Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Teks : Hebr 13:2
Hierdie maand is die preektema gasvryheid. Daaroor kan ons lank praat . . . oor hoe pragtig dit is as mense gasvry is. . . daar is min dinge wat so pragtig is. Maar ek moet dadelik daarop wys dat in die wêreld van die Bybel het gasvryheid nie te doen met die gesellige kuier saam met vriende of familie nie, maar gaan dit oor die ontvangs van vreemdelinge, ja dit gaan oor om goed te wees vir vreemdelinge.
Nou moet ek sê as ek aan vreemdelinge dink is daar gemengde reaksie. Aan die een kant fassineer hulle ‘n mens. Ek kan dit nogal geniet om al die vreemde mense byvoorbeeld op ‘n lughawe te sien, of sommer by Kleinbaai se hawe na die toeriste te kyk. Maar aan die anderkant maak hulle ook dat ‘n mens onseker is. Juis omdat ‘n mens hulle nie ken nie. ’n Mens weet nie wat om te verwag nie. In ‘n sekere sin bedreig hulle ‘n mens, veral in vandag se tye. Dit is dan ook juis hierdie onsekerheid, hierdie bedreigdheid deur vreemdelinge wat veroorsaak dat ons meer dikwels nie optree teenoor vreemdelinge soos wat die Bybel leer nie. Dit wil sê om gasvry te wees . . .
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na wat die Bybel daaroor leer. Dink aan die Ou Testament. In Israel is gasvryheid as ‘n vanselfsprekende deug gesien. En is dit toegepas sonder dat dit beveel is of enige beloning vir die gasheer ingehou het. Die feit dat in die Hebreeuse woordeskat ‘n gebrek aan woorde vir gasvryheid is, hang moontlik daarmee saam dat dit so ‘n vanselfsprekende deug was. In die OuTestament word daar op vele plekke aangedui dat vir vreemdelinge gesorg moet word en dat hulle nie verdruk mag word nie. Kyk in hierdie verband na tekste soos Lev 19:34: “Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in die land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God. Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet ‘n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir die vreemdeling, of ‘n weeskind of ‘n weduwee”. Ook v 21: “Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie weer agterna gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir die vreemdeling” .Dink aan Ps 146:9: “Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees. . .” Israel moet die vreemdeling liefhê en die profete het dikwels die oordeel oor die volk uitgespreek wanneer daar nie reg aan die vreemdeling geskied het nie. Die begronding van die liefde en die sorg vir die vreemdeling is geleë in die feit dat hulle self vreemdelinge in Egipte was. In die Rabbynse geskrifte word gasvryheid aanbeveel as een van die belangrikste werke van barmhartigheid en word dit geplaas voor die opvoeding van weeskinders, die sorg vir gevangenes, besoeke aan die siekes en die begrawing van die dooies.
Ook in die Nuwe Testament is daar heelwat verwysings na gasvryheid. In die evangelies speel die gebruik van gasvryheid ‘n belangrike rol. In die gelykenisse word dikwels groot betekenis aan gasvryheid geheg. Dink in hierdie verband aan Lukas 10:34, die gelykenis van die barmhartige Samaritaan - en dit nogal ‘n Samaritaan. Hy het na hom gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en hom daar verder versorg. Dink aan Lukas 11:5 oor hoe Jesus juis gasvryheid gebruik as voorbeeld om iets te leer van hoe ons Vader in die hemel vir ons sorg. “ Verder sê Hy vir hulle: Sê nou een van julle het ‘n vriend en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: Vriend leen my bietjie drie brode, want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om hom vir hom voor te sit nie. En die ander antwoord van binne af: Moet my nie lastig val nie. Die deur is al gesluit en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan en dit vir jou gee nie. . .Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan om dit vir jou te gee nie omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie”. En dink aan die gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid - Lukas 14:16: “Hy het ook vir die gasheer gesê: As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou ook waarskynlik ook weer uitnooi en jou op hierdie manier vergoed nie. Nee as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blides. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou voor te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van die wat reg gedoen het”. Dink ook aan Jesus se eie optrede teenoor mense wat deur die samelewing gemarganaliseer is en hoe gasvry Jesus tenoor diegene was. In die res van die Nuwe Testament word ook dan die prentjie geteken dat Chrstene altyd bereid moet wees tot gasvryheid. Vgl bv Rom 12:13: “lê julle toe op gasvryheid”. Gasvryheid sou dan ook gesien word as een van die kenmerke van ‘n geskikte ouderling.
Dit is tog baie duidelik hoe die Bybel daaroor praat en hoe ons dan ook deur die Here geroep word om gasvry te wees. In die verband wil ek net een of twee opmerkings maak. In die eerste plek beteken om gasvryheid te betoon aan die vreemdeling om dit te bewys in sy of haar vreemdheid. En om nie as ‘n ware hulle eers soos ons te laat word nie. Dit is ons roeping om goed te wees, selfs vir vreemdelinge. Daar is die mooi verhaal uit die Talmoed waarvolgens Abraham op ‘n dag ‘n ou man vir ete genooi het. Nadat hulle klaar geëet het, het die ou man vir Abraham vir sy gasvryheid bedank. Abraham het geantwoord dat hy hom nie moet bedank nie, maar vir God wat al hierdie dinge as ‘n gawe gegee het. . Die ou man het egter geantwoord. Waarom moet ek God bedank as ek my eie gode het. Daarna het die ou man ‘n afgodsbeeld van hout uitgehaal en dit op die vloer geplaas en dit gedank. Toe Abraham dit sien, was hy hoogs ontsteld . Hy het die man gegryp en hom by die tent uitgegooi. Abraham het homself verwyt dat hy gasvryheid aan die ou man bewys het. Net toe die ou man buite die gesigsveld was, het Abraham ‘n stem gehoor. Ja,Here het hy geantwoord. Die Here sê toe vir Abraham: “Ek beskerm en versorg al vir 80 jaar hierdie ou man wat jy sopas uit die tent gegooi het. Deur alles het Ek hom gedra, al het hy die afgod die dank daarvoor gegee. Alhoewel hy nie van beter weet nie, weet jy van beter. Gaan soek die ou man, roep hom terug en laat hom welkom voel. Jy moet almal met gasvryheid bedien, selfs die wat nie verstaan dat daar net een God is nie”.
‘n Tweede opmerking: Die Bybel leer ons om jou lewe oop te stel vir vreemdelinge, dit is ‘n integrale deel van dissipelskap. Die Christelike gemeenskap is juis die plek waar erken word dat God nie diskrimineer nie en dat die skeiding en die onderskeidinge van die wêreld nie hier geld nie. Iemand stel dit so: die tafelgemeenskap wat deur Jesus tot stand gebring is, bied die ruimte waarin vreemdelinge en vervreemdes as geëerde gaste verwelkom kan word. So word ‘n teken opgerig wat die mure van vyandigheid kan afbreek en die kerk en die samlewing kan transformer.
‘n Derde opmerking: Die Bybel teken vir ons ‘n prentjie dat die seën van die Here tot ons kan kom deurdat ons gasvryheid aan vreemdelinge bewys. In die verband dink ‘n mens aan die teksgedeelte v 2: “. . . sonder dat hulle geweet het engele as gaste gehuisves. . .” Dink aan die gasvryheid van Abraham en die seën wat dit meegebring het. Dink aan die optrede van die Emmausgangers wat vir Jesus ontvang het en die seën wat dit vir hulle meegebring het.
‘n Ou Keltiese lied oor gasvryheid lui :
We saw a stranger yesterday.
We put food in the eating place,
Drink in the drinking place,
music in the listening place
and with the sacred name of the triune God,
he blessed our home, our cattle and our dear ones
and the lark says in her song;
often, often goes the Christ in the strangers guise. . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid