Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Pinkster 2017 : Hoekom gaan ons kerk toe
Ons ervaar die goedheid van die Here
Teks: Romeine 8:31-39
Ons tema is hoekom gaan ons kerk toe. Een van die redes is om die goedheid van die Here te ervaar. Ps 34: ... om letterlik die goedheid van die Here te proe. Die erediens is veronderstel om so ‘n geleentheid te wees. Om natuurlik die goedheid van die Here te ervaar deur die aanvaarding van medegelowiges, die goedgesindheid, die goedheid te ervaar deur die verloop van die diens. Dink hier aan die seëngroet in die begin, dink aan die seën aan die einde, dink aan die sang en die gebede, maar veral natuurlik ook deur die verkondiging van die Here se Woord. Daarvoor lees ons veral die Bybel tydens die erediens. En verkondig ons die Woord ... eintlik alles om te hoor hoe goed die Here is.
Die goedheid van die Here is die hele Bybel vol. Van die verhaal van die skepping tot by die vertel in Openbaring van die nuwe hemel en die nuwe aarde wil dit beklemtoon die Here is goed. Ek lees weer in hierdie dae dat Luther die volgende gesê het. “Ons is deur God se goedheid uit niks geskep en word nog daagliks deur sy goedheid teen die niks bewaar” Daarmee sluit hy hom aan by ‘n lang tradisie binne die Christendom. Daarvolgens bestaan die wonder van die skepping nie net maar in die oorspronklike skeppingsdaad nie, maar ook in die onderhouding daarvan elke dag. Die skepping elke dag is wonderbaar, ‘n genadegawe van die goeie God. Om elke oggend jou oë oop te maak na die nag is ‘n wonder. Dis genade, goedheid, en nie vanselfsprekend nie. Ons kom deur God se goedheid in die wêreld en word deur sy goedheid opgeneem as ons sterwe. Ps 59 prys die Here vir die skepping: “Maar ek sal sing van u mag, elke dag sal ek jubel oor u trou”. Die erediens is die geleentheid om die Here daarvoor te dank en telkens deur die Woord daaraan herinner te word.
Maar natuurlik hoor ons ook van die Here se besondere genade deur Jesus Christus, ons Here. Ons word telkens daaraan herinner oor die plan van God met hierdie wêreld, en dat Hy nie hierdie wêreld prys gegee het en ook nie vir ons nie. Daarom moet ons as gemeente die Here daarvoor dank. In Romeine 8:31 staan: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees.” Paulus vra die vraag na aanleiding van skrywe in die voorafgaande hoofstukke oor die genade van die Here soos bewys deur Jesus. Daaruit is dit duidelik dat Gods genade in staat is om elke vorm van teenstand teen Sy heilswil met die mens te oorwin. Uit die feit dat Gods genade die gelowiges uit skuld verlos. Dink aan Rom. 3 en die mag van die sonde, dink Rom. 6, dink aan Rom. 7 ... “En hulle voer tot ‘n lewe in die genade”. Dink aan Rom. 8 Die apostel Paulus kan net een ding aflei ... dat God vir ons is. God blyk in die daad van Sy liefde ons goedgesind te wees. Dink aan die pragtige vers in Titus 3:4: “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser verskyn en Sy liefde vir mense ... Die gedeelte wil sê dat ons straf verdien het, want ons was op die verkeerde pad. Maar dit wil dan sê die goedheid van die Here het ons behou. En dit het gebeur ten spyte van ons was. Hy wou ons red, dit was sy goeie bedoeling met ons. En toe maak God hierdie goedheid sigbaar ... deur die koms van Jesus. In die verband lees ek die woorde in die geloofsbelydenis van Nicea oor Jesus: “ ... en in Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle eeue ...” en dan die merkwaardige woorde: “wat ter wille van ons mense en ons saligheid neergekom het uit die hemel”.watter merkwaardige woorde ... “wat ter wille van ons mense neergekom het uit die hemel”. Dit wil sê God is nie maar net nie, nee, Hy as Skepper is ons ter wille. Dis die evangelie. Soos Luther sou sê: “Die SkepperGod is ons Vader, Hy is in Jesus my Vader”. Ter wille van ons, van my, ook vir my, vir almal. Daaroor moet ons nie te klein dink nie. Die ons in is vir ons, is vir almal. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Hoe het Jesus in sy bediening dit dan ook nie bevestig nie. Dink aan sy prediking, sy lewe, sy deernis met mense. Die hele erediens staan in die teken daarvan. En veral help die verkondiging van die Woord om die aandag daarop te vestig. Die erediens en by name die woordverkondiging is daar om ons aan die goedheid van die Here te herinner.
En nou is veral herinner so belangrik. Want in die onthou, in die herinnering, die voortdurende weer vertel van die liefde van God in Christus word die gemeente elke keer herinner om nooit te vergeet nie, hoe goed die Here is nie. En hoe nodig is dit nie, in die wêreld waar twyfel so algemeen is. Daar is regtig mense wat ‘n diepe twyfel ervaar of daar enigsins goed is in die wêreld. Of daar selfs ‘n goeie God is wat omgee, wat vir ons is. Daarvoor is daar baie redes: die onbegryplike lyding van die lewe. Om ‘n voorbeeld te noem, verskillende mense worstel met verskillende vrae. Ook natuurlik ons, ook ons kan twyfel, maar dit is die erediens en ook die verkondiging van die Woord wat as‘n ware ‘n oriënteringspunt is waar jy hoor van die goedheid van die Here, veral soos bewys deur Jesus Christus. Ek lees net weer in die dae oor die rol van die aanbidding as ‘n geleentheid om oriëntasie. ‘n Geleentheid om in die regte rigting te kyk. Daarom is talle kerke byvoorbeeld gebou op ‘n oos-wes as met die altaar of die preekstoel aan die oostekant. Tydens elke erediens is gelowiges dus letterlik georiënteer om na Jerusalem te kyk en te verseker te word van al die gebeure rondom Jesus daar. En so weer opnuut te weet daar is ‘n goeie God, daar is rigting, daar is sin en betekenis. Die ou Halluluja lied lui: “... bring my die ou ou tyding, bring my die tyding dikwels, want ek vergeet so gou, lank voor die middaghitte smelt reeds die moredou. Bring my die tyding telkens sodat dit my kan wees ‘n bron van troos en sterkte veral in smart en vrees. Bring my dieselfde tyding en wil my dan versterk as wêreldsin en sonde in my verslapping werk ...” Hoe nodig het ons dit nie om van God se goedheid te hoor nie.
Wanneer mense kerk toe kom, moet elkeen hierdie goedheid, hierdie vriendelikheid en goedheid by ander ervaar. Hoe belangrik is dit nie. Mense mag net nooit voel hulle het nie welkom gevoel nie. Daar moet ook moeite gedoen word daarmee. Almal is welkom. Die kerk se deure staan letterlik oop vir almal. Daarom, groet die persoon langs jou in die kerk, meng bietjie na die diens, knoop ‘n geselsie aan. Dit wat die erediens is en ons optrede moenie van mekaar verskil nie. Dieselfde goedheid van die Here waarvan ons so bewus raak tydens die verloop van die diens moet ook weerspieël in die gesindheid van die mense wat die diens bywoon. Daarmee kan nie genoeg moeite gedoen word nie.
Ek sluit af deur weer net te sê: die bedoeling van die erediens is ondere andere om die goedheid van die Here te ervaar. Mag die Here elke erediens gebruik om ons aan sy goedheid te herinner ... en dat ons daardeur bemoedig sal word.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.