Man vyf keer met mes gesteek

Man vyf keer met mes gesteek

Gansbaai Courant

‘n Man met ‘n hartprobleem, wat reeds voorheen deurgeloop het onder misdaad, het onlangs ter nouer dood ontkom kort voordat hy sy vrou by die Kaapstadse lughawe moes gaan oplaai.

Jakkals Scholtz (60) van Franskraal het die aand van Vrydag, 9 Junie kort voor 19:00, sowat 7 minute se ry van die lughawe af ‘n verskriklike slag gehoor toe hy bane verwissel het.

Dit was reeds donker en hy het glad nie geweet wat die slag kon veroorsaak nie. Hy het gedink dat hy dalk met die wisseling van bane in ‘n ander motor vasgery het.

Jakkals het afgetrek, en sy motor het nog geluier toe hy met ‘n skok sien dat ‘n vreemde man halflyf in sy motor ingeleun het deur die stukkende passasiersruit.

Dít is wat die slag veroorsaak het. Die man het hom met twee getande messe begin aanval.

Hy moes later uitvind dat die eerste messteek sy long met skaars ‘n millimeter gemis het.

Hy het instinktief sy beseerde linkerbors vasgedruk om die bloed te probeer stop en hom teen die aanval te verweer en is nog 4 keer in sy regterarm gesteek.

Van skok het Jakkals die motor laat stol. Daar was skielik nog ‘n man by die bestuurderkant.

Die messteker het die beseerde Jakkals se selfoon, wat op die passasiersitplek gelê het, gegryp.

Terselfdertyd het hulle albei geld geëis, waarna Jakkals al die kontant wat hy gehad het aan hulle oorhandig het.

Die man aan die bestuurder se kant het geskreeu hy moet die motorruit, wat op ‘n skrefie oop was, verder oopmaak.

Jakkals het verduidelik dat hy eers die motor moet aansluit voordat hy dit kon doen.  Hy het die geleentheid benut om sy motor in eerste rat te sit en weggejaag.

Jakkals gebruik bloedverdunningsmedikasie en het besef dat hy dringend mediese hulp nodig het. Hy het reg voor die lughawegebou stilgehou. 

Daar het 5 sekuriteitswagte gestaan en hulle aanvanklik nie aan sy hulpgeroep gesteur nie. Toe hy egter sy baadjie oopmaak en hulle net bloed sien loop het hulle onmiddellik gereageer en mediese hulp ontbied.

‘n Span noodhelpers het Jakkals net daar op die sypaadjie verbind, waarna hy per trollie na ‘n mediese kamer verskuif is. Hier het hulle verdere mediese hulp toegepas, hom kalmeer en suurstof toegedien.

Jakkals se vrou het hom geskakel toe haar vliegtuig land. ‘n Vrouestem met ‘n swaar aksent het geantwoord, maar nie verder gepraat nie.

‘n Mediese personeellid van die lughawe het by Jakkals sy vrou se nommer gekry en vir haar verduidelik dat sy moet uitkyk vir sy rooi oorpak, waarna die personeellid haar na Jakkals geneem het.

Jakkals het gevra dat hy in die Milnerton Hospitaal opgeneem moet word, aangesien sy seun Rudi daar naby woon.

Mediese personeel by die hospitaal het steke begin insit, maar ‘n dokter het besef dat daar groot fout is met sy pasiënt. Jakkels se longe was besig om plat te val en hy is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem, waar hy 2 dae lank behandel is.

Hy moes nog twee dae in die hospitaal deurbring voordat hy ontslaan is.

Jakkals en Mariette is in Gansbaai bekend as die kosmaakspan van die gewilde besigheid, Op-die-Spit.

Die aanval het veroorsaak dat die egpaar vir ‘n geruime tyd nie sal kan voortgaan met hulle onderneming nie.

Een ding wat Jakkals dadelik laat doen het nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, was om ‘smash-n-grab’ film op sy motorruite te laat aanbring.

Hy sê in die lig van omstandighede in Suid-Afrika, is dit ‘n uitstekende belegging wat jy vir jou eie veiligheid kan doen.

Dit is die derde keer dat Jakkals onder misdadigers deurloop. 

Sowat ‘n jaar gelede het verkeersowerhede motoriste ‘n ompad laat ry weens opstande naby Worcester. Hulle moes deur ‘n woongebied ry waar ook ‘n klipgooiery plaasgevind het. Jakkals se motorwindskerm en bakwerk is getref.

Hy het sy motor in trurat gesit, ‘n handremdraai gemaak en weggejaag na waar die verkeersowerhede gestaan het.

Die tweede voorval het in Gansbaai agter die biblioteek plaasgevind waar Op-die-Spit met tye wegneemetes verkoop.

Twee mans het hom vroegoggend al genader, maar gesê hulle moes eers gaan geld trek.

Die middag omstreeks 14:00 het hulle teruggekeer en gesê hulle kon nie geld trek nie en gevra dat Jakkals gratis aan hulle kos moes verskaf.  Hy wou eers nie, waarna die een man gevra het: “Hoe is jou hart dan?”

Hy het daarna vir elkeen ‘n hoendervulselbroodjie gegee.  Een van die twee mans het sy selfoon gegryp en hulle het met dié en die broodjies weggehardloop.

Jakkals het agterna geskree: “En hoe is jou hart dan nou!”

Jakkals is nog erg getraumatiseer na die laaste aanval op hom.  Hy vertel dat sy buurman altyd vir hom bid wanneer hy wegry vir werk. 

Hy glo dit is net genade dat hy daardie Vrydag kon wegkom uit die rowers se kloue, want hulle sou hom beslis vir dood agter gelaat het.

Man vyf keer met mes gesteek

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant