Gebed

Gebed

NG Kerk Gansbaai

Volgens Luk 18:1-8 berus ons krisis oor gebed in krisistye op veral 2 misverstande.  En nou weet ons mos dat misverstande uit die weg geruim kan word.

 Die eerste misverstand het te doen met ons verstaan van die doel van gebed of die wese van gebed. 

 

Baie gelowiges raak moedeloos en hou selfs op met bid omdat hulle nie die doel van gebed reg verstaan nie.  Daar is baie Christene wat bewustelik of onbewustelik meen dat gebed om ons gaan...om my behoeftes, om my wil, om my koninkrykie.  Vir baie is gebed ‘n middel of metode om jouself te versterk, ‘n middel om voorspoed in my godsdiens te verseker, dit is ‘n middel om God te laat doen wat ek graag wil hê Hy moet doen. 

Die gedagte dat gebed nie altyd ‘n towermiddel is om die dorings uit jou vlees te haal nie, maar dat dit eerder die  bevestiging daarvan is dat die dorings daar hoort(Paulus) - gaan teen ons grein in.  Die gedagte dat gebed nie noodwendig beteken dat die las van jou skouers afgehaal word nie, maar dat jy opnuut die kruisweg moet bewandel, pas ons nie

 

Een van die belangrikste regstellings wat Luk 18 vir ons bring, is dat gebed nie te doen het met die verkryging van sekere spesiale voorregte nie, maar gebed het volgens hierdie gelykenis te doen met die Reg(wet).  Die begrip “Reg” kom ‘n paar keer voor in hierdie gedeelte.  Dit word deur die weduwee, die regter en deur JX self gebruik.  Die hele gesprek tussen die weduwee en die regter vind plaas binne ‘n regskonteks/situasie, soos in ‘n hof.(regter en aangeklaagde).  Die weduwee in hierdie gelykenis het met die afsterwe van haar man baie voorregte verloor.  So is sy na haar man se dood na die buitewyke van die samelewing uitgeskuif.  Sy het geen status meer gehad nie.  Die regter, daarenteen, was die simbool van die hoogste gesag.  Sy woord was wet.  Volgens die gelykenis was hierdie regter ook nog ‘n onregverdige regter.  Watter kans het die weduwee gehad om gehoor te word?  En tog het sy aangehou pleit sonder om moedeloos te word.  Waarom?  Want dit wat die weduwee gevra het, was meer as die regstelling van haar eie saak

 

In Eks 20 ontvang Israel die Tien gebooie by die berg Sinai.  Hierin is God se wette of wil vir Sy volk saamgevat.  Vanaf Eks 21-24(Bondsboek genoem) vind ons verdere wette of gebooie wat vir die volk gegee is om hulle te help om reg teenoor mekaar te leef.

 

In Eks 22:16-31 handel hierdie gebooie of riglyne oor mense se optrede teenoor mekaar.  In vers 22 lees ons:  “Jy mag geen weduwee(weeskind) verontreg nie”.  Die weduwee van Luk 18 pleit nou dat hierdie gebod van God nagekom sal word.  Dat reg sal geskied deur God se gebod oor weduwees na te kom.  Sy pleit nie vir haar eie selfsugtige behoeftes nie, maar vir die doen van God se reg/wil.  Om hierdie rede is baie uitleggers van mening  dat die weduwee in hierdie gelykenis die simbool is van die kerk.  M.a.w. in hierdie gelykenis verteenwoordig die weduwee die  kerk wat bid in nood.  Die weduwee se gebed, is die gebed van die kerk wat pleit dat God se geregtigheid sal geskied, wat pleit dat Sy wil  sal heers op aarde.

 

As ons gebed so verstaan, kan gebed gevaarlik wees, want God se reg, Sy wil lyk anders as ons sin.  As die kerk bid dat God se wil of reg moet geskied in SA, moet ons weet:  dit mag die einde van ons voorregte beteken.  As ons bid terwyl ons die opersasiesaal binnegaan, mag God se reg sy loop anders neem as wat ons verwag het.  Van Ruler skryf oor “onbeantwoorde” gebede die volgende:  was al ons begeertes wat ons in gebed voor God uitgespreek het werklik begeertes in Christus, of was dit begeertes in Adam?  Daar is die stryd van die Gees teen die vlees.  Die gebed is die spreke met God en daarom die opstanding van die nuwe mens en die kruisiging, afsterwe en begrafnis van die ou mens.

 

Die 2de misverstand wat Luk 18 uit die weg wil ruim is die misverstand aangaande ons verstaan van God.

Baie gelowiges reken,bewustelik of onbewustelik, dat dit uiters moeilik is om God met ons gebede in beweging te bring.  God is ‘n God wat taai is, selfs hard is.  Hy is onverbiddelik en wil net Sy planne uitvoer.  Maar as jy lank genoeg aanhou, kan jy God sagmaak.

Cicero het iewers gesê dat gebed beteken dat ons die gode moet afmat. Ons moet die gode moedeloos bid.  So dink ons oor gebed en oor God.  God kan nie vir ewig uithou nie.  Iewers moet God moeg raak, afgemat raak vir ons gepleit dat Hy maar toegee.  Is dit waar?  Is God so?  Is dit wat Luk 18 oor God sê? 

 

Met die eerste leesslag van Luk 18 klink dit of die gelykenis juis dit wil sê.  Maar lees ons Luk 18 reg, dan ontdek ons dat Lukas sê:  God is juis nie soos hierdie onregverdige regter nie, God kan nie met hom vergelyk word nie.  Om hierdie rede sê baie mense dat ons teksgedeelte nie ‘n gelykenis is nie, maar ‘n ongelyk is(kontrasgelyk).  Al lyk God soos die regter, is Hy nie soos die regter nie.  God is goed.  Hy is die liefdevolle en genadige Regter.  Volgens verse 7-8 luister Hy juis na ons geroep.  Hy laat reg geskied in die lewe van Sy kinders.  Selfs al sou ons moed opgee met God en met gebed, God gee nie moed op met ons nie.  In die operasiesaal is God nader aan ons as die operasiekleed, in ons onseker land kan ons weet, God het nog nooit uit SA geëmigreer nie.  God hoef nie in SA of in ons nood ingebid of teruggebid te word nie, Hy is Immanuel:God met ons. 

 

Volgens Luk 18 is gebed in die 1ste plek  nie om my wil te laat geskied nie, gebed is nie daar  om my behoeftes te bevredig nie, maar gebed is om te bid dat God se geregtigheid, Sy wil in my lewe en in die wêreld om my  sal seëvier.  Gebed is in die 2de plek , nie ‘n manier om God se aandag te vestig op my lyding nie, is nie ‘n manier om God   in beweging te bring nie, dit is nie ‘n manier om God te oorreed om reg aan my te laat geskied in my benoudhede nie,  maar ware gebed glo...“Want sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?....Ek sê vir julle:  Hy sal hulle help, en gou ook!  Gebed is geloof, gebed is genade  “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op aarde vind?  AMEN

Gebed

Ds Willie Kotze

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai