Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skrif: 2 Kor 5:11-21
Ter inleiding wil ek noem dat Luther gesê het dat die regte emosie of ervaring tydens die lydenstyd is nie meegevoel, ontsteltenis of verontwaardging nie; bedoelende oor dit wat Jesus alles deurgemaak het. Hy het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid. Om die lydende Jesus te herken as die Messias, as die Middelaar vir my. En daarom die verwondering, die dankbaarheid wat daarby hoort. Om oortuig te wees Jesus het dit alles deurgemaak vir my. Om daarvan seker te wees, dit was alles vir my. . .
Maar juis omdat die ervaring leer dat daar talle lidmate wat nie met hierdie Bybelse versekerheid leef nie is dit goed om tog elke jaar met lydenstyd lidmate hiermee te help. En om te vertrou dat die Here deur Sy Gees lidmate sal oortuig om ook met hierdie Bybelse versekering te leef. In hierdie verband bly die gedeelte wat ons saamgelees het darem baie kosbaar. Die apostel Paulus skrywe oor sy bediening wat hy noem die bediening van die versoening. Hy skrywe in v 18: “Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.” En dan sê hy iets baie merkwaardigs. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredings nie toereken nie. Die veronderstelling is dat die verhouding tussen ons en God gebroke was. Dit is werklik so as gevolg van ons sonde. In Romeine 5 skrywe die apostel Paulus daaroor. Daar noem hy dat ons God se vyande was, ons het ons rug op Hom gekeer, ons wou met Hom niks te doen hê nie. . . watter verskiklike situasie. ’n Situasie waarvan ons die implikasies nie mooi verstaan nie. Die verhouding tussen ons en God was gebroke as gevolg van ons sonde. . . as gevolg van ons oortredinge. Maar God het van sy kant af die inisiatief geneem en die verhouding deur Christus kom herstel. Hy het nie ons oortredinge ons toegereken nie. Hy het ons vergewe deur Christus . Hy het die wêreld met Homself versoen. En nou kom die apostel Paulus en skrywe in v 20 en 21. Ons tree dus op as gesante, met ander woorde as gestuurdes van Christus en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus : aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Die verhouding tussen ons en God is dus nou herstel . . . en dit het God bewerk. Hy het self die versoening gebring. Hy het dit bewerk. Hierby kan ons nou ook vandag aansluit….en ons doen dit juis met die oog daarop dat indien daar lidmate is wat nie met hierdie Bybelse versekering leef nie te herinner daaraan dat God deur Christus ons met Hom versoen het. Ons verkondig ook dat die Here ons oortredinge ons nie toereken nie, maar om Christus wil al ons oortredinge vergewe het. En ons herinner diegene daaraan dat die apostel Paulus geskrywe het “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het”. Daarom kom ons ook vanoggend en vra dat ook ons by vernuwing of dan die eerste keer die versoening wat God bewerk het, sal aanvaar.
Want dit is die kern van geloofsekerheid. Dit is om te aanvaar wat God deur Christus vir ons gedoen het. Om die Here daarvoor op Sy Woord te neem dat Hy die versoening tussen ons en Hom bewerk het. Dit is nou daar . . . ons kan dit aanvaar. Om dit te glo. Om dus nie daarteenoor te dink versoening met God beteken dat ek goed of reg probeer leef nie. Dit is seker moontlik om so te probeer leef en selfs om deur ander daarvoor gerespekteer te word, maar om met nog steeds ‘n diepe onrus, met ‘n diepe onvrede te leef in die hart. Om ook daarteenoor nie te dink dat versoeing met God beteken dat ‘n mens daarna moet strewe om goed en reg te leef om as ware so veel moontlik goed te doen omdat op hierdie wyse ons verhouding met God kan herstel nie. Nee, dit is onmoontlik. Daarvoor is die afgrond tussen ons en God te groot, dit kan nooit van ons kant oorgesteek word nie. Al spring sommige heelwat verder as ander, spring ons nog ver te kort. Nee ons moet aanvaar dat God reeds hierdie verhouding kom herstel het…Hy het die versoening deur Christus bewerkstellig. Ons smeek julle, aanvaar dit. . . Glo dit tog . . . dit is die waarheid.
In hierdie verband kan ‘n mens seker die situasie van mense wat dit nog nie aanvaar het nie, vergelyk met die situasie na die Tweede Wêreld oorlog . Selfs na die vredessluiting het sommige kleinere vegtende groepe op afgeleë eilandjies nog bly veg, omdat hulle nog nie geweet het van die vrede wat gekom het nie. Watter verskriklike situasie. Of miskien kan dit ook vergelyk word met die verskriklike toestand in ‘n huis as iemand na ‘n konflik deur ‘n ander vergeef wil wees en in werklikheid ook vergeef is , maar dit nie weet nie en met angs vir vergelding rondloop en met allerhande selfverwyt. So leef sommige van ons ook so ver weg, as ‘n ware, so asof ons ook nog nie gehoor het van die vrede tussen ons en die Here nie. Asof ons nie daarvan weet nie. Nee, die Here het versoening bewerk tussen ons en Hom. Hy het deur Christus kom vrede maak. Dit is nou vir ons om dit te aanvaar. Daarom die oproep : aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het. Glo dit tog. . .
In hierdie verband wil ek vandag die Here vertrou dat as daar tog iemand is wat nie met hierdie Bybelse versekering leef nie…wat nog nie vrede het in sy of haar verhouding met die Here nie, dat die Here deur Sy Gees sal kom en diegene hiervan sal oortuig en met hulle hele hart hierdie versoening wat God bewerk het, sal aanvaar. Om so ook die diepe vreugde en troos te ervaar wat dit meebring. Om ook dus te kan sê Jesus se lyding was alles ter wille van my. Om ook daaroor verwonderd te wees, en met diepe dankbaarheid vervul te wees. Om geloofsekerheid te kan hê. Om daarom ook hartlik te kan sing die woorde van die lied: “Ek weet verseker Jesus is Heer. Hy het my sonde uit liefde vergeef. Ek was verlore, maar is gevind, nou het ek vrede ek is Gods kind. Hy is my leidsman – Hy laat my leef. Hy is oorwinnaar, Hy is die Heer. Uit sy genade, liefde en trou weet ons hoe God sy kinders behou”. Watter vreugde, watter genade. God het my sonde uit liefde vergeef. Watter genade om op ‘n goeie dag net daarvan oortuig te wees. God het versoening tussen my en Hom bewerk. Om dus nie meer te leef met hierdie onrus, hierdie onvrede in die hart nie. In die verband bly die storie van die suksesvolle Amerikaanse sakeman Keith Miller darem altyd merkwaardig. Julle ken dit seker. . . Hy was ‘n suksesvolle sakeman in die oliebedryf. Hy was baie godsdienstig, baie meelewend en selfs iemand wat leiding gegee het op kerklike gebied. Maar hy het hierdie diepe onrus in sy lewe gehad. Hy het gehunker na groter vreugde. Uiteindelik is hy na die kweekskool om op die manier dieper lewe te soek. Maar dit was alles tevergeefs. Hy is toe terug na die sakewêreld. Op ‘n dag het die evangelie van God se liefde egter vir hom skielik helder en daarmee ‘n vreugdevolle werklikheid geword. Dit het sy hele lewe verander vanaf sy huwelikslewe tot sy menseverhoudinge en sy werk. Hy het toe ‘n nuwe boek geskryf oor hierdie nuwe vreugde, A taste of new wine. Binne ses jaar was daar 21 herdrukke en meer as ‘n halfmiljoen verkoop.
Ek vertrou dat ons almal hierdie versoening ken en ook hierdie vreugde ervaar en dankbaar as gevolg daarvan. Ek vra dat ons daarvan sal getuig en ander ook sal help om dit te aanvaar. Om ‘n pad met mense te loop en vir hulle te bid in hierdie verband.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
. . . as die Here mense roep, hy sommige terugstuur in die gewone lewe in om daar as getuie vir die Here op te tree, nie dat hulle voltyds soos die dissipels agter Hom sal aangaan nie.