Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Teks: Lukas 19:1-10
Ons ken die verhaal van Saggeus baie goed van hoe hy in ‘n wildevyeboom geklim het om Jesus beter te kan sien. Hoe Jesus dan met hom praat en vir hom sê dat hy vandag by hom in sy huis wil kom. Dan lees ons volgens v 8 dat hy gesê het dat hy die helfde van sy goed vir die armes gaan gee en waar hy iets van iemand afgepers het, gee hy dit vierdubbel terug. Jesus antwoord “vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Hierdie verhaal sou dan juis ook uitstaan as ‘n voorbeeld van hoe die Here uitreik na sondaarmense en sou dit ‘n wonderlike illustrasie wees van die redding uit genade alleen. Dink maar net aan die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar wat maar net gebid het “O, Heer wees my sondaar genadig”
In Saggesus se geval het dit nou gebeur . . . die Here was hom genadig.
Maar dit staan ook uit as ‘n wonderlike voorbeeld van as die Here mense roep, hy sommige terugstuur in die gewone lewe in om daar as getuie vir die Here op te tree, nie dat hulle voltyds soos die dissipels agter Hom sal aangaan nie. Hierdie gebeurtenis, die ontmoeting met Jesus was ‘n lewensverandererende ontmoeting. In hierdie lewensveranderende ontmoeting met Jesus, erken Saggeus sy sonde en is dit eintlik heimlik sy strewe om voortaan opreg en eerlik sy werk te doen om op so ‘n wyse die Here te dien. Dit sou sy roeping wees. Vir baie jare en selfs nou nog, sou dit nogal ‘n kwessie wees waar jy die Here sal dien as die Here ‘n mens roep. Vir baie mense sou roeping deur die Here beteken dat jy dan die gewone lewe agterlaat en die Here sal gaan dien bv in ‘n klooster. Tydens die Middeleeue waar die gedagte van roeping wyd voorgekom het, het dit juis dít beteken. Dit is gesien as ‘n roeping uit die wêreld uit in geestelike diens in, in kerklike bedieninge in. Soos sommige vandag nog daaroor dink. Roeping is eintlik iets wat net van predikante en priesters en sendelinge geld. Soos die profete van die OT en die dissipels van die NT. Sommige is darem bereid om toe te gee dat van sommige dit wel kan geld dat hulle geroep kan word om so in diens van die Here te staan in die kerk as ouderlinge of diakens of dienswerkers. Die punt is roeping is geestelik van aard en daarom het dit nie nie met die gewone lewe te make nie. In hierdie opsig kan ‘n mens vir altyd dankbaar wees vir die insig tydens die Hervorming dat roeping ook alles te make het met mense wat in die gewone lewe staan. ‘n Mens word ook geroep deur die Here om Hom as geroepene in die gewone lewe te dien. Daar is eintlik net een amp en dit is die amp van die gelowige mens. Almal is geroep tot die amp van profeet, priester en profeet. God roep nie mense uit die alledaagse lewe uit nie, maar in die alledaagse lewe in. Om daar as Christen te lewe. Luther het bv gesê dat die Here hom twee keer geroep het: Die eerste keer uit die gewone lewe na die klooster en toe weer uit die klooster na die gewone lewe. Hy sou ook op sy manier sê dat dit die duiwel is wat mense anders probeer wysmaak, dat roeping nie met die gewone lewe te make het nie.
Daarom is dit baie waar wat iemand daaroor opgemerk het en help dit ons om oor roeping te dink. Roeping veronderstel ‘n vaste oortuiging dat ek en my hele lewe in diens van die Here staan. In die verband dink ‘n mens aan tekste soos bv 1 Kor 10:31: “Of ek dan eet en of ek drink en of ek enigiets doen, doen alles tot verheerliking van die Here.” Ook die gedeelte in Rom 12: “Gee julleself op grond van die groot ontferming aan God as ‘n offer wat vir vir Hom aannneemlik is. Dit is die wesenlike van julle godsdiens.” Ook v 2 .
Daarom is dit ook so dat dit nie so moet wees om al hoe meer mense by die kerk betrokke te kry nie net ter wille van die kerk nie. Natuurlik wil die Here dat ons Hom ook so sal dien, maar nie in die sin dat dit dan nou meer met die diens van die Here te make het nie, meer as bv die gewone lewe, maar juis om mense by die die kerk betrokke te kry sodat hulle kan groei, sodat hulle opgebou kan word in die geloof sodat hulle in die gewone lewe verskil kan maak, daar die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees. Ons het mekaar nodig, ons het die kerk nodig sodat ons vanuit hierdie ondersteuning ‘n verskil kan maak. Want die wesenlike vraag vir die kerk is steeds wat die impak van die gemeente en sy lidmate op die omringende omgewing is. Calvyn het bv. gesê ons gaan kerk toe op ‘n Sondag om onder andere te leer hoe om in die week te lewe. Om bv ook in die gewone lewensverbande waarin ons elke dag lewe ons verantwoordelikheid as Christene na te kom. En hierdie verbande raak die gesin: Dit vra van mans om goeie eggenotes vir hulle vroue en goeie pa’s vir die kinders te wees. Dit raak ook ons vriendekringe en ons lewe met mense in die omgewing. Dit raak ook ons breër ekonomiese en politieke verantwoordelikheid. En al hierdie verbande vra van ons verantwoordelike, eerlike, billike konsiderende bydrae soos verwag kan word van mense wat hulleself Christene noem.
Die doel van ons kerk-wees gaan grotendeels daaroor dat mense gehelp word om hulle roeping in die lewe te ontdek en raak te sien en dat hulle toegerus sal word juis om in die gewone lewe as Christene te gaan leef. Beide Luther en Calvyn sou dan ook die dienskarakter van die kerk beklemtoon. Die kerk is nie ‘n doel opsigself nie, maar ‘n middel tot ‘n doel. Alles wat in die kerk gebeur, wys elders heen: of na God of na die koms van sy koninkryk in die wêreld.
In die verband haal ek die volgende opmerkings wat sekere mense gemaak het hieroor aan, dit is baie kosbaar. Abraham Kuyper, die Nederlandse teoloog wat ook premier was, het gesê dat daar geen duimbreedte van hierdie aarde is waarvan Christus nie sê dat dit nie Syne is nie. Die Amerikaanse aartsbiskop William Temple het gesê dat ons ‘n groot fout sal maak as ons dink dat die God van die Bybel net in godsdiens geinteresseerd is. Dit gaan vir Hom om die lewe. Antonie van Ruler, die Nederlandse teoloog, het ook baie helder oor hierdie saak geskryf. Hy is bekend as ‘n teoloog wat die OT baie ernstig opgeneem het, in so ‘n mate dat hy soms van die NT kon praat as ‘n addendum by die OT. Een van die redes vir hierdie beklemtoning is sy oortuiging dat ‘n mens die NT baie maklik as bo-wêrelds kan verstaanas jy nie die verankerdheid daarvan in die aardse OT in gedagte hou nie. Hy skrywe hy dat God nie in die OT van ons mense gemaak het sodat Hy daarna in die NT kon kom en dan van ons Christene (wat ophou om mense te wees) maak nie; nee God maak van ons Christene sodat ons weer in die ware sin van die woord mense kan word.
Ten slotte net die volgende opmerkings: Ek hoop dat ons almal ook so dink oor ons lewe . Dat ook ons met hierdie diepe oortuiging lewe dat ons hele lewe in diens van die Here staan. Ons almal is inderdaad deur die Here geroep. Ek kan ook maar net daarom vertrou dat ons almal hier dan ook nie hierdie onderskeid sal tref tussen die geestelike en die gewone nie, want eintlik is alles geestelik, ook die gewone dinge. Soms wonder ek daaroor as mense praat van die geestelike en die beestelike dinge. Hoe mense daaroor dink en dan wonder ek ook daaroor as mense bv die ds sien nader stap, tjips hier kom die ds . . .
Ek wil nou ten slotte vir julle vra dat ons opnuut ons hele lewe sal wy aan die Here, daarom ook al die terreine van ons lewe . . . en sommer hier by die erediens daarmee sal begin . . . dat ons dit sal doen deur die lied wat ons ten slotte gaan sing “neem my lewe laat dit Heer, U gewy wees meer en meer . . ."
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid