Pinkster 2013 : Lei my nie in versoeking nie

 Pinkster 2013 : Lei my nie in versoeking nie

NG Kerk Gansbaai

 MATT 6:9-13(13). “ lei my nie in versoeking nie

Die onderwerp van versoekings of aanvegtinge is nie juis ‘n onderwerp waaroor ons nog praat nie.  Indien ons wel daaroor praat, is dit meestal grappenderwys.

Die Bybel praat egter nie grappenderwys oor die onderwerp van versoekings nie.  In die Bybel is versoekings ‘n ernstige saak.  Uitleggers noem selfs die Bybel die “boek van versoekings”.  Die Bybel begin in Genesis met die verhaal van die mens wat swig voor versoekings.  Die Bybel eindig in Openbaring  met die visioene van die groot kosmiese verleiding.  Tussen hierdie twee verhale lê talle verhale van versoekings.  Dink maar aan Abraham  wat vir Isak moes offer op die berg Moria,  aan die Israeliete tydens hul ontberings in die woestyn - versoeking om om te draai, afgode bo God te verkies. Dink aan die profete wat telkens in die versoeking was om nie hulle profetiese taal uit te voer nie. Dink aan Jesus se versoeking in die woestyn en in die tuin van Getsemane.  Die Bybel beeld selfs die Bose uit as die groot Versoeker.  Wanneer Jesus Sy dissiples leer bid,sluit hierdie bede met “En laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose”

Maar waarom is versoekings so ‘n ernstige saak?  Omdat dit in versoeking of aanvegtinge gaan om die moontlikheid om van God weggeruk te word.  Dit gaan in versoekings om die moontlikheid dat ons alles kan wen, maar aan God skade ly.  Versoekings het met veel meer te make as met sjokolade, kalorieë en souse of selfs die seksuele - dit het te doen met die verwydering tussen ons en God.  Ons sien die erns van hierdie versoekinge wanneer ons kyk na die gestaltes waarin  versoekinge na ons toe kom

Versoekinge kom na ons in die gestalte van gebed. - soos die Ons Vader gebed:  Wanneer ons bid: Laat U naam geheilig word - is die versoeking alreeds daar om God se naam te ontheilig met ons hele lewe, Laat U koninkryk kom - versoeking om ons koninkryk met God sin te verwar, U wil geskied - versoeking om my wil te laat geld bo God se wil, versoeking om nie te vergewe nie, maar te vergeld, te na te kom, jou te wreek op die ander,  nie brood aan ander te gee nie,maar net vir jouself te leef.

Martin Luther het self aangrypend geskryf oor die verskillende gestaltes van versoekings of aanvegtinge.  Luther het gesê ons word almal van links en van regs bedreig deur versoekinge.  Hy het dit so verwoord: “Aanvegtinge van links groei uit ons ervarings van swakheid.  Siekte,armoede, oneer en teenslae lei maklik tot ongeduld, bitterheid en haat. Ons word ontevrede met God en met mekaar en uiteindelik met die lewe selfs.  Ons word mismoedig en wanhopig.  Swaarkry maak dat ons geloof en hoop verloor”

Aanvegtinge van Regs “ groei uit ervarings van eie krag en sterkte.  Voorspoed, eer en roem, sukses en derglike voorregte kan lei tot  selfverheffing en trots, hebsug en wellus, eergierigheid en naywer.  Mag maak korrup.  Ons vergeet van God.  Ons begin net op onsself en ons eie planne vertrou.  En so verloor ons ons dankbaarheid, diensbaarheid en liefde”.

Uit die verskillende gestaltes van versoekings blyk alreeds die mag van versoekings en die Bose.  Ons kan onsself nie bevry van die mag van versoekings gebore uit ons sondige natuur nie.  Ons kan ons ook nie bevry van die Bose wat met sy versoekings verwydering wil bewerkstellig tussen ons en God nie.  Jesus Christus kan ons alleen van die mag van versoekings en die mag van die Bose bevry.  In die verhaal van Christus(soos in die Evangelie vertel) ontdek ons hoe Jesus alreeds aan die begin van Sy bediening  die Bose oorwin in die woestyn(plek waar Israel  nie kon nie).  Aan die begin van Sy kruisweg herken Jesus die Satan in Petrus se woorde en oorwin hierdie versoeking, In die tuin van Getsemane weerstaan Hy die strafste versoeking denkbaar,  Aan die kruis op Golgota oorwin Jesus die bose finaal.  Op Opstandingsmôre skenk Hy aan ons die nuwe lewe van oorwinning, ja oorwinning oor die Bose, versoekinge en aanvegtinge.

Wie die 6de bede van die Ons Vader bid   bely  dat  die Bose  alreeds in Christus oorwin is en het geen mag meer oor ons nie.    Terselfdertyd bid ons  dat God deur Sy Gees ons sal help om te leef  vanuit die oorwinning van Christus, om ons te bewaar en beskerm teen alle versoeking en aanvegtinge.  Wie hierdie bede bid dink nie meer oor versoekings as grappies nie.  Vir Martin Luther was hierdie bede so belangrik dat hy in die aand gaan slaap het met die bede: Vergeef ons ons skulde.  Die volgende oggend het hy opgestaan met die bede:  Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose”.  Miskien moet ons leer om weer so te bid oor ons eie lewe.  Amen
 

 Pinkster 2013 : Lei my nie in versoeking nie

Ds Willie Kotze

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai