Openbaring 1

Openbaring 1

NG Kerk Gansbaai

Teks:  Openbaring 1:8-20

Ek wil graag julle aandag vra vir die woorde vanaf  v 4 as deel van die aanhef: “ Van Johannes. Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde”.   En dan ook die woorde in v 17 “Moenie bang wees nie, dit is Ek,  die Eerste en die Laaste, die Lewende.  Ek was dood en kyk, ek lewe tot in alle ewigheid; en ek het die sleutels van die dood en die doderyk”.  


Ek wil egter net ook vra dat ons vir ‘n oomblik nadink oor die agtergrond. Van groot belang is die datering waarin algemeen aanvaar word dat dit geskryf is teen die einde van die regeringstyd van keiser Domitianus, ongeveer 95 nC.   Hy het keiseraanbidding gemaak tot toetsteen vir trou aan die ryk.   Dit het geweldige vervolging van Christene veroorsaak.  Iemand het daaroor gesê:  Hier het ons die beliggaming van die wêreldryk  en die wêreldheerser as sodanig.  Julius Ceasar het homself reeds goddelik genoem.  Oktavius  sou ‘n kind van Venus wees en word keiser Augustus,  die aanbiddingswaardige genoem.  Caliqula dra soos ‘n god goue tooisels in sy hare.  Dit was egter eers Domitianus wat ten volle as die  Heer erken wou word en druk op die onderdane toegepas het.  
Hierteen het die Christene hulle verset, hulle kon nie daaraan toegee nie.  Daarom is hulle vervolg.   Dit is ook teen hierdie agtergrond wat ‘n mens die gedeelte moet verstaan  wat daaroor handel dat as jy die nie die merk op jou hande en voorkop het nie, jy ook nie sal kan koop en verkoop nie, dus as jy nie die keiser  aanbid nie, sal jy nie kan handel dryf nie.   Dit was regtig ‘n situasie van lewe en dood.   Kies jy om eerder openlik uit te kom dat daar net een Here is en dit is Jesus Christus  en so te kies om nie die keiser te aanbid nie, is jy ten bloede vervolg.   Die Christene was regtig in ‘n krisis. Johannes self was verban na die eiland Patmos omdat hy die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het.  Daarvan skrywe hy in v 9  “Ek Johannes is julle medegelowige en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos waarheen ek verban is omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het”.   Dit is omtrent die buitelyne van die situasie. . . die agtergrond . . . hoe erg dit werklik was, sou ‘n mens jou nouliks eintlik kan voorstel.    Maar wat ‘n mens jou nou kan indink, was hoe groot die versoeking was om eerder maar toe te gee aan die keiser se versoek.   Is dit regtig die moeite werd om jou lewe op te offer vir die Naam van die Here.  Is dit so erg om maar dalk net te sê jy aanbid die keiser . . . dink aan al die voordele wat dit inhou . . . en dink net wat dit alles beteken om dit nie te doen nie.   Watter ongelooflike situasie . . . In hierdie omstandighede kan jy net jou indink hoe groot die behoefte  daarom ook was aan troos en bemoediging.  


En daarom  dan  hierdie  boek.   Dit is regtig ‘n wonderlike boek van troos en bemoediging aan Christene wat ten bloede vervolg is omdat hulle nie die keiser wou aanbid nie.  En dit alles in die jaar ongeveer 95 nC. Dit is veral op die manier waarop die Here vir Johannes gebruik het om die gemeentes te vertroos en te bemoedig waarop ons gerus kan let . . . deel daarvan is die woorde van die gedeelte wat ons saamgelees het.    Kom ons luister weer na die woorde wat deel vorm van die aanhef.  Hou altyd in gedagte wie die mense is aan wie die brief gerig is en hulle omstandighede.  Onthou die belangrikheid van bemoediging en troos . . .(v4 en 5)” Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste voor sy troon en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan  het, die heerser oor die konings van die aarde”.  En voeg hy by. . .(v7)”Kyk Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien”. . . En dan die woorde (v 17) . . .”dit is ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende.  Ek was dood en kyk  Ek lewe tot in alle ewigheid  en ek het die sleutels van  die dood en die doderyk”.   Waarin sou die troos en die bemoediging bestaan?  As hulle dit sou hoor,  en dit is was Johannes se bedoeling, dat hulle sou hoor dat hulle toekoms in die Here se hande is en dat die vervolging nie die laaste sê sou hê nie.   Dit hoor ‘n mens in die woorde . . . “Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom” . . . genade en vrede van Hom  wat die tyd in sy hand hou. Genade en vrede van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.  Die Een in wie hulle glo, is die Heer oor  die magte nou.  Deur Jesus se opstanding is die magte oorwin waarvan die dood ‘n versamelnaam is en hulle as gelowiges deel in hierdie oorwinning. En hierdie  Here is die Eerste en die Laaste.   Hy hou die geskiedenis in Sy hand.  Al gebeur dit nou so dat hulle ten bloede vervolg word, dat dit so ongelooflik moeilik is vir hulle, moet hulle moed  hou, moet hulle vasstaan, want  die Here het oorwin en hulle sal uiteindelik daarin deel.  Hulle moenie verslap in hulle getuienis dat Jesus die Here is nie.  Dit mag miskien nou lyk asof die magte van die Bose die oorhand het, maar dit is in werklikheid oorwin.  Watter troos en bemoediging.  ‘n Mens kan maar net dink hoe hierdie boodskap  van die Here deur  Johannes hulle sou versterk om te volhard in hulle getuienis , ten spyte van die daaglikse bedreiging.

En nou is dit juis hierdie troos en bemoediging wat ons ook maar moet hoor. Ons moet ook hoor. . . Genade en vrede vir julle  van Hom wat is en wat was en wat kom. . . ons moet ook hoor van Jesus, die eerste wat uit die dood opgestaan het . . . ons moet ook hoor dat Jesus die heerser oor diekonings van die aarde is . . .  ook ons moet hoor . . . Ek is die Eerste en die Laaste, die Lewende.  Ek was dood en kyk ek  lewe tot in alle ewigheid en ek het die sleutels van die dood en die doderyk.   Kortom ons moet ook hoor dat Jesus die Here is.   Ons moet ook hoor dat God deur Jesus die magte oorwin het.  Ook ons moet gedurig daaraan herinner word.  Want, alhoewel ons omstandighede drasties verskil, leef ons in tye wat dit vir sommige kan voel dat daar is magte en kragte aan die werk waaroor ons geen beheer het nie, wat ook eintlik maar kan maak soos dit wil.  In hierdie verband lees ek dat iemand die volgende skrywe: “Ons nood is dat ons magteloos is”. Uitgelewer aan magte, aan kragte, aan invloede buite ons beheer, wat skynbaar met ons kan maak wat hulle wil.  Soms is dit persoonlike magte  soos bv geweldenaars of net liefdelose onbarmartige optrede.  Soms is dit onpersoonlike magte soos siekte en dood. Soms is dit magte in onsself . . . begeertes, hunkerings, geaardhede, versoekings, sonde, liefdeloosheid, verslawings. En ons leef in vrees vir hierdie magte. Ons het behoefte aan bystand, hulp, krag, ondersteuning, redding, oorwinning.   Is dit nie so dat ons soms voel dit daar is sulke magte en kragte en ons daaraan uitgelewer is. Magte van geweld en onreg,  dat dit soms voel dat die skelms en die geweldenaars regeer . . . die magte van siekte of dood. Ons wil met deernis dink aan diegene wat ernstig siek is, die wat kanker het . . . wat so hoop dat hulle gesond sal word, maar sien hoe hulle swakker word. Dink aan hulle wat arm is. Dit sal my altyd bybly van die persoon wat aan my gesê het dat jy aan alles iets kan doen, maar aan armoede niks . . . maar dit was omdat hy moedeloos was, uitgelewer gevoel het daaraan.  

Ons moet ook hierdie boodskap hoor, ons wat onseker is oor wat die toekoms inhou te opsigte van die ekonomie. Ja ook in ons tyd moet ons  hoor wat Johannes vir hierdie gemeente gesê het.  Ook ons wat al blootgestel was aan verslawing in een of ander vorm. Die bekendste seker drankverslawing. . . en wat weet watter hartseer daardeur  kom, hoe afbrekend dit kan wees. Hoe moedeloos dit families  maak . . .ons moet hoor wat die Here deur Johannes vir hierdie gemeentes wou sê.   Sodat ons  te midde van dit alles nog steeds kan getuig . . . Jesus is die Here.   Aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.   Dat ons steeds te midde van dit alles sal vashou daaraan dat die koninkryk van die Here onstuitbaar kom in hierdie wêreld, ten spyte van al die bose mense en dinge . . . dat ons steeds sal bly hoop . . . en daarom sal volhard as getuies

En ook sal hoor . . . Kyk hy kom met die wolke en al die mense  sal Hom sien  . . . ons behoort aan Hom.

Gebed van toewyding
Outeur:  Willem A Visser ‘t Hooft

Here ons wil U instrumente wees. Ons het niks om U aan te bied nie, behalwe ons begeerte om u in die wêreld te gaan dien.  Maar ons ken u as die Een wat die onbenullige dinge van hierdie wêreld vir U gebruik uitkies.  Dan sal U tog sekerlik ook vir ons,  selfs vir ons uitkies om u dienaars te wees.  Ons kan nie uit ons eie u boodskap aan die wêreld oordra nie.  Skenk aan ons die vermoë om nie ons eie woord nie, maar U Woord te spreek, die woord waardeur mense U leer ken en liefkry. 


Skenk aan ons die moed om die Naam van Jesus  Christus voor die  wêreld te bely.  Help ons om die nood van mense vir ons aan te trek, ‘n naaste vir hulle te wees en met hulle te  deel wat u ons geskenk het.  Ons vra nie om die vrug op ons werk te sien nie.  Ons wil net weet dat u ons gebruik om u verlossingswerk te verkondig en dat u koninkryk gebou sal word.  Stuur ons Here , as getuies van die goeie nuus van u liefde, soos U dit in Jesus Christus vir ons geopenbaar het.
Amen

Openbaring 1

Ds Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai