God se Woord... Tolle lege Pinkster 2007

God se Woord... Tolle lege Pinkster 2007

NG Kerk Gansbaai

 

Pinkstertyd 2007 in Gansbaai was die tyd vir ‘n nuwe verstaan van die Bybel.
Ons het weer die uitnodiging gehoor dat ons die Bybel moet neem en lees (Tolle lege).  Al die preekpunte het stilgestaan by dieselfde waarhede en dit het die gemeente werklik opgebou. Die Bybel as die Boek om te neem en lees... Die Bybel as ‘n Bril, Stem, Saad, Brood en Krag, Anker, ‘n Skat, Balsem en Swaard is aan Pinkstergangers voorgehou.

Kom ons dink bietjie na daaroor en ons voeg nog ‘n paar beelde, van wat die Bybel vir ons beteken, by:
Die Bybel is vir ons ‘n Spieël. Dit het verskillende betekenisse. Soos om in ‘n dowwe spieël te kyk, begryp ons eintlik nog so min, baie dinge nog vir ons verborge. Daarom: wat vir ons oorbly, is om nie alles te verstaan nie, maar in liefde teenoor mense te leef. Jakobus gebruik die beeld van die spieël om ons te herinner aan wie ons is. Ons leer onsself ken in die Bybel, ook die dinge wat ons nie wil weet nie. Ook is ons as gelowiges spieëls wat Christus in hierdie wêreld reflekteer. Hoe meer ons in die spieël van God se Woord kyk, hoe meer word ons verander. Die belangrikste nog is dat ons in die spieël van die Woord vir Jesus Christus sien en ons so ontdek wie God waarlik is.

Die Bybel is ook ‘n Stem, omdat die lewende, heilige God in die Bybel met ons praat.  Op verskillende maniere en deur verskillen-de mense. God praat met ons in Jesus Christus deur sy Woord en Gees. Dit is ‘n wonderlike groot gedagte.

Die Bybel was ook nog altyd die Kerk se Skat. Dit is verrassend en onoortreflik. Die Bybel is ‘n skat, want dit is vol troos. Jesus sê vir ons: Moenie vrees nie, dit is die skat en die evangelie. Dit het hier nie net te make met ‘n “moenie”, maar eerder met ‘n “hoef nie”. Jy hoef nie te vrees nie. God skenk ons die uitnodiging om bevry te kan lewe.

Die Woord is ook ‘n Wet, maar die wet gee vir ons riglyne om so ‘n wêreld tot stand te bring soos wat God vir ons wil hê. Die evangelie kom na ons toe in die vorm van die wet, want wette het te make met betroubaarheid. So bring God se Bybel ook sekerheid van verwagtings, skep fondamente vir ons lewe, bring orde in chaos. Die wet gee ons die ruimte waarbinne ons met vrymoedigheid God se Kerk kan wees.

Hierdie Woord is egter baie weerbaar in hierdie wêreld, dit is soos saad wat gestrooi word, uitgelewer aan die natuur. Op die oog af lyk die prediking van God se Woord onsuksesvol. Dank God vir die krag van die saad in jou hart en mag ons aanhou strooi en vertrou op God se krag wat die saad sal laat opkom.

Die Bybel is die Brood van die lewe, ons kan nie daarsonder leef nie. Soos die manna in die woes-tyn voed die Woord ons en lei ons ook om deur die eet van die brood een te word met die lewende Woord.

Die Bybel is ook ‘n Bril met behulp waarvan ons na die wêreld kyk. Skielik het ons onderskeidingsvermoë, goeie oordeel en insig in ons eie lewe en probleme. Ons kyk na die wêreld vanuit ‘n sekere wete en kennis en hoop, wat na ons toe kom uit die bladsye van die Bybel.

Die Woord van God is ook Lig wat duisternis laat verdwyn, wat sekerheid gee. Die Woord getuig oor die Woord wat vlees geword het, die Ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Die Psalm-skrywer noem dit dan ook die Lamp vir ons voete. Deur die Woord ontbloot God ons wese. Die Gees wat ons gestroop voor Hom laat staan, wat ons daaraan herinner dat niks vir God weggesteek is nie. Eendag by die oordeel sal God vra dat ons rekenskap gee oor ons minagting van die Woord. Omdat die Woord ook God se oordeel bevat, smag ons dan ook na die Woord as Balsem.

Die Woord is vol beloftes van Jesus se intrede vir ons by die Vader, dat net Jesus die stukkende wêreld en ons gebroke harte vol skuld weer kan heelmaak en gekom het om dit te doen. Die Woord leer ons van Jesus se ontferming. Die Woord gee hoop, dit ons Anker. Die Woord is ewig vas en waar. Die Woord is ons anker en hoop, want dit vertel ons van Christus wat ons anker en hoop is.

Mag ons die Woord elke dag nuut ontdek. Dié van u wat nog meer oor die wonder van die Woord wil leer, lees gerus die boek van Dirkie Smit: “ ‘Neem, lees!’ Hoe ons die Bybel lees en verstaan,” wat ook die inspirasie vir die Pinkstertyd en hierdie artikel was. 

 
God se Woord... Tolle lege Pinkster 2007

NG Kerk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai