Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Teks: Markus 10:13-16
Ek wil julle aandag vra vir die reaksie van Jesus toe die dissipels nie wou hê dat ouers hulle kinders na Jesus moet bring dat hulle deur Hom aangeraak kon word. Hulle het mos met die mense daaroor geraas. Ons lees van hierdie reaksie in v 14: “Maar toe Hy dit sien, was Hy verontwaardig . . .” Dit beteken Hy het hulle baie kwalik geneem, Hy was verontrus daaroor en het hulle eintlik daaroor bestraf. Nou is die vraag waarom sou Jesus so skerp reageer? Wat het hulle eintlik verkeerd gedoen? Want die dissipels wou dalk net keer dat hierdie mense nie ‘n moeë Jesus lastig val nie. Amper soos jy sien hoe mense openbare figure beskerm teen die skare . Ek sluit aan by die siening dat Jesus se skerp reaksie daarmee te make gehad het dat Hy bemerk het dat die dissipels eintlik die kinders geringskat en eintlik geminag het. Daarteen het Hy beswaar gemaak. Teen die houding van die dissipels dat om na Jesus te kom net ‘n saak vir grootmense is wat kan verstaan waaroor alles gaan. Die Jode het eintlik in godsdienstige sake die kinders geringskat. Iemand merk oor hierdie reaksie van Jesus die volgende op: “’n Ander evangelie het ontstaan as die van Jesus asook ‘n ander kerk as syne as die kinders van Hom weggehou word en die Christendom slegs ‘n saak vir manne gemaak word.” Dit is omdat die hart van die evangelie op die spel was dat Jesus se reaksie so fel was.
Hierdie rede word dan ook bevestig in wat Jesus verder sou sê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” En dan die optrede van Jesus . . . “Hy het sy arms om die kinders gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.” Jesus beklemtoon: “wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” En dan gaan dit nie oor een of ander eienskap wat by kinders is nie, soos bv kinderlike onskuld of kinderlike vertroue nie, maar dit gaan doodgewoon oor die feit dat kinders klein is en nie magtig nie. Dit gaan oor kinders nietig is, gering is. Om dus in die koninkryk in te gaan, is om klein te word voor God. Dit is soos iemand geskrywe het oor ‘n opskrif by die poorte van die hemel: “Slegs kinders. Toegang vir volwassenes verbode.”
Maar hierdie rede vir Jesus se reaksie word ook bevestig deur die breëre verbande waarbinne hierdie gedeelte staan. Veral dan ook by Lukas en Matteus. By Lukas word dit onmiddelik voorafgegaan deur die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, dus vrye onverdiende genade teenoor die wat op eie geregtigheid vertrou. By Matteus is dit weer ‘n onderdeel van ‘n lang gedeelte waarin die rangstryd onder die dissipels op grond van hulle vertroue op hulle geregtigheid en die verdienstelikheid telkens ter sprake kom. Jesus het bv die vraag wie die grootste in die koninkryk is, beantwoord deur ‘n kind tussen hulle te laat staan . By al drie evangelies word die gedeelte onmiddelik gevolg deur die verhaal van die ryk jongman wat wil weet wat hy moet doen om die koninkryk te beërwe, maar nie kans sien om soos ‘n kind na Jesus te kom nie en daarom bedroef weggaan. Kinders wat niks het nie en niks is nie, gaan by wyse van spreke maklik in die oog van ‘n naald, maar nie die doeners, die rykes, die presteerdes, die volgelinge uit eie krag nie. Dit gaan in Jesus se reaksie regtig oor die hart van die evangelie, naamlik die vrye genade.
In hierdie verband staan hierdie teregwysing van Jesus ten opsigte van die dwaasheid van die dissipels as ‘n voorbeeld vir diegene wat dink dat verstaan ‘n kriterium moet wees om die heil deelagtig te raak. Maar daarom ook eintlik ‘n waarskuwing teen diegene wat tot vandag toe nog sê dat kinders nie gedoop mag word nie, omdat hulle nog nie verstaan nie. Iemand skrywe daaroor: “Asof God se genade so arm is dat Hy as ‘n ware vir ons moet sit en wag om eers tekom en te sê: Here nou glo ons, nou bely ons U Naam, nou is ons reg, nou kan U ons met vrymoedigheid doop.” Asof Hy ons nie kan liefhê solank ons nog sy vyande is nie, asof Hy ons nie kan omhels, die hande kan oplê en ons kan seën, ook al lê ons nog soos babas in ons moeders se arms nie. Daarom sou hierdie verhaaal opgeneem word in die doopliturgie van die kerk van die vroegste tye af. In hierdie verband bly die woorde van die Doopformulier darem steeds aangrypend: “ Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie.” Trouens dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die insiatief in hulle verlossing neem. Asook in die liedere: “ . . . so het Christus ook sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.” Dink aan liedere 293 en 294: “Jesus neem ons kleine kinders met ‘n hart vol liefde aan, niemand mag dit ooit verhinder dat ons vry na Hom toe gaan. Jesus roep die kindertjies , moet hulle nie verhinder nie. Hy wil hul omhels en seën en sy liefde hul verleen. Here Jesus U alleen kan ons kindertjies so seën dat ons in ons harte weet: U sal hulle nooit vergeet.” Want so sou die kerk dit verstaan dat in die doophandeling dit ook soos in hierdie verhaal gaan om die evangelie van God se genade in Christus.
Dit is daarom ook nie verrassend dat die woorde, “moet hulle nie verhinder nie”, so sou voorkom in tekste wat handel oor die doop, so amper asof dit blyk ‘n tegniese term te wees uit die dooppratyk van die vroeëre kerk. In Hand 8:36 vra die hofdienaar aan Filippus: “Daar is water, wat verhinder my om gedoop te word.” In Hand 10:47 oordeel Petrus dat Cornelius gedoop moet met die woorde: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan nou verhinder dat hulle met water gedoop word.” In Hand 11:17 verdedig hy dan die optrede deur te sê: “Hulle het net soos ons in die Here Jesus geglo en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” In Mat 3:14 waar Jesus se doop deur Johannes die Doper beskryf word, word gesê dat Johannes Jesus ernstig teengegaan het, Hy wou Jesus verhinder dat dit gebeur.
Watter troos dat die Here ons kies nog voordat ons vir Hom kies. In hierdie verband bly my eie doop as kind en my eie kinders se doop darem ‘n groot troos dat die Here regtig in ons geval die inisiatief neem in ons verlossing. Watter genade!. Daarom is ek ook so dankbaar dat die kerk ‘n paar jaar gelede opnuut bevestig het dat die kinderdoop inderdaad ‘n wesenlike uitdrukking is van God se genade in Christus. Dit was nodig toe verstaan, ervaring gedreig het om as kriterium te dien of ‘n mens gedoop moet word of nie. En herdoop toe weer so sterk na vore gekom het.
Ja, Jesus was verontwaardig toe die dissipels wou keer dat mense hulle kinders na Hom wou bring, juis omdat Hy geoordeel het die evangelie van God se genade is opdie spel. Mag die Here ons ook help om steeds net daaraan vas te hou. Mag ons sekerheid steeds net daarop gebou wees. Mag ons daarom ook in onsself klein word voor God. En mag dit ons kerkwees bepaal . . . ons hele ingesteldheid . . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid