Die ryk jongman

Die ryk jongman

NG Kerk Gansbaai

Markus 10:17 -31      

Kersfees lê voor die deur.  Kersfees herinner ons aan God se genadegawe, aan die geboorte van Jesus Christus, Seun van God wat self ook God is.  Daar­om is Kers­­fees iets om na uit te sien, ’n Fees.  Maar nie ’n fees vir almal nie, want Kersfees is ’n Chris­tenfees, al vier baie ongelowiges dit ook.  En se­ker­­lik gaan Kersfees ook oor die mens se antw­oord op God se gena­de­gawe.  Daarom behoort Kersfees te lei tot selfon­de­r­soek.  Want die gevaar bestaan dat mense, ook kerk­mense, nie die lewende God aan­bid nie, dat Jesus deur iets of iemand anders ver­vang word.  Dan het ons nie meer te doen met gods­diens nie, maar met afgodsdiens.  En afgods­diens is in baie opsigte díé groot sonde in die Bybel!

Voor ons te ernstig raak - u het al die grappie gehoor van lidmaat wat kla: “Ds. - hoekom preek jy altyd oor ons sakke, nie oor ons harte nie?” Antw: “Ons preek oor julle sakke omdat julle harte in julle sakke is.”   Ons lees iets daarvan in:

Markus 10:17  Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18  Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 

19  Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.”

20  “Meneer,”sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21  Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22  Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23  Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24  Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 

25  Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26  Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28  Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29  Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie,

30  of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 

31  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

’n Mens kan nie eerlik oor hierdie gedeelte praat sonder om op tone te trap nie.  Gelukkig weet ek nie op wie s’n ek gaan trap nie, maar ek ken men­se goed genoeg om te weet dat daar vandag omge­krap­tes sal wees.  Maar die spreek­woord sê mos:  “As die skoen jou pas, trek dit aan.”  En vriende - ek sê dit nie as ’n grap nie - ek sê dit met groot erns.

Ons lees van ’n man wat by Jesus wou weet wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.  Volgens Matteus was hy jonk;  Lukas sê hy was ’n man van aansien.  Hierdie jong man het eerbied vir God gehad en hy het in Jesus iets gesien wat hom daar­toe gedryf het om die regte antwoord by Hom te soek.  Hy was in sy eie oë ’n goeie man – iemand wat die belangrike gebooie van God onderhou het.  Maar die onderhouding van wette het hom geen vrede gegee nie.  Daar was ’n gevoel van onbehae.

Jesus sien egter die man se probleem - sy besittings. Of liewer - sy liefde vir sy besittings. Daarom die radikale oplossing: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Of om dit met ander woorde te stel: “Raak ontslae van enigiets wat tussen jou en God staan. Dit mag moeilik wees, maar dit is nood­saaklik, want jou besittings is op die oomblik vir jou belangriker as die ewige lewe.  Dan kan jy vir My volg. Ek is immers die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6)

Toe die jong man dit hoor, toe sak sy skouers.  Hy sien kans vir baie - maar sy geld!? Sy gerief!? Sy goed!?  Nee, dit is darem te veel gevra.  V. 22 sê:  Hy het geskrik toe hy dit hoor en het bedruk wegge­gaan, want hy het baie besittings gehad. Weet u, hierdie is vir my een van die hartseerste verse in die Bybel. V. 21 sê Jesus het die man liefgekry. Dit is duidelik dat die man respek vir Jesus gehad het. En tog - toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan...  So naby - en tog so vêr!

Die jong man is natuurlik nie die enigste met die probleem nie. Jesus sê in Matt 6:24... “Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Ons leraars praat dikwels oor moderne afgode en dan noem ons ge­woonlik vir Mammon net so in die verbygaan. Ons weet dit gaan oor die verpersoonliking van geld, van goed. ’n Mens dien Mammon wanneer geld en goed vir jou belangriker as God is. Soos die jong man waar­van ons gelees het. En weet u, Mammon, geld en goed, is ’n verskriklik wrede god. Ons sien elke dag hoe dit verhoudings opbreek en gesinne vernietig. Die begeerte na meer geld, en na ánder se geld of goed, kry ’n ver­skrik­like houvas op mense.  

Dit was die oorsaak van die meeste oorloë in die geskiedenis. Dit is die rede vir die geweld en poli­tieke en ekonomiese geknoeiery wat ons elke dag rondom ons sien. En dit raak nie net die gierige nie, dit raak ons almal.

(Herinnering - Swaziland se casino (in S.A. destyds onwettig) - mense se starre uitdrukking en klou-hande wat geldstuk na geldstuk in masjien ingooi... lelike dooie gesigte wat niks anders rondom hulle sien nie as ’n masjien wat hulle dalk ryk kan maak... Wat is dit anders as afgodery?)

Die Jode het destyds geglo ’n ryk mens se kanse op die ewige lewe is beter as ’n arm mens s’n omdat hy meer goeie werke kan doen. Dit is waarom die dis­sipels so verbaas was toe Jesus sê dat ’n ryke be­swaarlik in die hemel kan kom.  Eintlik is dit on­moontlik. Dit is slegs moontlik deur God’s genade - want alleen Hy kan rykes sowel as armes red...

Interessant - dit is dikwels juis armes wat moeite doen om ander te help. Hoe dikwels lees ons nie in die koerante van mense in agterbuurte wat, ten spyte van hulle armoede, hulle ontferm oor bv. weeskinders of siekes in hulle omgewing nie.  

’n Mens kan met baie minder klaarkom as waaraan ons deesdae gewoond is. Ons ouer mense het sonder TV en selfone en mikrogolf-oonde en sulke dinge klaargekom. En ek dink nie dit het ons kwaad gedoen nie.  Inteendeel - ek is van mening dat van hierdie goed vir baie mense ’n afgod geword het. Hoeveel tyd bestee ons bv. aan TV - en hoeveel aan die Woord van God. Hoe lief het mense nie vir hulleself geword nie - daar is selfs ’n nuwe woord geskep:  “selfies.”   

Die probleem is ’n skeefgetrekte denkpatroon - wat sukses en geluk koppel aan geld en besittings. Die Brasiliaanse skrywer, Paulo Coelho, het ’n verhaaltjie (moderne gelykenis?) daaroor geskryf:

Daar was eenkeer ’n ryk sakeman wat weens werk­span­ning op vakansie was by ’n klein Brasiliaanse kusdorpie. By geleentheid sien hy ’n visserman uitkom op sy klein bootjie met ’n paar groot visse.  Die visse is sommer vinnig uitverkoop daar by die hawetjie. Later die middag kom die sakeman weer op die visserman af waar hy rustig langs die see onder ’n kokosneut boom sit en ghitaar speel met ’n klein seuntjie wat langs hom in die sand speel. Hy vra toe vir die visserman hoekom hy nie weer uit is om vis te vang nie.  “Hoekom?” “Dan kan jy mos meer visse vang en meer verkoop.” En dan?” “Wel, jy sal sommer gou genoeg hê om ’n groter boot te koop en selfs iemand te huur wat jou kan help om nog meer visse te vang en geld te maak.” “En dan?”  Die sakeman raak omgekrap omdat die visserman nie verstaan nie. “Wel, jy sal dan nog ’n boot of selfs bote kan koop. Jy kan na die stad trek en ek sal jou help sodat jy ’n maatskappy op die been kan bring om jou bote te bestuur en jou vis te bemark. Jy kan selfs jou eie inmaak-fabriek begin. Dan kan jy sommer baie geld maak.” “En wat maak ek dan met al die geld?”  “Man, jy kan dan vir jou groot huis koop en in ’n ordentlike pen­sioenfonds belê. Dan kan jy skatryk aftree.” “En wat doen ek dan as ek afgetree het?”  “Dan kan jy terug­keer na jou geboortedorp lekker huisie koop en soggens ’n bie­tjie visvang en smiddags heerlik sit met jou ghitaar en kyk oor die see en speel met jou kleinkin­ders terwyl die ander mense hard moet werk.” “Wel, is die dan nie presies wat ek nou besig is om te doen nie?”

Mense dink verkeerd oor goed - omdat hulle harte op die verkeerde plek is.  Jesus het by geleentheid gesê:  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt 6:21)  M.a.w. - mense, by name ons as gelowiges, moet ons prioriteite regkry.  Matt 6:33...  beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

U moet asb. nie later woorde in my mond lê nie wat ek nie gesê het nie.  Ek sê nie dat geld nie belangrik is nie,  ek sê nie dat rykdom verkeerd is nie. Ek sê nie dat ’n mens nie hard moet werk vir jou geld en jou besit­tings nie moet oppas nie. Ek sê nie u moet al u besittings vir die armes gee nie.  Ek sê nie ons mag nie vir die toekoms beplan nie. Dit gaan i.e.g. nie oor wat EK sê nie. Dit gaan oor wat die Die BYBEL sê:...

Heb 13:5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het...

Luk 12:15. . “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

1 Tim 6:10 Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Ons ken Jesus se gelykenis van die ryk dwaas:

Luk 12:16 Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra.  17  Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.  18  Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.  19  Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ 20  Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ 21  So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Saam met Jesus wil ek dan ook vandag vir die gierigaard, die wat Mammon dien, die wat enige afgod dien, sê:  Jou dwaas!  Jy het geen rede om Kersfees te vier nie.  Inteendeel . . . Bekeer jou – voordat Jesus weer kom.  En onthou – jy weet nie wanneer dit gaan wees nie.

Kom ons sluit af op ’n positiewe noot. Kersfees lê voor die deur. ’n Feestyd!  En waar Mammon of enige ander afgod, wrede, verslawende gode is, praat Kersfees van ’n genadige God. Die engele­koor het gesing: Vrede op aarde. Ons sing: Die Heiland is gebore. John Williems se lied sê: Genade, onbe­skryf­lik groot - genade, te midde van ’n krom en verdraaide geslag. God wat sorg – al is dit soms effens anders as wat ons verwag. Jesus sê vir sy ontstelde dissipels: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

’n Nuwe soort gesin - ’n besondere familie met ’n besondere Vader. En Jesus noem ons sy broers en susters. En ons noem mekaar broer en suster. Ons is God se huisgesin!! En ons vier dit op Kersfees!

Kersfees, ’n nuwe gesin, weliswaar... saam met baie vervolging! Maar die wonderlike is - by Jesus se tweede koms val hierdie woorde weg. Dit is die toppunt van genade.Laaste gedagte - Kersfees roep ons ook op om ’n broer en suster te wees vir ander. Dan sal ons waarlik Kersvreugde ervaar.

Die ryk jongman

Ds. Hennie Basson

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai