Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
2 Kon. 7 : 9 “Ons maak nie reg nie...” ( 1933 ) “Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is ’n dag van goeie boodskap, en ons bly stil!. As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan.“
Die Here gebruik soms die geringes om iets groot te doen. Toe die reus Goliat die Israeliete uitgedaag en verneder het, was geen soldaat bereid om hom aan te durf nie. Toe gebruik die Here die skaapwagterjie Dawid om hom te verslaan. Toe die Midianiete in hulle menigte teen Israel veg, gebruik die Here vir Gideon met sy 300 man om hulle te verslaan. Toe Nebukaneser onder sy wyse raadgewers niemand kon vind om sy droom uit te lê nie, gebruik die Here vir Daniël, die jong Joodse banneling. Toe die dissipels radeloos is oor die derduisende honger mense gebruik die Here ’n seuntjie se 2 vissies en 5 brode om die skare te voed. Ons sou hierdie voorbeelde kon vermenigvuldig.
Niemand is ooit te nietig en niks is te minderwaardig om deur die Here gebruik te word nie. Dit was ook die geval met die 4 melaatse manne.
In hierdie verhaal vind ons ’n spanningsdrama in 4 bedrywe:
As die gordyn vir die eerste toneel oopskuif dan sien ons:
1. ’n Stad in ’n noodsituasie:
In antieke tye was dik mure om stede gebou om die stad te beskerm. As die vyand die stad wou inneem is stormramme gebruik. So ’n stormram was ’n dik boomstam met vooraan ’n metaalpunt. Sterk manne het dan met hierdie stormram gehardloop en teen die muur gestamp tot dit meegegee het. Daarom is stede teen hoogtes gebou sodat dit nie so maklik bestorm kon word nie. Juis daarom is Samaria teen ’n heuwel 100 meter bokant die vallei gebou.
’n Ander ding wat die vyand gedoen het was om die stad te beleër en die water en voedselvoorsiening na die stad te keer. Dit is wat hier in Samaria gebeur het.Die Arameërs het sodanig die voedsel voorsiening afgesny dat daar groot hongersnood in die stad was. Baie mense het al van honger gesterf.
Die koning het sy klere geskeur, rouklere onder sy klere aangetrek en op die stadmuur gaan loop. By so ’n geleentheid het ’n vrou uitgeroep: “Help my asseblief U Majesteit“ Sy antwoord was egter: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help.” Die kop van ’n donkie is ten duurste as voedsel verkoop. ’n Moeder het selfs haar kindjie gekook en geëet. Soos dit so dikwels in sulke omstandighede gaan is ’n sondebok gesoek en die koning wou die profeet Elisa hieroor doodmaak. Die koning het selfs die Here blameer vir hierdie situasie. ”Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop! ”Ja dit was ’n tyd van uiterste ellende, spanning, radeloosheid en wanhoop. As Elisa voorspel dat daar die volgende dag meel en gars in die stad te koop sal wees, is die adjudant van die koning se reaksie: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën. So eindig die eerste toneel: mense in die uiterste ellende, mense wat sterf van honger, mense desperaat en in totale wanhoop. Dan sak die toneel oor hierdie droewige toneel.
As die gordyn vir die 2de toneel oopskuif dan sien ons:
2. Vier melaatse manne wat ’n oorlewingsvergadering hou:
Hierdie manne se situasie is nog hagliker as die van die mense in die stad. In die Bybelse tye is ’n melaatse ook as onrein beskou. Die persoon mag nie met ander mense in aanraking kom nie, want dan maak hy hulle ook onrein. Wanneer ’n melaatse naby iemand gekom het moes hy op ’n afstand staan en uitroep: ”Melaats, melaats, ek is melaats. “Dit is waarom hierdie vier manne buite die beskerming van die stadspoort was. Daar is nie ’n flenter vir hulle omgegee nie. Hulle was verworpenes. Melaatsheid is ’n verskriklike siekte. Lukas vertel van die man wat oortrek was van melaatsheid en op sy knieë voor Jeus neergeval het en hom gesmeek het. “Here as U wil kan U my gesondmaak.
En toe hou hierdie 4 manne ’n vergadering, ’n oorlewingsvergadering. Daar is vir hulle 3 opsies. 1. Hulle gaan die stad binne en indien hulle nie gestenig word nie sterf hulle saam met die res van honger. 2.Hulle bly hier en sterf van honger. 3. Hulle loop oor na die Arameërs, miskien, net miskien word hulle lewens gespaar. Hulle kies die derde opsie.
So teen skemeraand loop hulle na die laer van die Arameërs. Ek dink dat as hulle ’n tak hoor kraak het, het hulle gevoel om om te spring en weg te hardloop. Elke bos en klip het gevaar ingehou, want ’n wag kom opspring en hulle met sy spies deurboor. Maar honger maak ’n mens onverskrokke. Spreuke 16: 26 lui: “’n Werker se honger laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom. ”Dis hierdie behoefte aan kos wat hulle aangedryf het tot in die laer van die vyand.
Dan sak die gordyn. En as die gordyn vir die derde bedryf oopskuif, dan sien ons:
3. Die melaatses se wonderlike ontdekking:
Hulle vind ’n verlate kamp. Daar staan wel perde en donkies, maar die soldate het op die vlug geslaan en in hulle haas alles agtergelaat.
Hulle gaan die eerste tent in en wat is die wonderlikste ding wat hulle sien? Kos! Genoeg kos en hulle eet en eet totdat hulle versadig is. Toe sien hulle iets anders. Goud en silwer en klere. Dis asof hulle die “Jackpot geslaan het“ die lotto van miljoene rande gewen het. Wat ’n wonderlike voorreg. Hulle is versadig en skatryk. Hulle gaan begrawe dit. Gaan ’n tweede tent in en gaan begrawe nog goud en silwer en klere.
Sal hulle eers ’n bietjie rus en nog goud en silwer gaan begrawe. Soos die ryk dwaas vir homself gesê het: “Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op werk, eet, drink en leef lekker. ”Is dit nie helaas hoe baie mense handel met dit wat God hulle skenk nie. Hoe meer ek het, hoe meer wil ek hê en as ek oorvloed het word ek net meer selfsutig en hardvogtig teenoor ander se nood. Gelukkig, gelukkig eindig hierdie verhaal nie so nie. En dit bring ons by die laaste toneel:
4.Hulle verantwoordelikheidsvergadering:
Manne, wat staan ons nou te doen? Dit is die agendapunt: Daar is verskeie moontlikhede: 1. Ons ignoreer die honger sterwendes in die stad. Die wiel het nou gedraai. Ons hoef geen flenter vir hulle om te gee nie hoef nie by hulle lot betrokke raak nie. 2.Hulle kon redeneer dat hulle as melaatses wegjaag sal word. 3. Hulle kon redeneer dat hulle storie nie geglo sal word nie. 4. En sê nou die Arameërs keer terug, dan het hulle gekke van hulself gemaak. Verskoning, verskonings! U weet dit van ander mense, u weet dit ook van uself. Toe daar vir die omheining van die kerkhof gekollekteer is, was die suinige oom se verskoning. Waarom geld mors? Die wat buite is wil nie ingaan nie en die wat binne is kan nie uitgaan nie. By ons verantwoordelikheid is ons of die rower wat sê ” Wat joune is is myne” of soos die priester en die Leviet “Wat myne is is myne” of soos die barmhartige Samaritaan: ”Wat myne is is ook joune.”
Dan besluit hierdie manne: “Ons doen nie reg nie. “Dit is nie reg dat ons oorvloed het en hulle gebrek ly en van honger sterwe nie. Ek wonder soms as ons warm in ons bed lê nadat ons oorgenoeg gehad het om te eet in ’n gerieflike huis of ons ook dink aan hulle wat vanaand honger gaan slaap het, met nat klere en nat komberse iewers onder ’n brug of in ’n sinkkaia. En as ons aan diesulkes dink, wat doen ons, ons vir wie die Here so ryklik geseën het. Grawe ons net die gat vir ons skatte dieper.
Ek kan nou amen sê, maar dan het hierdie ou 83 jarige predikant nie verkondig wat die Here op sy hart gelê het nie.
Samaria het nie net ’n fisiese of ligaamlike hongersnood gehad nie. Daar was ook ’n geestelike of sielenood.
Luister na ’n paar Nuwe Testament woorde in ons teksvers:
Goeie boodskap en dag vir blydskap: Dit was mos die boodskap, die goeie tyding van groot blydskap wat deur die engele op Kersnag verkondig is. Jesus, die Verlosser wat gebore is. Die wonderlikste boodskap waaraan ’n sterwende wêreld behoefte het.
Ons bly stil: Toe Petrus en Johannes gedreig is om nie oor die Here Jesus te praat nie, was hulle reaksie: Dit is vir ons onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.
Staan ons skuldig: Paulus wat sy eer daarin gestel het om die evangelie te verkondig aan mense wat dit nog nie gehoor het nie, skrywe aan die Romeine; Teenoor Grieke en nie- Grieke, teenoor wyse en onverstandige mense is ek ’n skuldenaar, vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is die evangelie te verkondig. Oswald Smith van die People Church of Toronto, wat wêreldwyd 800 sendelinge uitgestuur het se leuse was: Een mens het nie die reg om die evangelie ’n tweede keer te hoor nie, terwyl ’n ander nog nie een maal gehoor het nie.
As ons wag of vertoef tot ligdag: Meer as sewe eeue na hierdie gebeurtenis, ontmoet ’n vrou wat melaats was van sonde die Here Jesus. En na hierdie ontmoeting waar die Here Jesus haar sieledors geles het, gaan sy na Samaria en vertel vir die mense van Jesus. En op grond van dit wat die vrou hulle vertel het kom ’n skare mense uit Samaria na Jesus kom. Dis toe wat Hy vir sy dissipels sê: “Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. “En enige graanboer sal vir jou sê dat as die oes ryp is, dan moet jy oes. Dis dringend. Die stormwind of reën kan kom en as jy nie geoes het nie, is jou oes verlore.
Ek het groot geword in die gemeente Garies waar ons dikwels Halleluja 164 gesing het: “Ver, ver van hier, in heidenlande duister, gaan daar verlore menig kos’bre siel. Waarom tog sterf? Waarom die smart en lyding? Jesus wil red- dit is die blye tyding?
Ek weet nie of dit hierdie lied van siele wat verlore gaan en van die blye tyding wat verkondig moet word, was wat ons gemotiveer het nie, maar die gemeente van Garies was die gemeente uit ongeveer 1200 gemeentes van die NG kerk in SA wat die 2de meeste sendelinge gelewer het. Sommige wat na ver, ver van hier gegaan het, na Malawi, Mosambiek en selfs Shrilanka gegaan en met groot opoffering die blye boodskap gaan verkondig.
Vandag is dit nie meer: Ver, ver van hier nie. Die Here het die sendingveld tot op ons drumpels gebring. In hierdie gemeente het ek al gesprekke gevoer met mense uit Etihopie, Sudan, Somalië, die land waar die derde grootste Christenvervolging is en Pakistan, waar die 5de grootste Christenvervolging is.
Donderdagoggend stap ek in ’n winkel in die hoofstraat in. Ja, sê die man, hy kom van Pakistan en hy bly al jare op Gansbaai en Ja, hy is ’n Muslim, maar, nee, niemand het al hier op Gansbaai met hom oor die Here Jesus gepraat nie. Dit kan tog nie. Dis ’n aanklag teenoor ons kerk met duisende lidmate.
Geliefdes, ons doen nie reg nie, ons is veronderstel om deur ons ontmoeting met die Here Jesus as ons Verlosser, ’n veel wonderliker ontdekking as die van die melaatse manne te hê. Om daarom met ywer en passie mense van Jesus te vertel. Jesus die brood van die lewe, wat nie net tydelike hongersnood verlig nie, maar die ewige lewe skenk.
Ons doen nie reg as ons selfsugtig stil bly. 1. Ons doen nie reg tenoor God nie. God se hart bloei vir ’n verlore wêreld vir wie Hy sy Seun gestuur het. Jesus se eerste woorde na sy opstanding was: “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook.” Sy laaste woorde met sy hemelvaart was: Gaan dan na alle nasies en maak die mense my dissipels.” Die Heilige Gees is uitgestort om ons krag te gee om van Christus te getuig. 2. Ons doen nie reg teenoor die sielenood van mense hier in die skauwee van die kerk nie. 3. Ons doen ook nie reg teenoor onsself nie, want ’n mens wat nie vir hulle wat dit nie weet vertel van Jesus wat vir ons sondeskuld betaal het nie, Hom as Verlosser voor ander bely nie, se geestelike lewe kwyn. Hoe meer ek Jesus weggee aan ander destemeer word Hy vir my ’n werklikheid.
Die sielsdeursoekende vraag is nie: Hoe dikwels ek die eredienste bywoon of vele ander kerklike dinge bedrywig is nie, maar wat is my ywer, my passie vir die uitbreiding van die koninkryk van God. Dit is die barometer of ek koud of lou of aan die brand vir Jesus is.
"Moet ek gaan met: “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet. Nie een siel gelei na Jesus, niks te offer aan sy voet. En dan die oproep: “O Gods kinders, wees tog wakker, haas u, werk, dit is nog dag! Smeek en stry vir kos’bre siele, eerlank is dit ewig nag. Amen.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.