Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skriflesing: Hebr 11:1-13, 12:1-3
Ons leraars het in die begin van die week gesels oor ons preektemas vir volgende jaar. Ons het besluit dat November voortaan die maand van dankbaarheid sal wees en die laaste Sondag van November, die dag sal wees waar ons kom dankie sê vir medegelowiges uit die verlede, asook die hede. Ek wil vandag alreeds daarby aansluit, en dat ons reeds vandag vir die Here dankie sal sê vir medegelowiges wat ‘n groot rol in ons geloofslewe gespeel het en nog steeds speel.
Die rol van medegelowiges is nogal ‘n baie groot tema in die boek Hebr……Dink maar aan die gedeelte wat ons saamgelees het, veral v 1: “terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop” Met ander woorde, wil hy vir hulle sê, terwyl ons weet van so baie gelowiges en hulle dien van die Here, ook nou nog, laat ons uit hulle voorbeeld put en self ook die Here voluit dien. Laat ons hulle geloof as voorbeeld neem en self gelowig lewe. Daarom sal ‘n mens oplet hoedat die skrywer in hoofstuk 11 ‘n klomp gelowiges uit die Ou Testamentiese tyd se geloof as voorbeeld voorhou sodat dit as inspirasie kan dien vir die gelowiges aan wie hy skrywe. Kyk na die lys: omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer gebring as Kain; Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het; Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie; Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang; Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms; Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun; Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Isrealliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam; Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter; Omdat die Isrealliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond.
Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons hulle voorbeeld volg en laat ons self daarom elke las van ons afgooi, laat ons dus die dinge wat verhinder dat ons die Here voluit dien, laat ons dit uit die weg ruim, ook die sonde wat kan maak dat ons die Here nie voluit dien nie. Iemand skrywe so pragtig hieroor en sê : dit is as’t ware ‘n hele gallery van portrette wat die skrywer teken en voor ons ophang. Potrette uit die ou dae, portrette van ons voorgeslagte, portrette van herinnering, sodat nuwe geloof in sy lesers aangesteek kan word. Maar dink ook aan die spesifieke verse waar die gelowiges aangemoedig word om so ‘n aanmoedigende rol vir mekaar te speel. Dink aan Heb 3:13: Maar solank daar nog ‘n vandag is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat neimand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Dink aan Heb 6:12: Jul moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van die wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het. Dink aan Heb 10:24: Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Dan ook nog aan Heb 13:7: Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.
Dit is die betekenis van die verbond. Die geloof van ander word vir ons ‘n voorbeeld wat ons kan nastreef. Ons geloof as ons dan ook eerlik is, is daar omdat die Here ander mense so gebruik het om ons te help vorm in die geloof. Daarom is dit so belangrik dat ons sal dink aan die mense wat ‘n rol ook in ons lewens gespeel het en steeds speel. En dat hulle voorbeeld van geloof ook steeds vir ons ‘n inspirasie sal wees.
Ons dink hier in die eerste plek aan hulle wat ons al ontval het, ’n man of vrou, mense wat ons die Here voor dank oor die wonderlike rol wat hulle in hulle geliefdes se lewe gespeel het, maar ook in die gemeente. Ons eer die Here vir hulle. Ek dink hier kan die rol van gelowige ouers seker nie genoeg beklemtoon word nie. Watter ongelooflike invloed ons ouers ten goede ten opsigte van geloofsake in ons lewe gehad het nie. Ek is seker daarvan dat die meeste van ons ‘n wonderlike verhaal sou kon vertel in die verband. Kom ons dink vandag met dankbaarheid terug en dink aan spesifieke dinge as dit by ons geestelike opvoeding kom. Laat die voorbeeld van ons ouers vir ons as inspirasie dien. Maar daarom kan ons ook nie genoeg bid dat ons ouers steeds hierdie rol sal speel nie. Want in die eerste plek is dit ons ouers se taak om hulle kinders van die Here te leer. In hierdie verband bly die doopformulier se laaste vraag aan die ouers altyd belangrik: Belowe jy om hierdie kind van wie jy die ouers is te onderrig en te laat onderrig. Maar ook die rol van bv ‘n Christelike onderwyser. Miskien sal julle nou op hierdie oomblik aan so iemand kan dink wat ‘n ongelooflike rol gespeel het in jou geestelike vorming. Miskien selfs die rol om jou na die Here te lei. Laat ons dan die Here dank vir diegene. En steeds bid vir die onderwysers en die groot verantwoordelikheid wat hulle het in ons dag. Maar dalk as jy so terugdink, onthou jy dalk sommer iemand by die werkplek, of sommer in die vriendekring. Wat jy net weet . . . hierdie persoon het ‘n besondere rol gespeel in my geestelike vorming. Ons dank die Here vir hulle en bid dat ook hulle voorbeeld steeds ‘n inspirasie sal wees. En ons bid dat ons steeds op sulke vriende sal kan staatmaak. Maar ons dank die Here daarom ook vir die gemeente, vir die gemeenskap in daardie opsig van die gelowiges, want ook sonder die gemeente kan ons nie volhard nie.
Ek lees iemand skrywe die volgende: die hart van die geloof klop in die gemeente. Daar bewys ‘n mens jou vrymoedigheid, jou geloofsekerheid, deur jou deelname aan die belydenis. Daar ontvang ‘n mens jou inspirasie en jou aanmoediging, deurdat jy self ook weer aangespreek word tot nuwe geloof. Daar word ‘n mens vermaan dat elke nuwe dag dodelik ernstig is. Daar word ‘n mens voortgedra, kalenderjaar na kalenderjaar deur die lydsaamheid en die volharding tesame. Daar bring ‘n mens jou lofoffers, die vrug van jou lippe aan God en daar kry jy die geleentheid tot liefdadigheid en mededeelsaamheid. Die hart van die Christelike geloof klop in die Christelike gemeente.
Maar natuurlik die beste inspirasie, die beste voorbeeld is Christus self. Dit is eintlik Christus wie deur Sy Gees ander mense gebruik om ons aan te moedig. In die verband het ons in hierdie gedeelte gelees: en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus , die Begin en die Voleinder van die geloof. Ja, ten diepste is dit Jesus wat die geloof in ons skep. Hy versterk dit. Hy verdiep dit, Hy steek dit as ‘n ware aan in ons. Laat ons daarom die oog op Jesus gevestig hou. Daarom moet ons naby Hom bly, sy Woord opsoek, na Sy Gees luister en aan Hom die geleentheid bied om in ons te werk. Sy voorbeeld en sy krag is die belangrikste.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid