Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skriflesing: Mat 5:3
Ons tema vir Mei is afhanklikheid. Ek wil vandag julle aandag vra vir v 3: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”. ’n Mens sou dit ook kon vertaal. . . gelukkig is hulle wat elke dag uit God se hand leef. Gelukkig is diegene wat van Sy goedheid afhanklik is, Hy sal sorg dat diegene plek het in Sy nuwe wêreld.
Mense wat weet sê dat ons hierdie woorde moet verstaan teen die agtergrond van Jes 61:1-3, daar staan die volgende geskrywe: “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om die wat moedeloos is op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir die wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf, maar almal wat treur vertroos, die dag waarop Hy die in Sion wat treur, eer gee in plek van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer”.
Dwarsdeur die geskiedenis van Israel se afvalligheid van die Here, was daar altyd ‘n handjie vol mense wat nie saam met die res van die volk hulle heil en voorspoed op ander plekke gaan soek het nie. Hulle het bly vashou aan die belofte dat die Messias die ware geluk vir Israel sou bring. Dit was nie maklik nie, want jare het verbygegaan sonder dat die Messias gekom het. Maar hierdie mense was mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders. Hierdie mense, die mense van Jes 61. . . het met hulle moedeloosheid, met hulle radeloosheid, na die Here gegaan vir hulp. Hulle het nie hulp en redding van hulleself verwag nie, maar werklik van die Here. In hierdie verband kan verwys word na die gesprek van Jesus en Petrus volgens Joh 6:60-71. . . Nadat Jesus weer oor dissipelskap gepraat het, het baie van sy dissipels nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf: “ Wil julle nie ook weggaan nie. Simon Petrus het Hom geantwoord: Here na wie toe sal ons gaan. U het die woorde wat die ewige lewe gee”. Die pad agter Jesus aan is regtig die pad van geluk, die ander paaie is almal doodloopstrate. Om te weet dat ‘n mens God nodiger het as enigiets of enigiemand anders. Om regtig van sy goedheid afhanklik te wees. Dit wil hierdie vers sê is waar ware geluk regtig lê. . . geluk het te make met of jy weet hoe afhanklik jy van God is. Hoe nodig jy Hom werklik het. Daarom gaan dit dan ook in die lewe. . . oor hierdie keuse…..
Nou lees ek in hierdie verband wat iemand skrywe oor afhanklikheid en selfstandigheid. Geen mens by sy natuurlike positiwe soek daarna om afhanklik te wees nie. Die grootste deel van ons lewensenergie en drif gaan op in ‘n strewe na die groots moontlike lewensselfstandigheid. Hy skrywe dan verder hoe hierdie strewe in elke fase van ons lewe op ‘n bepaalde manier na vore kom. Dit is hoe ouers hulle kinders grootmaak. Baie mense sal sê dat dit die doel van alle opvoeding is om kinders selfstandigheid te leer, om hulle te leer om onafhanklik te funksioneer. In hierdie verband is opmerkings soos jy moet op jou eie bene kan staan, iets wat baie kinders al gehoor het. By addolesente is die strewe na selfstandigheid een van die beheersende motiewe van hulle lewe. Dit word ‘n towerwoord, ‘n passie waarvoor hulle nie eens dink om verskoning voor te vra nie, want dit is tog waaroor dit gaan. By ouer mense, so skryf die persoon verder verander die gelaat van hierdie strewe. Selfstandigheid is in die fase veel meer gebreideld en fatsoenlik. Selfstandig beteken hier die vermoë of die geleentheid om vir jouself privaatheid of gerief te koop of te beding. Ons beleef dat ons nie veel van die lewe vra nie, net om in rustigheid alleen gelaat te word om ons lewe te kan inrig soos ons wil. Presies dit is wat die ouderdom so swaar maak, skryf die persoon verder. Ons sien op teen die dag, wanneer ons weer ander in die oë moet gaan kyk vir dinge wat ons gewoond was om vir onsself te doen. Dit is so. . .ons almal strewe na die grootste mate van selfstandigheid. En dan sluit die persoon die skrywe af deur daarop te wys dat dit alles te make het met die feit dat ek beheer oor my eie lewe in my eie hande wil hê, omdat ek glo dat ek self beter as enigiemand anders vir myself kan sorg. In hierdie verband hoef ‘n mens net na die TV advertensies te kyk om te weet dat dit alles gaan oor onafhanklikheid. Kyk daardie motor, as jy hom het, het jy regtig niemand anders nodig nie. Dit is baie raak beskryf hierdie strewe na selfstandigheid.
Natuurlik is daar iets goeds daaraan om selfversorgend te probeer wees. Om in die sin nie afhanklik van ander te wees nie, maar dit is eintlik natuurlik ‘n illusie dat ons in alle opsigte so selfstandig kan wees dat ons eintlik begin dink ons het niemand meer nodig nie. Dat jy volkome op jou eie sal kan klaarkom sonder die hulp van ander en veral natuurlik sonder die hulp van die Here. Watter vergissing, ook van die moderne tyd. In die verband is daar mos die gelykenis van die ryk dwaas wat mooi hierdie illusie illustreer. Nadat sy skure vol was, het hy vir homself gesê: Mens jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk, eet drink en leef lekker. Hy het eintlik gesê nou het jy alles wat jy nodig het. Hy het niemand nodig nie,maar watter vergissing. God het juis vir hom gesê: Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeeis word en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het.
Daarom om die Here te dien is ook om bevry te word van hierdie illusie. Om tot die besef te kom van hoe afhanklik ons eintlik is van die Here is. Daarom is dit eintlik genade as daar dinge gebeur met ons wat net vir ons opnuut laat besef hoe nodig ons die Here in ons lewe het. Daardie moeilike situasies waar ons benoud is, waar ons gespanne is en waar ons dan net weer tot die besef kom hoe nodig ons die Here het. Situasies wat maak dat mense dalk vir die eerste keer of by vernuwing tot God bid vir hulp. Hoe skuldig voel ‘n mens nie partykeer dat ons tot die Here nader in tye van nood, en eintlik Hom nie so geken het toe dit goedgegaan het nie. Maar watter genade as dit gebeur, sodat ons kan weet hoe nodig ons die Here elke dag het. Almal is in elke geval afhanklik van die Here, almal het in werklikheid die Here nodig, maar almal erken dit nie. Almal weet dit nie. Om dit te weet. . . om dit te erken. Watter genade . . .watter genade om net op ‘n dag te weet dat my lewe gedra word deur die Here. Watter diepe vrede bring dit nie. My lewe is in die Here se hand en ek kan nie anders as om elke dag in afhanklikheid van Hom te lewe nie. Ek het die Here nodiger as enigiets of enigiemand anders. Hierdie wete word natuurlik wonderlik uitgedruk in die Psalms. Die woord hulp. Dink maar aan Ps 121: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here”. . . Hoe verstroostend was hierdie Psalm nie oor baie jare nie en nog steeds vir gelowiges vandag. (NT 1 Petr 5:7). In die VGK liedboek is daar ‘n lied wat my elke keer baie diep raak as dit gesing word. Ek het weer na die woorde gaan kyk. . .:
“O God so groot en ryk aan krag wat geen verslae hart verag, wat moet ons doen.
Wat is u wil? Gebied ons Heer ons volg U stil.
Ons het geen raad, dis U bekend.
Ons kan ons net na U nog wend.
Wysheid het U tog self beloof as ons na U kom in geloof.
Raadsman, dis soos die Skrif U noem lei ons u Naam tot lof en roem.
U woord neem ons vir ons as lamp, as lig dat ons ons voet nie stamp”.
En watter genade om dan ook te hoor. Hy sal sorg dat diegene plek het in Sy nuwe wêreld, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Watter genade. . .
Ons moet dit opnuut glo. . . geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. . . want aan hulle behoort die Koninkryk van die Here
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid