Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
- SPREUKE 30 : 8
“Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en u verloën en sê: “Wie is die Here “nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. (1933 vert.) “ gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die Here? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van die Here vergryp nie. “Saam hiermee lees ek 1 Tim. 6 : 8“ As ons dan kos en klere het, moet ons daarme tevrede wees.“
PREEKTEMA : AGUR SE GEBED OOR: ARMOEDE, RYKDOM EN TEVREDENHEID
Daar is baie gebede in die Bybel wat ons graag sal wil ons eie maak: “Laat u woord my op die regte pad hou”. ”Was my dat ek witter kan wees as sneeu “Sal u ons nie weer lewend maak.” “O God wees my sondaar genadig”. Maar is dit ook waar van Agur se hele gebed hier in Spreuke 30?
Gee my nie armoede nie:
Ek glo dat op hierdie bede ons heelhartig “amen” sal wil sê. Ons ouer mense weet iets van die depressie en die armblanke vraagstuk. Die koshuise vir kinders is eers die armkoshuise genoem en later om dit beter te laat klink is die naam na Goeie Hoop Koshuise verander. Dit was bitter moeilike tye.
Miskien is armoede vandag nog swaarder: Met ’n paar kinders op skool en hoë mediese kostes en onvoorsiene uitgawes wat te gereeld opduik, kry baie mense dit in ons dae moeilik om finansieël kop bo water te hou. Bring hierby nog dat die broodwinner sterf of sy werk verloor en armoede kom klop sommer aan die voor-en agterdeur.
Armoede en hongersnood loop soms hand aan hand. Daarom dat by armoede gevoeg: “die kos wat ek nodig het.” In Openbaring 6 volg op die hakke van die die ruiter met die groot swaard in sy hand op die vuurrooi perd wat oorlog voorstel, die ruiter met die skaal in die hand op die vaal perd wat hongersnood voorstel.
Agur is so bang dat sy armoede hom kan laat steel. In 1777 is die 19 jarige Mary Jones ter dood veroordeel omdat sy gesteel het. Sy het vir die regter vertel dat hulle nie gebrek gehad het nie. Toe word haar man tronk toe gestuur omdat hy vir 9 maande 9 pennies geskuld het. Dis toe dat dinge drasties verander. Haar 2 kinders het van honger en koue begin huil.In die winkel het sy ’n stuk growwe linne gesteel om haar baba wat blou van die koue was in toe te draai. Sy is aangekla vir winkeldiefstal en terwyl haar baba aan haar bors lê en drink het, is sy na die galg gelei
O Here gee my nie armoede sodat ek so honger is dat ek moet steel nie. Oor hongersnood in die wêreld is daar skokkende statistieke. Ek noem net een: Elke 5 sekondes sterf daar in die wêreld ’n kind van honger.
Agur is bang dat hy weens armoede sal steel en die Naam van die Here oneer aan doen. Dit is nie net ek en armoede nie, maar ek en armoede en God. God se naam oneer aandoen beteken dat ek God belaster of vloek. Hiervan lees ons in Jes.8: 21 “Bedruk en honger sal hulle deur die land trek. Wanneer die hongersnood hom tref, sal hy kwaad word en hy sal sy koning en sy God vloek.” Agur is bang vir die gevaarlike konsekwensies: armoede, honger, steel en God vloek ,daarom bid hy. “Gee my nie armoede nie”. En ons wil dit saam met hom bid.
Gee my nie rykdom nie:
Die boek van DF Malherbe met die titel: "Hans die Skipper" was in my matriekjaar ons voorgeskrewe boek. Die boek is later saans as radioverhaal gelees. Die oom en tannie het eers na Hans die Skipper geluister en dan het hulle huisgodsdiens gehou. Die betrokke aand was Hans in die stormsee en die gevaar waarin Hans verkeer het, was baie dramaties. Dis toe dat die tannie baie enrstig bid dat die Liewe Vader tog vir Hans moet bewaar dat hy nie verdrink nie. Toe sy amen sê, was die oom se reaksie: “Vrou jy kan darem nonsens bid." As Agur bid dat die Here nie vir hom rykdom moet gee nie, lyk dit na nonsens, want rykdom is vir baie mense die begeerlikste ding op aard.
Moedig ouers nie dikwels hulle kinders aan om ’n loopbaan te kies waar hulle baie geld kan verdien nie?
Gebruik welsynsorganisasies nie groot geldpryse as lokmiddel vir hulle fondinsameling nie?
Beny ons nie die sportsterre wat miljoene verdien nie?
Lê aan die wortel van korrupsie, staatskaping en geldmaakskemas nie hebsug en gierigheid,al is dit ten koste van armes dat jy jou wil wil verryk ?
Gaan mense nie na lande soos Irak en Afganistan en stel hulle lewens in gevaar en dit net om groot geld te verdien nie?
Maar Agur vra dat die Here nie vir hom rykdom moet gee nie, want dit hou groot gevare in. Rykdom kan maak dat ek die Here verloën en sê: “Wie is die Here" God se gawes word dan vir my belangriker as God die Gewer. Dit is rampspoedig, want die Woord leer ons: "Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor". (Spr.15 :16).
Rykdom is nie sonde nie. Die vraag is nie hoeveel besit ek nie, maar hoeveel besit vir my. Die Bybel verbied ons nie om rykdom bymekaar te maak nie, maar ons word verbied om skatte op die aarde bymekaar te maak nie.’n Skat is iemand of iets wat jy so lief het dat jy dit stewig teen jou wil vasdruk. Dit word vir jou die diebaarste, die kosbaarste.
As jy die gebed van Agur lees, hoor jy die Here se waarskuwing dat as die volk in die beloofde land kom, dit kan gebeur dat hulle mooi huise bou, hulle groot en kleinvee baie word, dat hulle silwer en goud vermeerder en hulle besittings al hoe meer word, en dat hulle dan dan hoogmoedig word en die Here hulle God vergeet. (Deutr. 8: 12-13).
Ons kom soms by ’n huis en dan staan daar op die hek: “Pasop vir die hond.” En as jy tog bewend waag om die hek oop te maak, dan kom daar ’n beteuterde miniatuur brakkie wat jy met jou voet uit die pad kan druk. Dis gans anders as Jesus sê: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” (Luk 12 : 15). Gierigheid is ’n monster wat jou soos ’n groot kwaai hond kan verskeur.” Die verleidelikheid van rykdom, sê Jesus is die onkruid wat die woord wat gesaai is, verstik. (Mat. 13: 22).
Ook Paulus waarsku: Gierigheid is afgodery (Ef. 5:5).Die woord “geldgierigheid“ in Grieks is “philarguria” afgelei van philos- vriend en arguros- silwer. Letterlik dus ’n vriend van silwer. Geldgierigheid skrywe Paulus is die wortel van alle euwels en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. (1 Tim.6:10)
Leo Tolstoi, die Russiese skrywe,r vertel van Pakkof, die arm boer. Toe sy skoonsuster kom kuier en van hulle welvaart vertel, sê Pakkof daardie aand vir sy vrou. Ek wil eendag soveel grond hê dat selfs die duiwel dit nie van my kan afneem nie. Pragtig, het die duiwel wat agter die stoof gesit het vir homself gesê. Ek sal hom baie grond gee en dit alles in een dag weer terug neem. Pakkof hoor toe van grond wat hy kan koop. Vir net 1000 roebels kan hy soveel grond koop as wat hy op een dag kan aftree. Hy begin toe die oggend vroeg om die grond af te tree of liewer af te draf. Die aand toe die son onder gaan slaan hy van uitputting morsdood neer. Die verhaal herinner nogal aan die ryk dwaas wat sy skure groter gebou het vir ’n lang vrolike lewe en toe dieselfde nag sterwe.
Dit lyk my Agur het nie nonsens gebid toe hy gevra het dat die Here hom nie rykdom moet gee nie, Inteendeel die gebed is baie sinvol. Hom verloën en selfs uittartend kan vra: “Wie is die Here.”
Gee my tevredenheid:
Teenoor die 2 negatiewe bedes: Gee my nie armoede nie, gee my nie rykdom nie, kom Agur met hierdie positiewe bede: “Gee my net die kos wat ek nodig het” of “laat my geniet die brood wat vir my bestem is. “Dis wat dit beteken: “As ons dan kos en klere het moet ons daarmee tevrede wees". (1Tim.6 :8).
Here, maak my ’n tevrede mens. Laat my Psalm 131 : 2 belewe: . . .
“Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het. So het ek tevredenheid gevind.” Soms leer die Here my in die harde skool soos vir Paulus om ondanks armoede en gebrek en honger ly, te kan sê:
“want ek het geleer om tevrede te wees met die omstandighede waarin ek is" (Fil.4 : 11) . . .
Tevredenheid is ’n kosbare skat:
1.Tevredenheid maak dat ek my nie kwel nie:
Saam met Dawid se belydenis dat hy soos ’n kindjie aan die bors van sy moeder tevredenheid gevind het, bely hy ook: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge, dinge wat bo my vermoë is nie". En as Jesus vir sy kinders sê om hulle nie te kwel nie, want, “julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het". (Luk. 20:30) Weer die woord “nodig” wat Agur gebruik het.
2. Tevredenheid staan direk teenoor gierigheid. Hierdie twee dinge sluit mekaar uit, ek kan nie tevrede en gierig wees nie. In Hebr.5:13 "Hou julle lewe vry van geldgierigheid, wees tevrede met wat julle het". Gierigheid is ’n rower, dit beroof jou van tevredenheid. U moet maar self besluit watter een by u die swaarste weeg.
3.Tevredenheid kom as ek my seëninge tel:
Ek was so ongeveer 11jaar toe ek vir die eerste keer ’n blinde persoon gesien het. Ek onthou nog dat hy vir iemand wat ons as die rykste man in ons omgewing beskou het, gesê het: “Joos, ek hoor jy klae met ’n witbrood onder jou arm.” Ek het as sendeling met brandarm mense te doen gekry en ek het as predikant met skatryk mense te doen gekry. En wie van hulle het die meeste geklae? Gewis nie die brandarmes nie.
Weet u hoe kyk ons na mense? Ons kyk na mense rondom ons wat meer as ons het en wat beter daaraan toe is as ons. Dan klae ons, want ons is op hulle jaloers en word gierig. Kyk ’n slag na die mense wat baie, sommer baie minder as u het en met wie dit baie swakker as u gaan. Hierdie manier van kyk mag u ’n tevrede mens maak. So ’n tevrede mens dat u eerder begeer om uit te deel aan hulle wat arm is, as om te begeer om nog meer te wil hê. Tel ’n slag jou seëninge en wees ’n tevrede mens.
4. Tevredenheid bring vreugde:
“Laat my geniet die brood wat vir my bestem is.”
In Prediker 5:9 lees ons: “ Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie”. Met ander woorde hy is nooit tevrede nie en ervaar nie die vreugde van tevredenheid nie.
U ken die verhaal van die geliefde koning wat ondanks al sy skatte ongelukkig was. Hy kry toe die raad om die hemp van ’n gelukkige man aan te trek. Sy onderdane kry toe daar in die agterbuurtes ’n man wat straal van geluk. Hulle pogings om sy hemp te koop misluk, want onder sy verweerde ou jas was sy naakte liggaam, hy het nie ’n hemp besit nie. Rykdom waarborg nie geluk nie. Sielstevredenheid en sielsgelukkig pas bymekaar. Mag u met dit wat u nodig het en wat God vir u gee, tevrede wees, en dit geniet. Liewers ’n stukkie droë brood met rus (tevredenheid daarby), as ’n huis vol offermaaltye met getwis.”
5. Tevredenheid het te doen met die sin van waardes:
Luister wat sê die Spreukeskrywer: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moennie jou sin vir waardes verloor nie". (Spr. 23:4)
Paulus het ook by geleentheid ’n waardebepaling gedoen en toe maak hy ’n besondere ontdekking: “om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde". (Fil. 3:8) Christus word vir hom so waardevol dat hy die ander dinge as waardeloos beskou. Nie rykdom of roem nie, maar Jesus Christus moet vir my die kosbaarste wees..Ons moet nie dit net sing nie, maar ook dit uitlewe: “ Wat ons liefhet op die aarde, het geen wesenlike waarde. Jesus, enkel deur u bloed, kom daar rus in my gemoed".
Wanneer die Here Jesus die belangrikste in my lewe is, kan ek soos die man reageer toe ’n bom sy huis tydens die wêreldoorlog vernietig het. Hy skrywe vir sy vriend, ’n Duitse sendeling in die destydse Suid- Wes Afrika. “Beleef ons nie wonderlike tye nie? ’n Bom het nou net ons huisie getref. Alles wat ek en my vrou oor ’n leeftyd bymekaar gemaak het, het ons verloor. Ons het niks oorgehou nie, ons het net die Here Jesus. Beleef ons nie wonderlike tye nie!“. Dit is tevredenheid, wanneer jou sin vir waardes reg is, as dit vir jou nie gaan oor die dinge waarop dit nie werklik aankom. Die Here Jesus en die ewige lewe wat Hy my skenk is van oneindig groter waarde as al die aardse skatte. Mag die Here u ’n tevrede mens maak. Amen.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.