AGAB SE REAKSIE OP SY TELEURSTELLING

AGAB SE REAKSIE OP SY TELEURSTELLING

NG Kerk Gansbaai

Skriflesing: 1Kon. 21:1-4

Agab was koning van Israel in die noordelike ryk met die hoofstad Samaria. Sy vrou was die goddelose Isebel,  dogter van Et-Baal, die koning van Tirus. Op haar aandrang het Agab in Samaria vir die afgod Baal  ’n tempel laat oprig, Baalpriesters aangestel en die profete van die Here laat vermoor.
Toe gebeur daar iets- op die oog af baie gering. Daar langs sy paleis was daar ’n wingerd van ’n redelik onbekende man met die naam Nabot. Agab wil Nabot se wingerd koop of vir ’n beter een ruil. Dit kon wees dat Nabot  nie ’n man van groot aansien was nie en wat miskien ’n sukkelbestaan op sy stukkie grond gevoer het. Nabot was egter ’n man van vaste tradisies, met familiewaardes en sterk beginsels. En in sy poging om Nabot se wingerd te koop of te ruil loop Agab ’n bloutjie.     Hierdie bloutjie wat Agab net een van sy onderdane geloop het, was vir hom een te veel. Hy het bedruk en kwaad huis toe gestap, op sy bed gaan lê, sy gesig na die muur gedraai en geweier om te eet.

Hierdie optrede van Agab bring ons by ’n baie belangrike saak waaroor ons vanoggend  wil besin: HOE VERWERK EK MY TELEURSTELLINGS EN TEëSPOEDE?
Nie hoe ek reageer as ek op die kruin van sukses ry nie, maar wanneer teëspoede en teleurstellings my tref, want ook die Christen het sy kwota opdraandes, steiltes en die donker dale waardeur hy soms moet gaan. En wat vir die een mens lyk of dit onbelangrik en onbenullig is, ervaar die ander as lewensbelangrik, soos die stukkie wingerd.
Kom ons kyk eers na: 

1.  ’n PAAR SOORTE TELEUSTELLINGS EN TEëSPOEDE WAT MENSE ERVAAR ?:
1.1. Daar is teëspoede op die sportveld:
Hoeveel sportlui is nie teen die grond as hy of sy nie die span haal nie. Of wanneer jou opponente as oorwinnaar toegejuig word en daar nie eens van jou notisie geneem word nie. Daarom het sport so ’n geweldige opvoedkundige waarde. Dit leer jou van kleinsaf om terugslae te kan vat, dat ’n mens nie altyd kan wen nie en dat jy ook moet leer om ’n goeie verloorder te wees. Hierdie lesse is baie kosbaarder as die gebruik van verbode middels om te presteer. Die harde lewe daarbuite bestaan nie net uit voorspoed en sukses nie dit bestaan ook uit neerlae en verliese.

1.2 Teëspoede en teleurstellings in jou liefdesverhouding:
My kleinseun, ’n ag jarige knapie kom so ’n week gelede nadat hy ’n rugbywedstryd gespeel het, tuis. “ Pa, dit was die beste dag van my lewe “en toe borrel dit: “Ek was man van die wedstryd en Pa, toe het Sarah my ook  gevra of sy my meisie kan wees nie en ek het ja gesê, my broer is al 12 en hy het nog nie eens ’n meisie nie.” Sommer so alles in een asem. Die mannetjie was duidelik in die wolke. Maar wat gebeur as die borrel bars.
Ek sê nie ’n ag jarige, maar vir ons tieners is ’n liefdesverhouding baie belangrik. Hulle droom  mooi drome, bou pragtige lugkastele en as die borrel dan bars, verhouding  beëindig word, is dit asof hulle hele lewe in duie stort. Wat ons volwassenes afmaak met: Dit sal gou oor waai, daar is baie visse in die see, bied vir hulle weinig troos. Hulle voel oor hulle verbreekte verhouding soos Agab oor die stukkie wingerd, die verlies is net te groot om te hanteer.

1.3 .Teëspoede in my loopbaan:
Jy het jou ten beste bekwaam en hard gewerk om die  posisie te beklee. Ander word bevorder, maar nie jy wat vir bevordering kwalifiseer nie. Toe word iemand anders in jou plek aangestel. Iemand wat nie jou kwalifikasies het nie en nie jou kwaliteit werk kan lewer nie. Nou is jy werkloos en met die finansies gaan dit nie goed nie. Het ons begrip vir hierdie mense se situasie en worsteling vir die onreg wat hulle glo of wat hulle werklik aangedoen is.
Daar is baie variasies van teëspoede wat oor mense se lewens kan kom :  Die eens gelukkige huwelik wat op die rotse loop, die talentvolle seun of dogter van wie jy soveel ideale koester wat teleurstel, die lewenslustige jongmens wat na ’n ongeluk verlam is en aan ’n bed of rolstoel gekluister.

En wat van die ouderdom met sy minder kragte en meer pyne. Ons kusgemeentes sit met mense wat eens diep spore in die samelewing getrap het  Lektore en professore, direkteure, inspekteurs, skoolhoofde ens. Ook hulle wat nie noodwendig akademies presteer het nie, maar aan wie die Here besondere talente gegee het waarmee hulle met groot seën elders in gemeentes en gemeenskappe gewoeker het. Mense na wie opgesien was. Mense wat waardeer was. En nou?
SJ Pretorius ( geb. 1917) het ’n aangrypende gedig geskrywe oor ’n skoolhoof wat so belangrik was dat die mense altyd  om hom saamgedrom het, maar toe afgetree het en later assistent by dieselfde skool geword het en dan gaan die gedig voort: “ Die drukte om hom het meteens verstom, om iemand anders het hul saamgedrom, ...sy  grappies was bedaard of sonder sout, hy’t nooit besef die winters is so koud, so eensaam by die tafel in sy jas, as hy sy broodjies uithaal uit sy tas”. Hoe verwerk ek die koue winters en die eensaamheid van die ouderdom? Hoe verwerk ek dit as  die kinders ver is en my getroue lewensmaat van baie jare nie meer daar is nie.

2. NEGATIEWE REAKSIES OP TEëSPOEDE EN TELEURSTELLINGS:

2.1.Selfbejammering en onttrekking:
Vir Agab was dit ’n bitter pil om te sluk. Hy, die koning wat kon hiet en gebied, kon maak en breek, kon nie Nabot se wingerd kry nie en dit het hom magteloos laat voel. Hy het homself bejammer, hom onttrek en met ’n eetstaking begin.
U sal gewis mense ken wat ly aan selfbejammering. Mense wat omdat hulle seergemaak voel hulle ontrek. Ook dikwels aan die kerk ontrek. Ek het op ’n plaas groot geword waar daar toktokkies was wat wanneer jy aan hom raak, hy sy bene styf skop en maak asof hy dood is, ons het hulle doodhouertoktokkies genoem. Ek het dikwels daar gesit en wanneer hy lewe toon met ’n stokkie aan hom geraak. Onmiddellik het hy weer gemaak asof hy dood is.
En dan was daar die kruidjie-roer-my-niet. As jy met die kierie aan hom raak versprei hy ’n onaangename geur so asof hy jou nie naby hom wil duld nie. Ongelukkig is daar ook doodhouertoktokkie en kruidjie-roer-my-niet mense in elke gemeente en gemeenskap.

2.2. Laai die skuld op ander:
My seuntjie was Std.1 toe hy na ’n rugbywedstryd met ’n kop wat hang, tuiskom.”En toe, hoe het dit gegaan “vra ek hom, waarop hy antwoord: “Nee pa, ons het verloor, want die skeidsregter was skelm.” Waar kom ’n Std.1 seuntjie daaraan om ’n buurdorp se onderwyser wat as skeidsregter opgetree het, skelm te noem? Miskien het hy dit by sy oerouers Adam en Eva geërf. Adam het vir Eva skuld gegee en Eva het die slang skuld gegee. As teëspoede mense tref, soek hulle  so dikwels na ’n sondebok om die skuld op te laai.

2.3.Kom in opstand teen God:
Mense het na die laaste wêreldoorlog waar stede deur bomme verwoes is en families verdwyn het, in opstand teen God gekom met die vraag “Kan ’n God van liefde dit toelaat?”Lank voor hierdie tyd lees ons al van Jona wat toe hy sien dat God Nineve nie verwoes nie, daaroor baie ontevrede was en baie kwaad geword het. In ons dag sal mense in tye van teëspoede in plaas van hulle voor God te verootmoedig, in opstand teen God kom, Hom in die beskuldigde bank plaas  en  ’n verwytende vinger na Hom wys.

2.4.Gryp na stutte om jou te ondersteun:
Hierdie stutte is nie net onbetroubaar nie, maar ook dikwels gevaarlik. Toe Juda hulp by Egipte wou soek teen die aanslag van die Assiriërs moes hulle hoor: “ Jy vertrou op Egipte, op ’n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun.” Ek hoef nie vir u uit te spel wat die riete is waarop mense in tye van teëspoede leun nie en nog minder hoeveel mense daardeur seergemaak of verslaaf word. Soms moet hulle vir die res van hulle lewe die letsels dra.

2. 5.Hulle wat boedel oorgee :
Elia,  die onverskrokke profeet, die man van wonderwerke was so ’n man. Op die dag van sy teleurstelling het hy gesê: “ Nou is dit genoeg, Here, neem my lewe.” Hy kon nie verder nie en hy wou nie verder nie. En sou u vra waarom? Is die antwoord : Elia was ’n goeie profeet, maar hy was swak in rekenkunde. In die oomblik van sy diepe teleurstelling sit hy daar in die woestyn onder ’n besembos en sê: “Ek het alleen oorgebly”. Hy het ’n X som gemaak toe hy ’n optel som moes maak. 1X1= 1,  ( ek het alleen oorgebly),maar 1+ 1=2. Ek plus God is ’n meerderheid vir wie geen probleem of teleurstelling te groot is nie.

Dit bring ons by die laaste gedagte:


3. HOE VERWERK ’n CHRISTEN POSITIEF SY PROBLEME ?:          

3.1 Tel jou seëninge:
My wêreld Agab ,waarom is jy so bedruk, staar jy teen die muur en martel jy jou met ’n eetstaking?: Jy is koning, jy het ’n paleis, ’n wingerd en veel meer. Waarom verknies jy jou oor ’n stukkie wingerd. Tel jou seëninge.
’n Man sit met sy kop in sy hande, hy is moedeloos en prewel. “Ek het alles verloor, ek het alles verloor. Ek het my werk verloor en omdat ek nie my paaiemente kon betaal nie, het ek my motor verloor. Ek kon ook nie my huispaaiemente betaal nie en het my huis verloor. Ek het alles verloor.” Sy dogtertjie kom sit op sy skoot en sê: “ Pappa het darem nog vir my.” Sy vrou kom sit haar arm om hom en sê: ”My man jy het darem nog vir my.” Sy ou moeder kom plaas haar hand op sy skouer en sê: “ My kind jy het nog die Here.”             Na ’n tydjie staan die man op en sê: “ Ek het eintlik nie veel verloor nie want, ek het die beste dinge behou, my gesondheid, my familie en my God”

Korrie ten Boom het in die tronk die Here gedank vir die vlooie, want die vlooie het gemaak dat die kommunistiese wagte nie in die sel wou ingaan nie die Bybel waaruit sy en haar suster soveel krag geput het, ontdek en van hulle wegneem nie.

3.2. Leef uit die versekering dat jy aan die Here Jesus behoort en dat Hy oor jou lewe beskik:
Die vraag in die Kategismus: “Wat is jou enigste troos ?”sou ’n mens ook kan verander na: Wat dra jou deur ’n krisis of waaruit put jy jou krag in tye van teëspoede, teleurstellings en beproewing. Dan is die eerste deel van die antwoord : “ .. Dat ek. . . aan my getroue Saligmaker Jesus Christus behoort.” Weet u hoe wonderlik is hierdie sekerheid, hierdie geborgenheid: Ek behoort aan die Here Jesus. Daarom sing ons: “Dié vastigheid het die Getroue, my Heiland, met sy dood gelê. Ek is Gods kind en in vertroue kan ek dit glo; sal ek dit sê. Al kom daar onweerswolke aan, die woord is vas: Die rots bly staan.” Vanuit hierdie sekerheid dat ek aan die Here Jesus behoort kan ek dan ook weet dat alles wat oor my kom tot my saligheid dien, ja, dat alles ten goede vir my meewerk.

3.3. Oefen jou om jou in die Here te versterk:
God is ons krag en ons sterkte, ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Maar hoe realiseer hierdie waarhede as ek krisisse beleef. Op ’n dag het alles vir Dawid skeef geloop, die stad waar hy gewoon het is verbrand, sy besittings is geroof, sy vrou en kinders is as gyselaars weggevoer en boonop het sy manskappe dit oorweeg om hom met klippe dood te gooi. Alles  mistroostig, hopeloos en uitsigloos, hulle het gehuil tot hulle nie meer krag gehad het om te huil nie. Dan lees ons : “ Maar Dawid het homself versterk in die Here sy God.” Ons moet in mooiweersdae ons oefen om ons in die Here te versterk sodat ons genoeg reserwekrag kan opbou vir die krisisdae  as ons dit bitter nodig gaan kry.


3.4: Rig jou verwagting op die ewige heerlikheid:
Jesus het vir sy volgelinge voorspel dat hulle terwille van Hom beledig, vervolg en valslik  van alles wat sleg is, beskuldig sal word. Dan bemoedig Hy hulle: “ Wees bly en verheug julle, want julle loon is groot in die hemel.

In die tyd van die Hebreërskrywer is die Christene vervolg, daar is teen hulle gediskrimineer en hulle besitting is gekonfiskeer, maar dan word van hulle getuig: “ toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar( waarom?)  omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is.”

As die Comradsatleet by Poli Shorts se bene lam word en sy bors brand, hardloop hy voort, want daar by die wenstreep wag vir hom die medalje.

Dis deur die hoop en die uitsig op die heerlikheid dat ons teëspoede , terugslae en teleurstellings kan verwerk, dat ons deur die donkerste nag sing van heil wat op ons wag.

As gelowiges lewe ons met die vooruitsig: “Verder wag vir my die oorwinnaarskroon, die lewe by God.”  Ons word besiel deur hierdie hoop. Die hoop op die ewige heerlikheid moet ons inspirasie, ons krag en ons aanmoediging wees om te volhard ondanks die felste aanslae en die pynlikste mislukkings. Die vervolgde kerk, die kerk onder die kruis leef met die verwagting van Christus se wederkoms en kan jubel: “Ons hoor die klank van feesbasuine, Jerusalem se nag word lig. Hy daal na ons toe neer, Gods Seun en onse Heer. Halleluja! Hy kom ons haal, Hy kom ons haal. Ons vier met Hom die bruilofsmaal.”

Amen.

  

 

AGAB SE REAKSIE OP SY TELEURSTELLING

Ds Dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai