Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

NG Kerk Gansbaai

Markus 15:33,34    Rom 8:31-39

Ek wil julle aandag vra vir v  34 en veral vir die woorde van Jesus : “My God, my God  waarom het u my verlaat?”      Ek wil dat ons daaroor sal gaan nadink, oor die betekenis daarvan, daaroor stil  sal word.  En dat ons onsself daadwerklik sal afvra wat beteken dit vir my, vir ons.

Deur die  jare heen sou oor hierdie  woorde gepraat word, maar die een ding wat gesê kan word daaroor is dat hierdie woorde van Jesus vir ons ‘n kykie gee in die ongelooflike benoudheid wat Hy ervaar het daar aan die kruis.   Hoe verskriklik beangs Hy moes gewees het.    Ons weet Jesus het baie swaar gekry tydens sy aardse lewe. ’n Mens dink hier aan die owerstes wat Hom verwerp het.  ‘n Mens dink aan Pilatus wat Hom onskuldig oorgelewer het. ’n Mens dink aan die volk wat geskreeu het kruisig Hom. Die soldate  het Hom gespot en geslaan.  Petrus verraai Hom.    Sy vriende laat Hom in die steek.  Sy dissipels is afwesig.  Maar hier is Hy op Sy benoudste, want by alles het God Hom ook verlaat.   Daarom roep Hy uit My God my God waarom het U My verlaat.   Dit  kan ‘n mens jouself nie voorstel nie. . . die angs en verskrikking wat dit meegebring het . .  . ’n mens sal dit nooit begryp nie.   

Die kerk sou wel probeer om iets daarvan onder woorde te sit in sy belydenis. Want deur die belydenis ter helle neergedaal sou die kerk iets verwoord van hierdie angs en verskrikking.    Om van God verlate te wees, dit moet verskriklik wees.   Ons sê mos as dit baie swaar gegaan het, dat ons deur hel was;  om juis die swaarkry onder woorde te sit. Vir Jesus was dit regtig hel daar aan die kruis.  Vir eenmaal het ‘n mens die absolute verlatenheid, die godverlatenheid, die helse smarte ervaar.   Die hel word nie verniet  genoem die buitenste duisternis nie.    Waar God is, is lig, is daar lewe, is daar hoop.   En waar God nie is nie, word dit donker en verdwyn die hoop.  Om Jesus het dit donker geword vir drie uur lank, maar dit was ook donker in sy siel . . . Geen hoop . . . Hy was op ‘n einde . . .  Hy het Hom vasgeloop . . .   God het Hom verlaat.    Iemand sê so mooi:   Die hel is nie ‘n stappie wat volg na die begrafenis nie, nee, dit is ‘n verduideliking van wat gely, gekruisig, gestorwe en begrawe beteken.   Jesus is van God verlate en ly helse kwellinge en verskrikkinge.

 Dit is dan ook in die verband wat ons Rom 8:31 en verder gelees het, want dit is wat Paulus ook na verwys. Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgegee om ons almal te red. Hy het  Hom nie gespaar nie, maar Hom oorgegelewer. Die woord vir oorlewer  hier beteken  dat God Jesus uitgelewer het aan die vloek wat op die sonde gerus het.  En hierdie vloek van die sonde het alles op Jesus afgekom.  In 2 Kor 5 lees ons  Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek  as sondaar behandel. Dit het alles gebeur sodat ons daardeur gered kon word.   Dit was alles ter wille van ons. In die verband sou die kerk  na aanleiding van Jesus se kruiswoorde soos volg dit stel in die Nagmaalsformulier. Met die Nagmaal oordink en verkondig ons die dood van die Here . By die eet van die brood en die drink van die wyn roep die gemeente hom die hele lydensweg van Jesus Christus voor die gees.  :  hoe Hy sy lewe gegee het; hoe Hy soos ‘n koringkorrel in die grond geval het en gesterf het;  hoe Hy die lydensbeker gedrink het en hoe Hy van God verlaat was en uitgeroep het: My God my God, waarom het U my verlaat. En dan die woorde: sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. 

Jesus roep hierdie woorde in omstandighede van absolute Godsverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.   In die verband skrywe iemand so aangrypend .Dit beteken:  wanneer ek voel dat die hel in hierdie lewe losbreek, kan ek weet: God hou my nog vas.   As helse smarte u aangryp, mag u glo; God is nog daar.   As eensaamheid en leegheid u lewenskragte tap, mag u glo u is nie alleen nie.  As droefheid oor u sterwende kind u hart wil oopbreek, sê God :  Ek verstaan.   As die finaliteit van die kankersaal u keel wil toedruk  met angs sê Jesus :  Ek is by jou.   As verterende skuldgevoelens, selfverwyt en frustrasie u wil laat gryp na ‘n oordosis pille of ‘n rewolwer, sê Jesus, moenie.   Ek het dit reeds gedra. Die wat al regtig bang was, sal weet,  die wat werklik  bedroef was, sal weet.     Daar kom oomblikke wat net te oorweldigend is. Maar Jesus se uitroep aan die kruis verseker  ons  . . . God het ons nie verlaat nie.    Dit is die troos.

Daarom dat Paulus  dan ook uitroep aan die einde van hierdie gedeelte: Hiervan is ek oortuig . . . ; geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte  of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die leifde wat daar is in Christus Jesus ons Here.   

Ten slotte . . . dink na oor hierdie woorde van Jesus. Laat dit ons troos wees . . . Jesus het so uitgeroep . . . Hy was van God verlate sodat niks ons kan skei van Sy liefde nie.

 

Goeie Vrydag

Ds. Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai
Roeping en gewone lewe

Roeping en gewone lewe

. . . as die Here mense roep, hy sommige terugstuur in die gewone lewe in om daar as getuie vir die  Here op te tree, nie dat hulle voltyds soos die dissipels agter Hom sal aangaan nie. 

NG Kerk Gansbaai