Triomftog van die Evangelie

Triomftog van die Evangelie

NG Kerk Gansbaai

Skriflesing:  2 Kor 2:12-17

Verlede Sondag praat vra ek vir die kinders in die saaldiens uit oor dinge wat lekker ruik. Julle kan dink hoe interessant die antwoorde was.  Sommer in die begin antwoord een  - gebakte brood, ander weer spuitgoed, blomme, seep, ekself wys vir hulle toe ook plante wat lekker ruik soos laventel, soos roosmaryn. . . en ook ‘n plant wat ek dikwels sien as ek skeef slaan op die golfbaan, so ‘n skerp reuk,   mense sê dit is in boeretaal die aasbossie of die anysbossie, maar dit was interessant. Ek is seker ons sal ook ‘n lekker gesprek kon hê oor dinge wat lekker ruik, ook soos plante waarvan jy die blare vryf en die lekkerste reuke kry. Ek sê dit inleidend . . . n aansluiting by die feit dat ons vandag in die Bybel ook oor geur gelees het.  

Vergelyk in hierdie verband  v 14 en 15
Kom ons lees  weer die verse: ”Deur ons versprei Hy die kennis van Christus soos ‘n aangename geur.  Ons is die wierrook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur die bereik wat gered word en die wat verlore gaan”.   Heel spesifiek verwys Paulus hier na ‘n geur of ‘n aangename geur. 

Hoekom sou die apostel Paulus so geskrywe het?
Ons moet onthou dat die apostel Paulus van dorp tot dorp gegaan het en die goeie boodskap van die Here se liefde vir die wêreld  soos Hy dit bewys het deur Jesus  vertel het.    Dit was maar ‘n moeilike taak.  Hy het byvoorbeeld baie teenstand gekry. . . soms is hy letterlik weggejaag uit ‘n dorp. . . dan moes hy vlug. Alles het nie ook altyd uit gewerk soos hy dit beplan het nie.   Soos byvoorbeeld dat hy en ‘n medewerker Titus mekaar by ‘n plek met die naam van Troas sou kry en hy nie daar was nie.   Paulus was baie bekommerd en weet nie wat van Titus geword het nie.   Maar dan dink hy daaraan dat hy wat Paulus is, is mos deel van die Here se werk en dat die Here self sorg vir sy werk.  Hy dink daaraan hoe die Here se werk voortgaan ondanks teenstand, dat mense in Jesus glo, dat hulle Hom dien.   En hy noem toe hierdie werk van die Here die triomftog van die Here.(v 14)  Maar aan  God die dank. Hy voer ons altyd saam in sy triomftog.   Met hierdie woord ”triomftog”, dink Paulus toe aan die leiers van destyds wat as hulle die vyand verslaan het,  met die oorwonne vyand in die stad ingestap het sodat almal kan sien die oorwinning is behaal oor die vyand.    En wanneer hulle so gestap het en almal baie bly is, is wierook gebrand wat ‘n wonderlike ruik afgegee het om almal aan die oorwinning te herinner.  Vir die gevangenes was dit maar ‘n slegte reuk . Vir Paulus het dit op daardie oomblik gevoel hy is deel van die Here se oorwinningstog  . . . soos hy dit noem die Here se triomftog in hierdie wêreld. Dit is wat die evangelie se boodskap ten diepste is. Ons moet besef dat met Jesus se kruisiging en opstanding  God die oorwinning oor die Bose  behaal het.    Kol 2:15 ”Hy het elke mag en gesag  ontwapen en hulle in die openbaar vertoon  deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer”.    In Kol 1:13 ”Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet”.   Daar is nou redding vir die wêreld. . . vir die wat in Jesus glo.  En nou verkondig hy hierdie boodskap. . . en mense aanvaar dit. . .  ten spyte van teenstand, ten spyte daarvan dat sommige dit as dwaasheid beskou of onsin, en ander dit as aanstootlik ervaar, en ten spyte van dat alles ook nie altyd uitwerk soos beplan nie.  Maar aan God die dank. . . daarom skrywe hy . . . Deur ons versprei Hy die kennis van Christus  soos ‘n aangename geur.  Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word.    Die bring van hierdie boodskap, die feit dat mense in Jesus glo, is alles ‘n bevestiging  van die werk van die  Here  wat voortgaan.  ‘n Mens kan nogal probeer voorstel hoe Paulus gevoel het. . . die kennis van Christus gebring deur hulle soos Paulus wat dit verkondig is soos ‘n aangename geur. Hoe wonderlik moes dit nie vir hom op hierdie oomblik gewees het nie. Sy taak is ‘n groot taak, maar dit is alles deel van die Here se werk. . .  en dit beteken niemand kan dit in werklikheid keer nie.   Watter genade om so deel van die triomftog van die Here te wees.     Maar watter troos is dit nie ook vir ander wat onder moeilike omstandighede vir ander van die Here vertel.  Ook hulle kan voel hulle is deel van die triomftog van die Here in die wêreld. . . al is hulle partykeer moedeloos. Hulle werk vir die Here, hulle bring van die wonderlike boodskap is soos ‘n heerlike geur . . . juis omdat dit vertel van die groot redding van die Here. In hierdie verband dink  ek byvoorbeeld aan mense wie ons gemeente ondersteun om hierdie boodskap van die Here se liefde aan ander te bring. . . ek dink aan ds Christo Wooding. . . onder moeilike omstandighede. . . mag hy altyd weet ook hy is deel van die Here se triomftog in die wêreld. . . ook sy teenwoordigheid daar in die Transkei is soos ‘n heerlike geur wat  ander sal herinner aan die oorwinning van die Here oor al wat sleg is en dat daar redding is vir diegene wat in Jesus glo.    Ek dink ook so aan Bongikosi in die Makatini vlakte. . . ek dink aan sy werk daar op die grens van Mosambiek. Mag ook  hy altyd onthou dat sy teenwoordigheid daar met die boodskap van die Here wat hy verkondig,   is ook soos ‘n heerlike geur, want hy is deel van die oorwinningswerk van die Here. . .

Maar ook ons as gemeente, as kinders van die Here hier in Gansbaai moet dit besef. . . ook ons teenwoordigheid  hier as kinders van die Here maak ook deel uit van die triomftog  van die Here in hierdie wêreld.     Van Sy wonderlike verlossing.      Ook ons wat vertel van die Here se liefde, ook ons met die boodskap van die Here, ook ons  is soos ‘n heerlike geur van die verlossing van die Here. Ook deur ons word die kennis van Christus versprei soos ‘n heerlike geur.   Ons is ook die wierook wat deur Christus vir God gebrand word.        Ons is deel van hierdie wonderlike werk van die Here.   Die boodskap word hier verkondig.  In die naam van die Here word goed gedoen.    En dit alles gebeur  ten spyte ook van teenstand, twyfel, onbetrokkenheid,    maar veral ook ondanks ons eie menslike onvermoë. Ons bestaan  as gemeente hou alles verband met die krag van die Here. 

Ek dink dit is nogal veral baie vertroostend vir ons dominees  om dit te weet en dit regtig te glo. Ek kyk in die week weer na die kosbare boek van ds Schalk van Wyk voorheen van Kleinmond met die veelseggende titel  van “My ds is hopeloos” Ek lees weer die komiese opmerking in die boek van die lidmaat wat dit van sy ds gesê het,julle ken dit seker ”My ds is hopeloos. . . In die week is hy onsigbaar, op Sondag is hy onverstaanbaar en aan die einde van die maand is hy onbetaalbaar”.    Maar watter troos dan om te weet dit hang regtig nie werklik van jou af nie ,  maar ten diepste van die Here. Ek bedoel dit ten opsigte van ons werk, maar ook so die ouderlinge en diakens, die lidmate.  Ons is deel van die Here se werk. Dit bly altyd merkwaardig wat die apostel  Paulus oor sy prediking geskryf het . Vergelyk  1Kor 2:1 ”Wat my betref broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimenisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie.  Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praaat nie as oor Jesus as die Christus  en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid en met groot angs en huiwering , het ek na julle toe gekom.   Die boodskap wat ek verkondig het julle oortuig  nie deur geleerdheid of welsprekenheid nie,  maar deur die kragtige werking van die Gees.   Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God”.    In hierdie verband ook skryf hy in 2 Kor 4:7 ”ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat dus alles oortref, kom dus van God”  En natuurlik ook 2 Kor 12, die gedeelte oor die doring in die vlees,  dit was daar sodat hy nie hoogmoedig sou word nie. . . My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.   Watter troos. . .vir ons almal.

Ja, in die begin het ek  verwys na die dinge wat lekker ruik. As ons weer iets lekker ruik,  dink dan aan die woorde van die apostel Paulus in 2 Kor 2, aan die werk van die Here, Sy oorwinning oor die Bose, en dank Hom daarvoor. Ons sê dankie vir die boodskap, ons sê dankie dat ons daarvan getuies kan wees, ten spyte van ons eie onvermoe. . .  Ons eie swakheid.. .
 

Triomftog van die Evangelie

Ds Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai