'n Ou, grys vrou met plooie

'n Ou, grys vrou met plooie

Gansbaai Courant

Kan ‘n man nou vir jou só die waarheid vertel soos wat my man dit gisteraand gedoen het!!Dis weer een van daardie momente wat dit nie die woorde per se is nie, maar die wyse van uitdrukking.  Ons aandroetine van Villa Rosa, Nuus, Binnelanders was pas verby. Normaalweg is dit die tyd dat Man hom na die badkamer onttrek, sy nagpille kom drink  en dan kamer toe werk, maar vanaand is een van die sporadiese  uitsonderings. Op sulke uitsonderingsaande skakel ek – hy kan gelukkig nognie met die remote werk nie en ek moedig hom gladnie aan nie, want dit is één ding wat ‘n man nooit in sy hand moet hê nie - oor na Gold Rush. Ons albei kyk graag na die delwery en die masjienerie, maar toe onthou ek dat Steve Hofmeyr die gas is op Reis na Gister. Woordeloos skakel ek terug en sit maar rustig en hekel, menende my man hou ook tog van Steve. Soos gewoonlik, as iets op die skerm emosioneel raak, begin hy gesels in ‘n ander rigting. Vanaand ook, toe Steve se neus in die kerk van sy kinderdae rooi raak en hy nie kan praat nie.

“ Kyk gou vir my en sê vir my wat jy sien” sê my ander helfte. Gelukkig is daar ‘n advertensiebreuk sodat Steve kon klaar huil, anders het ek hom ignoreer. ‘n Mens moet jou eie prioriteite eerbiedig. Ek probeer: “ ‘n Ou man….met ‘n grys kop…sonder ‘n glas in sy hand…” Niks wil werk nie. Net toe Reis weer voortgaan, draai hy sy storie. Iewers in die loop van die naweek het hy my glo beskou en besef hoe oud ek geraak het!! My hare is grys en ek het dan glad plooie langs my mond! My hare was al die jare nog so ‘n mooi rooibruin  en ek het nog nooit plooie gehad nie!

En die man is heeltemal verfoeid met my! Nou moet Steve maar bly, maar só gaan ek nie my maturiteit laat aanvat nie. Dit help nie ek probeer my man die dinamika van vroulike veroudering verduidelik nie. Hy sal my laat klaar praat en dan sê “Ek verstaan niks van wat jy nou gesê het nie.” Al manier wat hy gaan verstaan is wanneer mens ‘n geldwaarde aan die verduideliking koppel. “Jong” sê ek, “ weet jy wat kos kleursel al vandag? Maklik tweehonderd rand en dan hou dit net vir 3 weke aan my kop. Gesigrome dieselfde…ek is nou op die ouderdom wat mens perdepee en donkiebaarmoeder serums moet aansmeer en dit is ongoddelik duur. Jy moet maar met vrede in jou hart na my kyk…of glad nie.” Gedagtig dat hy tevrede gestel is, kyk ek verder vir Steve. Met die volgende advertensiebreuk spring ‘n jong meisie met stywe boudjies oor ‘n heining, gly teen trappe af en fladder oor die straat tot by ‘n motor. “Het jy ook so gespring toe jy jonk was?” kom die volgende vraag. “Man” seg ek weer, “ek het sommer bo-oor die kar ook gespring, jy weet dit mos, jy het my mos getrou omdat ek so vol lewenslus was.” Op hierdie punt, as ek hy was, sou ek ‘n groen robot na oranje sien oorslaan het. Dalk het hy. Dalk was sy volgende woorde as troos bedoel. “Ek lyk vir myself dan nog so goed as ek in die spieël kyk.” Dis net hier waar die robot rooi slaan en wanneer my Overbergse brei in ‘n rol-R verander, besef hy gewoonlik hy is oor daai rooi robot. “Weet jy wat…né…, ‘n vrou en ‘n man lyk so goed of so sleg as wat die een die ander versorg, bystaan en vertroetel. Ek is bly as jy vir jouself nog aantreklik lyk, want in netjiese klere kan mens nogal twee keer na jou kyk.  En sjuut, ek wil vir Steve luister!”

Gesprek afgehandel. Ek het nog altyd van eerlike opinies gehou, maar skielik besef ek die waarde van so ‘n bietjie gesonde skynheiligheid. Veral komend van die een wat ‘n halwe leeftyd die driwwe saam met jou deur is en saam met jou oor puntige berge gestrompel het. Verbeel jou! Asof daar mense is wat sonder Botox jonger oudword!    

Carine Badenhorst

'n Ou, grys vrou met plooie

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant