiteit nie, dit is helaas die harde realiteit. Hoe gouer jy aanvaar dat jy nie meer kan doen wat jy gewoond was om te doen, des te beter vir jou;

              “Word jou opinie nie meer gevra

              moet jy tog nie daaroor kla

              hou op om immer te wil kritiseer

              dis deur foute  maak wat mense leer.”

S.J. Pretorius het ’n gedig geskrywe met die titel Die Skoolhoof. Dit handel oor die populêre skoolhoof wat afgetree het en na jare na die skool teruggekeer het as assistent. Ek haal ’n paar reëls uit die gedig aan:

            “ Hy het sy hand weer laggend uitgesteek

              maar haastig het die hande by sy greep

              verby gegryp na iemand agter hom

              die drukte om hom het meteens verstom

              om iemand anders het hul saamgedrom

              So regop soos hy was het hy verkrom

              sy grappies was bedaard of sonder sout

              hy’t nooit besef die winters is so koud

              só eensaam by die tafel in sy jas

              as hy sy broodjies uithaal uit sy tas”

Die verandering wat die meeste bekommernis wek, is die voor

laaste trek. Die laaste trek is AVBOB  of ander se verantwoordelikheid. Die voorlaaste trek is ’n ander storie. Die belangrike vrae is die wanneer en die waarheen.

Hierby kom ook die kwelling oor wat laat ek staan en wat kan saamgaan. Dinge waarvoor jy hard gewerk het, dinge wat vir jou kosbaar is omdat jy dit met afknypgeldjies gekoop het of as presente ontvang het, word skielik nutteloos en oorbodig.

Wat mag ek saamneem?  Ja miskien darem my bedkassie en my Bybel om my te vertroos en die potjie Vicks vir die moontlike griep en die pille, ja die pille wat jy nie kan onthou of jy dit al vanaand gedrink het of al twee maal gedrink het nie. Jy sou so graag jou bed waaraan jou liggaam oor soveel jare gewoond ge-raak het, wou saamneem. Maar nee, dis taboe. Hierdie voorlaaste trek is baie erger as toe ek as plaasseuntjie vir sub. A na die armsorgkoshuis gegaan het en eers na ’n kwartaal weer my ouers sou sien.

In my debuutbundel Namakwaland tot Overstrand het ek ’n gedig geplaas met die titel: Haar laaste trek. Dit handel oor ’n bejaarde weduwee die aand voor haar vertrek na die tuiste vir bejaardes. Hier volg ’n aanhaling uit die slot van die gedig:  

             “Teen die muur hang nog hulle troufoto

              met oë verdof weens haar ouderdom

              en betraand weens haar groot verlange na wat verby is

              sien sy omtrent net die buitelyne

              môre sal sy dit ook inpak

              sy wou so graag die stoel

              waarop haar man altyd gesit het, saamneem

              maar in die klein kamertjie in die tuiste vir bejaardes

              is daar nie plek nie

              Sy peins oor dit wat sy nie meer het nie

              en dit wat sy moet agterlaat

              dan kom daar ’n vonkel in haar oë

              sy wag mos op die eintlike trek

              die trek na haar Vader se huis met sy baie woonplek".

In my kinderjare is die destydse gesang 22 altyd by die graf gesing: “ Rus, my siel, jou God is Koning, oral voer Hy heerskappy; alles wissel op sy wenke, onveranderlik is Hy.”

Dat God ten spyte van dinge wat verander -  eeue oue kompas-se wat geïgnoreer word, bakens wat verskuif word en norme wat oor boord gegooi word - die onveranderlike God bly. Dit is ’n geweldige troos. As onveranderlike sal Hy, onwrikbaar in sy trou, altyd sy beloftes hou. Hoe dinge ook al verander, God, my God, verander nooit!  Halleluja!             

 

 

Seestrome 2015: Ouderdom en veranderinge. Al verander dinge, God verander nooit!

Ds. Dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai