Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Die brand wat Franskraal en omgewing gedurende Januarie 2019 bedreig het, is nog vars in ons geheue.
Soveel stories is daar wat vertel word van ondersteuning, samewerking, omgee en wonderwerke. Soos Annie wat in Stellenbosch in ‘n dokter se spreekkamer sit toe sy die telefoonoproep kry van Franskraal wat bedreig word deur die brand. Die ontvangsdame sien en hoor haar ontsteltenis en neem haar eenkant toe. Sy vra of sy vir Annie en Franskraal kan bid. Sy bid dat die Here en sy leërskare Franskraal sal bewaar. ‘n Kleinseun kom haal sy ouma in Franskraal en neem haar na veiligheid. Hy wys haar die drie skilpadjies wat hy ook gered het. Dit is sy eerste ervaring van so ‘n noodtoestand. Hy maak kennis met wat die brandweerbeamptes aan blootgestel word. Ons sien opregte dankbaarheid met die dankseggingsbyeenkoms na die brande op die parkeerterrein by Franskraalstrand. Eiendom is verloor en beskadig in sommige gevalle, maar lewens is gespaar. Die besef dat deur dit alles was die “goue draad” die feit dat God in liefdevolle genade met ons was.
Drie inwoners, Susan du Toit, Susan van Heerden en Annette Stark-Steenkamp deel hul verhale en getuienis met ons.
Susan du Toit
Dit was traumaties... Ek was oppad vanaf Dangerpointvuurtoring na Kleinbaai toe ons die rookbolle sien opborrel en ook die helikopters wat inkom om te kom help. Ek het my dogter gebel om te hoor wat aangaan. Toe kry ek die nuus:
“Moenie huis toe gaan nie, dit brand. Ons moet ontruim. My dogter was alleen by die huis, die kinders was genadiglik by die skool. Sy kon net die boerboele in die huis toesluit, haar handsak gryp en kaalvoet oor ons agterste muur klim om deur ‘n polisie vriend in du Plessisstraat opgetel te word.
Ons huis was aan die voorkant aan twee kante deur die vuur bedreig. Ons voertuig het op die sypaadjie voor die huis gestaan; die boom het gebrand, maar die voertuig ongeskonde (...hoe?) Die tuinplante tot teenaan die huis is, is verbrand.
Ek het in Kleinbaai gesit en in my gedagtes van alles op my naam afskeid geneem, ook my diere. Selfs my identiteitsdokument was in my woonstel. Laatmiddag toe ons voor die huis stilhou, het ek verslae gesit en besef wat kon gebeur het. En diep dankbaarheid gevoel. My vriendin se man is in ‘n rolstoel en haar skoonmamma het dementia. Hulle is fisies deur reddingswerkers uit hul huis gedra en in hul motor gelaai en versoek om so vinnig moontlik weg te kom. Die vuur het soos ‘n vlamme-tsunami aangerol gekom, gedryf deur ‘n baie sterk wind. Ons het ons diepe dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader en die hardwerkende brand-en-reddingspanne, SAPD en vrywilligers tydens ‘n dankseggingsbyeenkoms by die parkeerterrein by Franskraalstrand betoon.
Susan van Heerden
Twee weke na Kersfees staan ons in ‘n apteek in Krugersdorp toe ‘n sms deurkom: Is julle okay? Ek antwoord: Ja! Ons kuier by die kinders en dis mos vakansie. En toe: FRANSKRAAL BRAND!!! Die bos voor ons huis is in vlamme. Ons huis is in gevaar! My mooi fynbostuin ... Die bome tussen ons en die bure ... Als kan afbrand! Mense stuur videos van pikswart rookwolke wat ons omgewing verswelg. Verslaendheid druk ons plat toe ons gaan sit, want ons wag mos nog vir ons pille. Dis toe dat ek ervaar hoe my liggaam op‘n wilsbesluit reageer. Ek weier om te vrees! Jesus is in my... het Hy dit dan nie reeds soveel keer aan my openbaar nie? Dis toe dat my opgetrekte skouerknoppe voelbaar sak. Ek en Dries hou mekaar se hande vas. Elkeen weet dat die ander een ook bid. Sonder woorde. Ons Here ken ons harte. Dit word stil in my binnekop. Stil soos ‘n spinwiel se draai stil is. In die ruimte kom Hy en wys Hy vir my die engel wat in die tuin by ons huis staan. Die engel was omtrent ‘n huis en ‘n half lank. Ek het haar langs die pilaar waarteen die bougainvilla oprank gesien. Waar haar voete moes wees het sy nie grond geraak nie. Sy was lyfloos maar rieel. Haar wit kleed wasig. In die hemel gemaak. Uit die hoek van my oog gewaar ek toe nog ‘n hemeling en nader aan die straat net die bewustheid van nog wasige witheid. Toe ek my oë oopmaak was ek terug in die apteek. Dries praat: “Ek het ‘n glaskoepel oor ons huis gesien. Met ‘n handvatsel. Die Here bewaar ons huis…”Skoondogter Stella het later vertel dat sy twee groot hande in haar gees gesien het wat die huis omvou. Sus Ina herinner my aan Dries se laaste woorde toe ons kringetjie gemaak het net voor ons na die kinders toe is: “En Here bewaar ons huis..”Ons het opgestaan, ons pille gekry en uitgestap. Die sms'e en oproepe het ingestroom. Ons het kennis geneem. Natuurlik is dit traumaties. Die realiteit kan wreed wees. Alles is mos stukkend op die ou aarde, maar Jesus het gekom om heel te maak, nuut te maak. Daar is krag in ‘n kop wat nuut dink, wat glo in die eenheid van ons Vader met sy eie kinders. Jesus leef nou in my, dwarsdeur my! Dit gaan nie oor my en my gemak nie. Dit gaan oor Hom! Natuurlik was dit ‘n skok toe ons tuiskom . ‘n Aangename skok, want die vuur kon nie verby die engele kom nie! Niks moes eintlik oorgebly het nie. Die wind is immers tydens die brand op 104 kilometer per uur geregistreer. Hein, ‘n selvriend, het met sy kaal hande water uit n kan die lug ingegooi in ‘n poging om die brandende motorafdak te red. Dit terwyl hy niks voor hom kon sien nie en in die rook gestik het.
Ons huis is ongedeerd. Net die geute het begin smelt van die hitte. Als om ons is tot as. Die twee verdieping hoë heining tussen ons en die bure is lelik verbrand. Dit voel of my privaatheid van my weggevlam is. O, die mure wat ons tussen ons bou...
Die berg is kaal. Rou. Van die bome voor ons in die bos het net swart krul stokke oorgebly. Stokke wat in hul gestrooptheid boontoe beur. Soos ons mense wat almal deur die ervaring is. Binne in ons huis trap jy in as. Jy hap as, jy hoes as. Vir lank ruik jy nog as.
Dis nou ‘n maand na die brand. Die melkhout in die tuin toon reeds botseltjies in sy stam. Ek treur nie meer oor wat ek verloor het nie, maar verheug my daarin dat my kleinkinders se kinders eendag in die nuwe boom se koelte sal kan speel. Laat ons vir mekaar koelte maak soos ons Liewe Here eens vir ons kruiskoelte gemaak het.
Ek was gedring om iets wat in my diepste binneste ontvlam het, op doek te sit. In my oorgroeide fynbosvoortuin het Dries 20 jaar gelede ‘n kruis van sleeperhout geplant. Deur die jare het die kruis egter toegegroei. Met die brand het al die plante geskroei maar die kruishout het bly lewe.
Dankie Here dat die kruis nie gebrand het nie. Dit laat my herinner aan die pad wat U vir my geloop het, dat ek in die gees saam met U gesterf het en sedertdien ‘n nuwe mens in U is. Mag ek dit nooit vergeet nie. Ek wil net weer opnuut my binnehart vir U wys. Dankie vir nuwe lewe. ‘n Nuwe begin. Nuwe geleenthede waar U liefde in my kan vlamvat om sodoende lig te maak vir een en almal wat voortaan my pad kruis.
Na die vlammevuur, soos met enige ander verlies, blom U opnuut bloedrooi in my hart, net soos die speke-blom in die Overberg na die brand.
Annette Stark-Steenkamp: Net “een druppel”
Annette deel haar persoonlike ervaring sedert 11 Januarie 2019 in Franskraal-karavaanpark.
Al die lof en eer kom my God en Hemelse Vader toe. Ps 50:14 “Lof is die offer wat jy God moet bring. Betaal jou beloftes aan die allerhoogste” Jy kan aan God groot vreugde bring deur aan Hom ‘n lofoffer te bring. Ons doen dit heeltemal te min.
Gebed: Vader, ek wil met alles wat ek is, met my hele wese, kom sê, U is die enigste wonderbare God. Ek wil graag aan U behoort en eer U as die Skepper van alle din-ge, die Heerser oor alle dinge en die on-derhouer van alle dinge. U is geloof, hoop en liefde en daarom kan ek deur in U te leef dit ook uitleef na my medemens. Ek dank U vir die groot genade van U ontvang. Vir die groot vreugde en vrede wat dit aan my skenk. Ek dank U ook dat ek nou die ontvanger kan wees van U groot geloof, hoop en liefde deur vele kinders van God nou aan my bewys. Ek dank U vir beskerming in die brand en vir al U wonders en U wat alles nuutmaak. Geen verledes. Amen
Ek het vele voorbeelde van geloof, hoop en liefde ervaar sedert die middag van 11 Januarie 2019 toe my huisie by Plot 64, Frans-kraalkaravaanpark in rook en vlamme omhul, uitgebrand het. Teen 6.30nm was my huisie net gloeiende kole en as.
Saterdagoggend bied my 26-jarige buurman, J.J. le Grange, my slaapplek aan. Omgee-liefde sonder voorwaardes. ‘n Paar uur later daag my suster uit Fisherhaven op met kos, klere en bedlinne. Hulle weet via Facebook my huis het afgebrand.
Ek spuit daagliks my asverbrande tuin nat en na 6 dae begin die eerste Maartlelie knop uitsteek uit die asgrond en binne 4 dae staan dit spierwit in blom. My God sorg vir die lelies van die veld, hoeveel te meer dan nie vir my nie!
Ek bly in karavaan oorkant my erf, maar moet ongelukkig verskuif... weereens omgee en liefde van medemens. Terwyl ek opruim op plot 64 maak ek vele ondekkings. Vele geestelike boodskappe spring op in my hart met elke verrassing uit die as. Drie dinge staan vir my uit op 22 Februarie, 42 dae na die brand: Ek krap assies bymekaar met my hande toe ek ‘n onderste bo bak voel. Ek lig dit stadig uit. Dit is die keremiekbak wat ek 1970 op skool gemaak het en ‘n 100% eksamenpunt gekry het. Dit is volmaak. Ons God is die pottebakker en ons die klei. Hy brei, vorm, breek en her-skep en bak tot volmaak na Sy wil. Ek vind ook ‘n spierwit glansende porselein kersblaker, feitlik ongeskonde. Net rondom die handvatsel losgetrek. Ons God is die Een wat ons suiwer soos goud wat deur vuur gesuiwer word. Daar het geen swart as aan die blaker bly kleef toe ek dit uitlig uit die rommel. Ja, witter as sneeu reinig Hy ons harte en die kersblaker met kers wat brand word n metafoor as “Lig” vir die wêreld wat so smag daarna.
Laat ons wat sê dat ons volgelinge van Jesus is dit met woord en daad wees. Die derde item was deel van my versameling klokkies. ‘n Koper (bras) poppie met wye, lang rokkie aan. Terwyl die arbeiders langs my op plot 65 besig was met herbou van die verbrande gedeelte lui ek die helder klokkie. Ek kan getuig oor elke item en die klokkie se gelui is vir my hoe duidelik, suiwer, altyd opreg, vol vreugde, uitnodigend ons mense na Jesus moet uitreik, getuig.
Laat ons opstaan na die vuur, uit as, as nuwe skepsels!
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.