Sendingsondag

Sendingsondag

NG Kerk Gansbaai

Skriflesing: Openbaring 4-5
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie. Toe die Here my geroep het na die sendingveld, en meer spesifiek Rusland, in 1993 was van die dinge wat ek aan die Heer genoem het hoekom ek nie Rusland toe kan gaan nie die koue (ja, dit is koud daar, veral in Siberie waar ons nou bly waar ek al -53C beleef het) en die taal (Russsies is beslis 'n moeilike taal, veral die grammatika).

Ons bediening fokus op die sogenaamde 'uitskot' van die land, nl. sosiale weeskinders. Alkohol- en dwelmmisbruik is 'n massiewe probleem in die land. Volgens statistiek wat die staat vrygestel het sterf daar gemiddeld 50 000 mense per jaar aan alkohol verwante siektes en tot 70 000 per jaar aan dwelm oordosisse. Daar word geraam dat tussen 2-3 miljoen jongmense tussen 10 en 23 verslaaf is aan dwelms. Dit is juis hierdie seksueel aktiewe lede van die samelewing wat kinders kry en hierdie kinders beland dan in weeshuise of op straat. Verder is die gesinstruktuur baie swak met meeste gesinne wat bestaan uit 'n ouma, ma en kinders. Egkeidings is endemies.

Gedurende die vakansiemaande, veral die 3 somermaande (Junie-Augustus), maar ook in die wintervakansie (Januarie) neem ons kinders vir Christelike humanitêre kampe in ons huis in. Die huis is geleë in 'n klein dorpie (naam: Bolshoje ozera - Groot Meer) van sowat 200 mense omring deur heuwels, woude en mere. Ons rekord was 55 kinders tydens 1 kamp verlede jaar (2013). Saam met die 25 werkers was ons 150vierkante meter huis behoorlik gepak.

Elke dag in die kamp het 'n spesifieke Christelike tema, bv. die geboorte van Jesus. Alles wat ons dan op daardie dag sal doen, hou verband daarmee. Ons sal dalk selfs die program al begin in die nag deur die kinders wakker te maak om so Christus se geboorte te gedenk, waarna ons deur die res van die dag gedurende ons Bybelles en aand kerkdiens die kinders daarvan sal leer. Die kinders kry huiswerkboekies om daagliks in te vul, leer vir 1 uur per dag nuwe Christelike liedjies wat oor die dag se tema gaan, en kry kans om dramas te leer wat hulle tydens die aanddiens kan opvoer. Die fokus natuurlik ook op die dag se tema. Selfs die sport wat ons doen fokus op die tema. Ek dink julle kan verstaan dat teen die einde van elke dag die kinders presies weet wat is die tema van die dag.

Die kinders kry ook die kans om daagliks in ons tuin te werk vir ten minste 1 uur. Die redes hiervoor is dat ons die kinders wil leer dat kos nie net uit die hemel val nie maar jy daarvoor moet werk, om 'n voorbeeld te stel aan ons bure dat Christene nie lui mense is nie, en om ons kosrekening te probeer so laag as moontlik hou. Ons verbou van aartappels (hoofsaaklik) tot tamaties (ook kool, geelwortels, beet, boontjies, ertjies, radyse, allerhande soorte bessies, ens). Ons baie kort groeiseisoen maak landbou ingewikkeld, maar met bietjie eksperimentering en baie gebed en harde werk kan ons darem heelwat van ons eie kos verbou.

Die tipe kinders waarmee ons werk is beslis nie van die maklikste nie. Die stories wat van hulle te vertel het van dinge wat hulle al deurgemaak het in hulle lewens (misbruik op fisiese en seksuele vlak en vele ander erger dinge) is hartverskeurend. Dit veroorsaak gewoonlik dat die eerste paar dae in kamp baie moeilik is met baie bakleiery en ander dinge wat gebeur. Hoe langer die kinders in die kamp is en die Vader deur Sy Gees met hulle werk soveel makliker word dit.

Van die kinders kom wel tydens kamp tot 'n diep sondebesef en in sulke gevalle sal ons saam met die kind 'n lang gesprek voer om oortuig te wees van sy egtheid asook om te probeer bepaal wat die Here in sy lewe aan die doen is. Slegs na die proses sal ons vir die kind vra om tot die Here te bid. Ek is glad nie 'n voorstander van die 'kom-na-die-Heer-sondaars-gebedjie' wat so gewild is in Evangeliese kringe deesdae nie. Om die rede het ons dalk nie so baie getalle van kinders wat hulle hart vir die Here 'gee' nie, maar die wat wel inkom word deur God ingebring en nie deur ons manipulasie nie. Ons taak is buitendien mos net die verkondiging van die Evangelie en God s'n die groeiwerk.

Ek het reeds verwys dat Siberie nie een van die maklikste sendingvelde is nie. Ons bly in 'n baie afgeleë dorpie sowat 350km suid-wes van Krasnojarsk wat op sy eie sowat 4000km direk oos van Moskou is. Paaie in Rusland is nie baie goed nie, veral nie wanneer dit sneeu nie, dus om vinnig stad toe te gaan is nie altyd moontlik nie.

Ander dinge wat die lewe moeilik maak is die koue. Dit sneeu 9 maande in die jaar (September tot Mei). Wanneer dit in die winter -20C is dan is dit sommer behoorlik warm.

Burokrasie is ook 'n nagmerrie in Rusland; hospitale uiters swak (dokters het al geweier om na my te kyk omdat ek 'n sektant is of van Afrika afkomstig is). Verder is dit wat ons doen eintlik verbode. Soos onder kommunisme is dit deesdae verbode om die Evangelie te bring aan kinders onder 18jaar. Daar is ook 'n wet wat ons verbied om buite kerk geboue Christelike werk te mag doen. Om die rede leef mens maar altyd onder die wete dat die polisie enige dag vir jou kan kom en opsluit.
Dus indien dit so moeilike plek is om te werk kan julle dalk wonder hoekom ons nog daar is. En dit is die tema van ons preek vanmôre, nl waar is ons fokus. Indien ons fokus op ons moeilike omstandighede is dan het ons al lankal verhuis.

1) Op wie is ons fokus.
Die Russiese Ortodokse kerk is deesdae baie 'gewild' in Rusland en word deur die staat gebruik om mense te manipuleer en onderdruk. Vir diegene wat nie weet nie, ikone is 'n baie belangrike en kenmerkende aspek van die kerk. 'n Goeie Russiese vriend van my sou altyd wanneer hy met 'n Ortodokse tannietjie (meeste mense wat die kerk bywoon is ou tannies - 2% woon dienste by) gesels vir haar vra of sy wanneer sy met 'n familielid gesels sy 'n foto van hom sal neem, hom oorkant haar sal laat sit en dan ipv om direk met hom te gesels met die foto te gesels.

Is dit ook nie hoe ons baie keer ipv om op God te fokus meer gefokus is op onsself nie? Ons gebede is meer pleit by God om nog dinge vir ons te gee? Ons praat met God maar ons praat net oor wat ons wil hê. Al wat ons raaksien is ons eie probleme; ons eie nood.

2) Op wie moet ons fokus wees? Lees Openbaring 4:8-11
Johannes is in die hemel, stap rond tussen al die wesens daar teenwoordig. Almal van hulle is net gefokus op die Heer. Niemand kyk rond na wat sy maat doen nie; niemand kyk na wat Johannes daar doen nie. Almal is totaal en al gefokus op die Heilige God.

Toe Paulus tydens sy 3de sendingreis deur die Gees gelei word om terug te gaan na Jerusalem word dit ook aan hom meegedeel dat hy daar gevange geneem gaan word. Dit stop hom egter nie om te gaan nie, want Hy is gefokus op God. Hy weet wie God is; weet dat God in beheer is van alle dinge. Daarom kan hy stap met die wete dat niks met hom kan gebeur wat die Heer nie toelaat nie. Hy kan dus met vertroue die moeilikheid aandurf omdat hy gefokus is op God.

So kan elkeen van ons elke dag se moeilikhede oorkom indien ons gefokus is op God en nie op onsself nie. Alles in ons lewens sal skielik in plek val. Ons sal nie ons lewens te kompartementaliseer nie (God, gesin, werk, ens). Met ons fokus op die Heer val alles outomaties in plek.

3) Hoe verander ons ons fokus vanaf onsself terug na God? Openbaring 5:1-5
Deur te fokus op wat Christus vir ons gedoen het. Christus, as deel van die Drie-Eenheid, was net so gefokus op Sy Vader. Hy kon die pad na die kruis stap, want Hy was nie gefokus op die pyn nie.
Hierdie deel in die Bybel is vir my van tragieste, maar ook die mooiste. Die soektog na 'n redder; Johannes se trane. Mens sien hoe die engele letterlik terug gaan in die verlede op hul soektog na 'n redder. Hulle kyk na Moses en sien hoe hy ongehoorsaam was; Dawid wat rondgeslaap het en 'n man laat vermoor het om sy sonde weg te steek. Al die helde het voete van klei. Dan soek die engel verder, maar nêrens kan hy die redder opspoor nie. En dit lei tot Johannes se trane; sy wanhoop. Maar dan verskyn Christus op die toneel en alles val in plek. Die Redder is daar.

Christus het Sy alles vir ons gegee. Wat gee ons dan die reg om nie ons alles uit dankbaarheid aan Hom terug te gee nie? Niks wat ons ooit hier op aarde doen, selfs in Siberie vir duisende jare sendingwerk doen, sal ooit iets kan terugbetaal vir dit wat Hy vir ons gedoen het nie.

Laat die Gees jou weer oortuig en wys wat Hy vir ons gedoen het; wat dit vir Hom gekos het. Dan sal ons fokus van onsself afskuif en terug na Hom gaan; dan sal ons lewens begin sin maak en sal hulle eendag op ons grafstene meer kan skryf as net dat die oorledene 'n 'suurstofdief' (soos ons as kinders gepraat het van mense wat maar net bestaan en nie leef nie) was. Dan sal ons daagliks gaan en die evangelie bring aan almal rondom ons (mag dit in Gansbaai, Franskraal of selfs in Siberie wees); dan sal die vrees vir môre verdwyn omdat ons gefokus is op God en Wie Hy is en wat Hy gedoen het en daagliks doen.

Kyk weer na die kruis met hernude oë. Laat Christus se offer ons fokus terugbring na die Vader. Gaan en leef van vandag 'n Christusgevulde lewe gefokus op die ware God en nie die klein ek 'godjie' nie.

God gee jou die krag deur Sy Gees.
Amen.

http://www.givengain.com/cause/1364/projects/3497

epos: ernstoerien@gmail.com

 

Sendingsondag

Ds. Ernst Toerien

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai
Roeping en gewone lewe

Roeping en gewone lewe

. . . as die Here mense roep, hy sommige terugstuur in die gewone lewe in om daar as getuie vir die  Here op te tree, nie dat hulle voltyds soos die dissipels agter Hom sal aangaan nie. 

NG Kerk Gansbaai