Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing: Romeine 8:18-30
Die te doen kry met siekte en dood die laaste tyd, het my weer laat dink oor die mooi skepping waaroor ‘n mens jou maar net kan verwonder, maar aan die anderkant ook oor die gebrokenheid daarvan. En net besef daar is eintlik ‘n groot spanning... soms kan ons so in vervoering raak oor die mooi dinge in hierdie wêreld om dan weer ook so platgeslaan te word oor die stukkendheid daarvan.
Dink oor die wonderlikheid van hierdie wêreld. Luther het oor die wonder van elke dag gesê: “Die lewe is nie vanselfsprekend nie. Dit kon ook anders gewees het. Daar kon ook net niks gewees het nie. Die skepping, die lewe, elke dag, elke môre, is wonderbaar, ‘n genadegawe van die goeie God”.
Hiermee sou hy aansluit by ‘n opvatting binne die Christendom dat die wonder van die skepping nie net bestaan in die oorspronklike skeppingsdaad nie, maar ook oor die wonder van die geskapene, die skepping van elke dag. Om daarom jou oë oop te maak na die nag is ‘n wonder. Dis genade. Om die lig te mag aanskou, die dag te sien breek, die warmte te mag voel, die aktiwiteite rondom ons te ervaar, die voëls te mag hoor sing, mense te hoor praat, om te mag leef is ‘n wonder. Dis genade. Ps 19:1 “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend”. ‘n Mens kan jou maar verwonder en behoort jou ook te verwonder. Die lied Morning has broken like the first morning verwoord die lewensgevoel van verwondering so mooi. Maar natuurlik, hierdie wonderlike skepping, hoe mooi ookal, bly gebroke en dit bly dubbelslagtig, bly dit heerlik en verskriklik. Want die dood bly kleef en klou en knaag aan elke vorm van lewe. Die volgende gediggie sê dit so raak: “n Druppel gal in die soetste wyn, ‘n traan in elke vrolik snaar, in elke lag ‘n sug van pyn, in elke roos ‘n dowwe blaar”. Dit is so waar. Dink maar aan reën, die seën wat dit inbring maar ook die rampe en ellende as dit te veel is.Dink aan die orkane waarvan ons so bewus geraak het. Dink aan die droogte. Dit is baie erg in sekere dele sodat ons dink ‘n ramp wag as die damme nie meer reën kry nie. Dink aan leiers wat korrup is, dink aan talente wat tragies misbruik word, dink aan gesondheid wat ingee, dink aan die mooi van vriendskap wat omslaan in verwydering, dink aan liefdesverhoudinge wat verbrokkel, dink aan gebroke huwelike,dink aan hoe die seën wat kinders meebring ook sorge en hartseer kan bring, dink aan die gawe van kos en drank wat ook kan verwoes en verslaaf. baie voorbeelde kan nog opgenoem word,maar die punt is, die wonderlike skepping is ook op sy beste gebroke. Ons sien en beleef dit.
Nou is dit nou maar soos dit is...en altyd sal wees. Of gaan dit tog verander op ‘n dag. Dit is wonderlik hoe ons maar aanpas by hierdie wêreld en eintlik maar aanvaar dat dit nou maar eenmaal die lewe is. Dit is mooi, maar ook baie baie gebroke. Ons kom eintlik op ‘n manier reg met alles. Ons het so half gewoond geraak daaraan. Half vrede gemaak daarmee. Geleer om te leef met seën en teenspoed, met vriendskap en haat. Dit behoort nie so te wees nie, altans nie vir ons wat Christene is nie. Nie as jy kyk hoe die apostel Paulus hier skrywe nie. As jy kyk na wat ons saamgelees het dan sien jy duidelik dat hierdie spanning van die wonder aan die eenkant van die skepping en aan die anderkant die gebrokenheid daarvan nie iets is wat maar so kan bly nie. Nee, daar word uitgesien daarna dat dit sal verander, dat alles op ‘n dag nuut en volmaak sal wees. Kom ons kyk vir ‘n oomblik: V18 “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie”. En dan skrywe hy in digterlike taal: V 19 “Die skepping sien met gespanne verwagting uit daarna dat God bekend sal maak wie sy kinders is” V 20: “die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Daarom sug die skepping tot nou toe in pyne van verwagting... soos ‘n vrou wat geboorte gee en in pyn verkeer, uitsien na die geboorte, so verkeer die skepping in pyn en sien uit na die nuwe lewe wat sal aanbreek”. Hy skrywe hier amper asof die skepping ‘n persoon is wat kan praat en sien en beleef. Maar hy wil dan net beklemtoon dat die skepping wag vir die nuwe lewe om aan te breek. Dit kan nooit wees dat hierdie spanning maar vir altyd so sal voorduur nie, en dat ons maar verlief daarmee moet neem nie. Maar veral sien jy die belangrikheid daarvan in die volgende verse. V 23: “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God bekend sal maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het”. Ons is immers gered en het nou hierdie hoop. Dit is eintlik merkwaardig wat hy hier skrywe. Ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe. Ons wat in hierdie wêreld leef met ook al sy gebrokenheid het reeds iets gesmaak van die nuwe lewe deurdat ons die Gees ontvang het wat Paulus noem die eerste gawe. Dit laat my dink aan Ef 1:14: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos”. Sien ons het nou hierdie hoop op die nuwe lewe deur die Gees wat aan ons gegee is. Die nuwe lewe is reeds in ons. Ons het reeds iets daarvan geproe. Daarom is dit ontmoontlik om maar net vrede te maak met hierdie spanning. Die uitsien is daar, die verwagting is daar. Dan gaan die apostel Paulus nog verder as hy beklemtoon dat die Gees ons in ons swakheid bystaan, ons wat so te gewoond kan raak aan alles, ons wat maar daarmee saamleef, ons wat so half en half regkom daarmee. Die Gees help ons om te bly hoop deurdat die Gees vir ons help om te bid. Die Gees staan ons in ons swakheid by, want ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie. Hy wil eintlik sê die Gees pleit in ons plek, die Gees sug namens ons met ander woorde die Gees gee die verlange en volharding, die uitsien en geduld. Juis in die aangesig van al die gebrokenheid. Watter genade voel ‘n mens om te sê...
Die die kerk bely oor jare heen:...ek glo in ‘n ewige lewe... (in die woorde van die Apostoliese geloofsbelydenis) Ook in die woorde van die geloofsbelydenis van Nicea:... ons verwag die lewe van die toekomstige eeu. Ons reik uit, ons sien uit na, ons strek ons uit.
Daarom sing ons in die kerk:... ek sien ‘n nuwe hemel kom, ‘n aarde nuut en vry...
En daarom kan ons aansluit by die 9de eeuse gebed: Kom Skepper Gees. Vernuwe u skepping.
Ja, hierdie skepping is aan die eenkant iets om jou oor te verwonder. Aan die anderkant ook iets wat jou verbyster. Daar is hierdie spanning, maar daar is ook hierdie verwagting, hierdie hoop dat die Here deur Sy Gees alles sal nuutmaak.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.