Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skriflesing: Mat 6:11
Wat bedoel ons wanneer ons bid: “gee ons vandag ons daaglikse brood”
Om dit goed te verstaan , moet ons begin by die begin. . . en dit is by die situasie van die eerste Christene en hulle sosiale omstandighede. Dat die eerste volgelinge van Jesus feitlik sonder enige lewensmiddele was, is duidelik. Nadat Judea en Galilea in 63 vC Romeinse provinsies geword het, het talle groot landgoedere in die streke ontstaan, ten koste van die kleinboere wat dit voorheen besit het. Hulle het op groot skaal dagloners geword, diegene van wie ons so dikwels in die evangelies lees. Hulle was algeheel afhanklik van die luim en die gesindheid van die bestuurders op die landgoedere vir een silwer denarius per dag, ‘n hongerloon, skaars genoeg vir ‘n klein huishouding. Indien so ‘n dagloner vir ‘n paar dae nie werk kon vind nie, was dit vir die familie ‘n uitsiglose situasie.
Die disspelkring van Jesus was mense wat bewustelik alles verlaat het en vir Jesus gevolg het. Ons lees meermale hoe hulle sonder heenkome in die streke gereis het , sonder besittings en sonder voorsorg of gereelde inkomste , feitlik bedelaars soos iemand dit gestel het, in totale afhanklikheid van gawes en ondersteuning. Dit is in die eerste plek hulle wat geleer het om hierdie gebed te bid. Dit is hulle wat gehoor het om te vra . . .gee ons vandag ons daaglikse brood. . . iets wat hulle daagliks so nodig gehad het om van te lewe, gewone brood. Die wat van die begin hierdie gebed gebid het was regtig diegene wat desperaat was; wat eintlik gewonder het waar môre se brood vandaan gaan kom.
In die verband is dit nogal opvallend waar hierdie bede staan in die Ons Vader gebed. Dit is soos iemand dit gestel het. Dit funksioneer amper soos ‘n skarnier tussen die U en ons bedes, tussen die ryks- en kerk bedes, die sentrale plek voor die bede om vergewing van skuld en versoekinge. Dit bevestig die belangrikheid van gewone brood in die koninkryk. Watter vertroosting dat die Here dit weet nog voordat ons dit van Hom vra. Dat gewone brood so belangrik is in die koninkryk.
Kom ons gee nou vervolgens aandag aan die uitdrukkings “vandag”, “ daaglikse” en “ ons” en ons doen dit teen die bogenoemde agtergrond.
Die woord vandag. Ons kan vandag bid vir vandag se brood. Ons moenie hoop dat ons vandag al môre se brood en volgende jaar se brood gaan ontvang nie. Ons almal ken die verhaal van die volk in die woestyn en die storie van die manna. Toe die volk honger was en niks gehad het om te eet nie, het die Here vir hulle gesorg deur vir hulle met ‘n wonderwerk manna te voorsien. Maar wanneer die Jode slim geraak het en genoeg wou optel vir die hele week, het die wit korreltjies sleg geraak. Die Here wou dat hulle Hom sal vertrou vir elke dag se voorsiening . Met die woord vandag in die bede wil die Here ook dat ons Hom sal vertrou vir elke dag. In hierdie verband ken ons almal die storie van die ryk dwaas soos vertel in Lukas 12:19 “dan sal ek vir myself sê. Mens jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk , eet, drink en leef lekker. Maar God het vir hom gesê : Jou dwaas , vannag nog sal jou lewe van jou opgeeis word en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het”.
Met “daaglikse” wil die Here dat ons Hom sal vertrou. In hierdie verband dink ek ook aan Mat 6:25- ’n aangrypende gedeelte – “daarom sê ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie. Kyk na die wilde voëls : hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie, julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”
Vervolgens “daaglikse”. Ons het ‘n woord in die oorspronklike taal wat maak dat geleerdes na al die jare nog nie doodseker is wat die woord presies beteken nie, want dit kan nie vergelyk word met ander kontekste waarin dit ook voorkom nie. Die meeste Bybeluitleggers stem egter saam dat ons die woord waarskynlik die beste kan vertaal met nodige. Ons mag bid vir die brood wat ons nodig het. Die woord genoeg verduidelik dit ook mooi. Ons kan vra vir genoeg , nie vir te veel of oordaad nie. Mense wat ook oor hierdie bede al geskryf het meen dat dit staan vir al die noodsaaklike behoeftes wat ons vir die lewe nodig het. Daar is eintlik ook iets sobers in die woord. Soos iemand gesê het hier staan brood, nie koek of kreef of kaviaar nie. Luther het gemeen die daaglikse brood sluit in alle behoeftes van ons lewe: kos, drank, klere, skoene, blyplek, lande en vee, geld en goed, ‘n godsdienstige lewensmaat en kinders, flinke werknemers, betroubare huishulpe, ‘n goeie regering, mooiweer, vrede , gesondheid, ‘n eerbare lewe, goeie vriende, en gawe bure ensovoorts.
En dan die “ons” . . . “gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dit is eintlik voor die hand liggend. Jesus het nooit gesê dat ek mag bid vir my brood en verwag dat Hy dit vir my sal gee nie soos in alleen vir my nie. Omdat God ons Vader is het Jesus gesê dat ons moet bid: Gee ons ons daaglikse brood. Die punt is wat ek vir myself vra, moet ek ook vir ander dit gun. Ek moet eintlik oppas dat ek nie soveel vir myself vra dat daar nie genoeg oor is vir ander nie. In hierdie verband is daar ‘n pragtige gedeelte in die Bybel wat gaan oor hierdie balans met lewensmiddele tussen mense. Die gedeelte is 2 Kor 8:15 “Die met baie het nie te veel gehad nie, en die met ‘n bietjie nie te min nie”. Paulus wat daar skrywe haal uit Eks 16:18 aan in ‘n gedeelte wat handel oor die insameling wat besig was om plaas te vind vir die arm gelowiges in Judea. Daarin maak hy melding van die gemeentes in Macedonië wat so bygedra het en skrywe dan oor die belangrikheid van hulpverlening, vandaar hierdie aanhaling. As ons vandag nog bid dat ons brood sal hê, impliseer dit ook dat ons geroep word om konkrete brood te gee aan diegene wat dit nie het nie. In die verband die volgende aanhalings: Basilius die Grote , teoloog en biskop uit die vierde eeu: Die brood wat oud word in jou huis behoort aan die hongeriges. Die skoene wat onbenut staan onder jou bed behoort aan diegene wat nie skoene het nie. Die klere wat weggebêre is in jou kas behoort aan diegene wat naak is. Die geld wat waarde verminder in jou skatkis, behoort aan die armes. Die beroemde mistikus Meister Eckhart het byvoorbeeld gesê: Hulle wat nie aan ander gee wat aan hulle behoort nie, eet nie alleen hulle eie brood nie, maar sowel hule eie brood as die van die ander. Van Luther kom die bekende woord dat wie iets het en dit geniet terwyl ‘n ander dit nie het nie, eintlik gesteelde brood eet. Walter Luthi het gesê: In Jesus het die sosiale probleem , die probleem van voedsel, God se probleem geword. Daaroor kan ons nie genoeg nadink nie. Die brood wat oud word in jou huis, die onbenutte skoene, die onbenutte klere. . .daarom moet ons ook meer dink oor talle pogings van ons dag om te kom tot ‘n sg alternatiewe lewensstyl of ‘n sobere, meer eenvoudige lewenstyl waarin mense probeer losbreek uit die drukgang van meer te verdien, meer te presteer teen die voorskrifte en reklame van die samelewing in en so eintlik ‘n nuwe lewenstyl vir hulle en hulle lewens te vind. Daar is baie te sê daarvoor en baie om daaroor te sê en te dink. Ook meer te dink oor pogings om daadwerklike nood te verlig. . .
Here ons bid : Gee ons vandag ons daaglikse brood, gee ons, nie net vir my nie, vandag, dat ek U sal vertrou, ons daaglikse , die nodige,brood. . .
Hierdie historiese kerk is geleƫ in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid