Seestrome 2015: As bewakers van die lewe . . . God se plan met die mens

Seestrome 2015: As bewakers van die lewe . . . God se plan met die mens

NG Kerk Gansbaai

Wie of wat is die mens? Die tweede skeppingsverhaal in Gen. 2 hou hom spesifiek besig met hierdie belangrike vraag. Lees ons verse 4b tot 7, ontdek ons dat die verteller wil sê dat die skeppingswerk nie kon vorder voordat die mens daar was nie. Voordat daar struike en plante en bewerkbare grond kon wees, moes daar eers ‘n mens wees.  Daarom het God eerste aan die werk gespring om ‘n mens te maak. Maar net soos daar geen skepping kon wees sonder ‘n mens wat dit bewerk nie, net so kon daar geen mens of skepping wees sonder God wat skep nie. Die Skepper-God het die mens met sy eie vingers gemaak, Sy eie asem in die mens ingeblaas. So ontstaan daar ‘n intieme verhouding tussen God en mens. Ons verhouding met God maak dat ek en jy as mens waarde het. Om sinvol mens te wees, om waarlik mens te wees, is om in die eerste plek in God geanker te wees, m.a.w. om sinvol mens te wees is om in verhouding met God te leef.

Volgens Gen. 2 is dit egter  nie die enigste verhouding waarin die mens staan nie. Volgens verse 8-9 skep God ook ‘n intieme verhouding tussen die mens en die omgewing. Deel van hierdie verhouding tussen God en die omgewing, is die opdrag om die tuin te bewerk en op te pas. Om sinvol mens te wees, is ook om te arbei, om die skepping wat God aan ons gee te bewerk.  Ons verhouding met die skepping is ook ‘n arbeidsverhouding. Maar nou kan ons sê: Ek verstaan dat ons die skepping moet bewerk, maar waarteen moet ons die skepping oppas?  ‘n Mens bewaak net iets wat bedreig word. Wat kan  dan God se tuin bedreig? Vers 9 sê daar staan twee bome in die middel van die tuin: die boom van die lewe en die boom van alle kennis. Wat belangrik is, is dat ons hier die teenstelling tussen die twee bome sal sien. Die een boom dui op die lewe en die ander verteenwoordig die dood, want wie van sy vrugte eet, sterf.  Wanneer God die mens in die tuin plaas, staan die mens tussen hierdie twee werklikhede: dood en lewe. Al wat die verskil maak tussen lewe en dood, is die keuse wat die mens uitoefen. Kies die mens om van die boom van alle kennis te eet, bring hy die dood die tuin binne. As die mens dus die tuin moet “bewaak”, “oppas”, is dit teen die dood wat hy dit bewaak.

Die mens staan in verhouding met God en die skepping wat hy moet bewerk en bewaak teen die dood. Maar ten spyte van die mens se verhouding met God en natuur en sy arbeid, was die mens alleen. In vers 18 besluit God om ‘n hulp vir die mens te maak.  Eers skep God die diere en so ontwikkel daar nog ‘n 

verhouding, naamlik  tussen Adam en die diere. In verse 21-22 skep God die vrou. Toe Adam haar sien, sê hy: ”been van my been, en vlees van my vlees”. En so ontstaan daar ‘n verhoudng tussen Adam en sy medemens. Wie is die mens? Die mens is ‘n verhoudingswese. Die mens is waarlik mens as hy in die regte verhouding staan met God, die natuur, arbeid, die diereryk en sy medemens. In al hierdie verhoudings moet die mens die bewaker van die lewe wees. Die mens moet sorg dat die dood nie hierdie verhoudings binnetree nie.

Maar dan lees ons aan die begin van Gen. 3 die verskriklike inlei-dingswoord ”Maar”. Die mens het in die waan dat hy God kan word, gekies om te eet van die boom van alle kennis. In ‘n oogwink is al die verhoudinge waarin die mens gestaan het, deurgesny en het die mens opgehou om ‘n sinvolle bestaan te voer; trouens die mens het gesterf.

Baie mense dink God was in Gen. 3 baie genadig toe die mens nie gesterf het nadat hy van die vrugte geëet het nie. Maar lees ons die verhaal reg, ontdek ons die mens het inderdaad gesterf. Hulle het wel nog asemgehaal, bestaan, maar die mens het opgehou om sinvol te leef. Want om waarlik te lewe, is om verantwoordelik-heid te aanvaar vir alle lewe op aarde: plante, diere en medemens. Om te lewe beteken om vir die lewe te sorg, beteken om in verhouding te staan tot alle ander vorme van lewe. Die oomblik dat jy nie meer vir alle lewe op aarde sorg nie, steek jy die verbode vrug in jou mond en dan sterf ons en dit is presies wat in die tuinverhaal gebeur het, die mens het gesterf in al sy verhoudinge.

Paulus sê ons is almal Adamskinders en daarom deel ons almal m.a.w. in hierdie doodskeuse. Maar watter soort plan het God gemaak om ons van hierdie Adamskeuse te bevry? Oor die plan van God is die Bybel baie duidelik. God het self mens kom word deur sy Seun Jesus Christus. Hy wat self gesê het: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed”. Soos die dood deur een mens in die wêreld gekom het, so het die lewe deur een Mens in die wêreld binnegekom. Christus het mens geword sodat die mens weer deel kan hê in sy goddelike natuur. Deur Christus is alle verhoudinge herstel.

Deur Christus blaas God as’t ware weer van sy lewensasem in ons. Ons is nie meer heilig nie - alle verhoudinge rondom ons is besoedel. Maar as ‘n mens weergebore word, besef jy jy bestaan in God. Jy besef die lug en die bome en die water en ons mede-mense het almal met God te make en is daarom heilig.

Deur wedergeboorte kry God nie ‘n plekkie in my lewe nie, maar kry my lewe ‘n plek in God. God het mens kom word om ons waarlik mens te maak wat in Hom bestaan en by Hom woon - ja, Hy het mens geword sodat ons weer die bewakers van die lewe kan wees.

 

Seestrome 2015: As bewakers van die lewe . . . God se plan met die mens

Ds. Willie Kotze

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai