Betlehem

Betlehem

NG Kerk Gansbaai

Luk. 2 : 15 “ Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het.”

Ek wil u nooi om vanoggend na ’n klein plekke met die naam Betlehem wat beteken Huis van brood, te gaan. Dis na Betlehem as die geboorteplek van Christus wat die profeet Miga ons wys. Na Betlehem  moes Josef en Maria gaan om hulle te laat inskryf. Na Betlehem lei die ster die wyse manne, na Betlehem gaan die herders om die Christuskind te vind. Oor Betlehem word  7 dinge gesê. Elkeen begin met die letter V.

1.     Betlehem is die plek van VERDRIET.

Die eerste keer wat ons van Betlehem in die Bybel lees, handel dit oor die veelbewoë geskiedenis van Jakob.  Daar op pad na Betlehem moes Ragel, Jakob se lieflingsvrou geboorte skenk. Die bevalling is so swaar dat sy sterwe, maar voor sy haar asem uitblaas noem sy die seuntjie Ben-Oni – seun van smarte. Dan lees ons : “ Ragel het gesterwe en is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. “

 Duisende jare later sou Betlehem weer die plek van verdriet wees. Herodes laat alle seuntjies onder twee jaar in die omstreke van Betlehem vermoor. Daar is weer moederangs en moeder- smart, gekerm, gehuil en groot gejammer.  Matheus  skrywe :” Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie omdat hulle nie meer daar is nie. “

By Betlehem  gaan dit nie net oor jolyt en plesier nie. Oor die krip val die skaduwee van die kruis. As ons krip en kruis skei  verval Kersfees tot iets bloot emosioneel of sentimenteel.

2.     Betlehem die plek van VERERING :

Vir Samuel beveel die Here : “ Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe om onder die kinders van Isai vir my ’n koning te salf.” En by Betlehem val  hierdie eer die skaapwagterseun te beurt. Dawid word gesalf en vereer as koning.

Dan verloop duisende jare tot een nag toe die engele op die velde van Efrata sing oor ’n koning wat gebore is - Eer aan God. En die ster kom bokant Betlehem staan en die wyse manne vereer die Kind as koning.

3.     Betlehem plek van VERTROOSTING :

By Betlehem kom op ’n dag ’n vrou met haar diepe hartseer. Sy het haar man en twee seuns deur die dood verloor. As die vroue van Betlehem haar Naomi noem, protesteer sy : “ Noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. “ Maar in Betlehem word haar bitter in soet verander. Hoe? Deur die geboorte van ’n seuntjie. Rut, haar skoondogter trou met Boas en klein Obed word gebore.

Dan tel Naomi die kindjie op haar skoot en neem hom as haar eie aan terwyl die vrou sê : “ Mag hy vir jou vreugde bring.” Ja, die seuntjie van Betlehem het Naomi vertroos, het haar bitter in soet verander.

As Matheus sy Kersverhaal skrywe vind ons Obed se naam in Jesus se geslagsregister.  Johannes skrywe dat deur Jesus aan te neem word ek God se kind en die Kategismus sê dat my enigste troos in lewe en sterwe is dat ek aan die Here Jesus behoort.

4.     Betlehem die plek van VREUGDE:

By Betlehem bring die engele die goeie tyding van groot blydskap oor die geboorte van die Verlosser. Die vraag is wat is dit wat ’n mens waarlik gelukkig maak? Daar is die verhaal van die koning wat baie geliefd was. Sy onderdane sien toe dat hy baie ongelukkig was. Hulle het alles probeer om hom gelukkig te maak, maar tevergeefs. Hulle kry toe die raad dat hulle iemand moet soek wat baie gelukkig is en dan vir die koning die man se hemp aantrek. Dit sal hom gelukkig maak. Hulle vind toe in ’n krotbuurt ’n man wat straal van geluk. Hulle bied hom ’n som geld aan om sy hemp te koop, maar hy weier. Hulle verdubbel die bedrag, maar steeds weier hy. Hulle noem nog ’n groter bedrag en toe sê die man dat hy nie ’n hemp het nie. En so was dit inderdaad. Toe hy sy baadjie, verweer deur die reën en son en sweet  oopknoop, het hulle sy naakte liggaam gesien. Die verhaal  wil ons laat insien dat ons geluk nie afhanklik is van dinge soos geld, goed, roem , prestasies of genotmiddels nie.  Jesus is die bron van ons blydskap. In Hom kan ons, ons altyd en onder alle omstandighede verbly.

5.      Betlehem die plek van VREDE:

Soos ’n goue draad word deur die Bybel die geboorte van Christus met vrede verbind. In Jesaja word Hy die Vredevors gebring en by Betlehem sing die engele van vrede op aarde.

As ons dink aan die oorloë wat tans in Irak en Sirië woed, dan sien ons min van hierdie vrede. Miskien kan ons die vrede verstaan in die verhaal van iemand wat vir ’n skilder gevra het om vir hom ’n toneel van vrede te skilder. Die skilder het na hom gekom met ’n skildery van ’n plaasdam . Daar was nie ’n rimpel op die water nie, die vinknessies het sonder beweging oor die water gewieg en langs die dam het beeste rustig gelê en herkou. Die man het egter gesê dat dit mooi is , maar hy het iets anders verwag. Na maande het die skilder teruggekeer met ’n skildery van ’n waterval waar die water met duiselend wekkende spoed teen die loodregte kranse na bende stort. Dig teen hierdie waterval het ’n voëltjie rustig op haar nessie gesit. Hierdie keer was die man tevrede, want vrede is nie die afwesigheid van storms en krisisse en traumas nie, maar dat jy ondanks hierdie dinge vrede ervaar. Die vrede wat die Kind van Betlehem skenk , is vrede ondanks siekte, die dood van ’n geliefde , ’n finansiële verlies of ’n gebroke verhouding. Daarom is die vrede wat Jesus skenk ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

6.  Betlehem die plek van VERLOSSING:

Die boodskap van die engele was: “ Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid, die Verlosser gebore.” Maria moes die kindjie Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Verlossing van sonde is die hartklop van die geboorte van Jesus in Betlehem. Jesus  wat verlos van die smet en die boeie en die straf van sonde.

Deur die verlossing van die Kind van Betlehem is daar vir my troos en vreugde en lewe. Ja ,in Betlehem – Die huis van brood, is Hy gebore wat gesê het. “Ek is die brood van die lewe".

7. Betlehem die plek van VOORUITSIG :

Toe die profeet Miga ( Miga 5) voorspel het dat Christus in Betlehem gebore sou word, was daar seker die verwagting dat die Messias spoedig sou kom. Dan word Miga opgevolg deur ses profete en daarna verloop nog 400 jaar. En dan gebeur dit, in Betlehem word die verwagting vervul, Jesus is gebore.

Op Kersdag kyk ons terug na Christus se geboorte in Betlehem, maar laat my ook vorentoe kyk na die wederkoms van die Here Jesus. Op die belofte van Jesus : “Kyk ek kom gou!”  Roep die kerk, sy bruid. “Amen! Kom Here Jesus.”

En wat ’n wonderlike verwagting en vooruitsig, dit laat ons jubel “ Sion hoor die feesgesange. Ons hart klop bly en vol verlange. Kyk die dag breek oor die kruine, ons hoor die klank van feesbasuine. Hy daal na ons toe neer. God Seun en onse Heer. Halleluja- Hy kom ons haal, Hy kom ons haal. Ons vier met Hom die bruilofsmaal.

Mag Kersfees vir u ’n voorsmaak wees van die ewige fees, die bruilofsmaaltyd saam met Jesus wat in Betlehem vir ons gebore is. Amen.

Betlehem

Ds. Dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai