Op vaste grond

Op vaste grond

NG Kerk Gansbaai

Teks:    Hand 2:36, Romeine 8:31-39, 2 Kor 1

Ons sluit vandag weer aan by die tema van Junie/Julie naamlik  betroubaarheid.

Ek graag julle aandag vestig op die volgende in die gedeeltes wat ons saamgelees het en daaroor net eers by elkeen ‘n opmerking maak: in Handelinge 2  die woorde van die apostel Petrus in v 36 ”Die hele Israel moet  nou vas en seker weet:   God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak”.   Veral die woorde vas en seker weet. . . Hulle moet nie net weet nie,   maar dit vas en seker weet.    Die OV lui sekerlik weet. . . dus met die grootste sekerheid wou hy beklemtoon. In Romeine 8, veral die woorde in v 31 “As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees”. . . net soos by die apostel Petrus  kan ‘n mens baie duidelik agterkom dat daar by die apostel Paulus ‘n diepe oortuiging is, ‘n diepe sekerheid van die Here se liefde . . . dit loop soos ‘n goue draad deur die gedeelte. . . daarom die woorde . . . as God vir ons is, wie kan dan teen ons wees.     Hy wil eintlik soos die apostel Petrus,  net op ‘n ander wyse  ook beklemtoon,   die versekering gee hoe groot God se liefde is. . . daarvan kan hulle ook maar seker wees.   Trouens, hierdie oortuiging moet vir hulle tot diepe troos wees. Daarom brei hy so uit daarop. . . met  die evangelie van Christus  het ons  die versekering dat God ons so liefhet dat niks ons van Sy liefde kan skei nie.  Dit is na aanleiding hiervan dat die ou kerkvaders op die vraag wat is jou enigste troos in  lewe en in sterwe kon geantwoord het dat ek met liggaam en siel,  in lewe en in sterwe  nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.     En dan ook die woorde in 2 Kor 1:19 “want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus enTimoteus aan julle verkondig,  is nie ja en nee tegelyk nie, Hy is die ja van God, die ja op al die beloftes van God.  Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop Amen sê”.   Met ander woorde dat gelowiges kan sê dit is so. Christus  se optrede is absoluut die bevestiging van die Here se liefde vir ons. . . en dan voeg hy by. . . God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig :  op Christus.     God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en om dit alles te bevestig  die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.  Ook hier wou Paulus beklemtoon soos Petrus in Handelinge en ook sy skrywe in Romeine . . . die evangelie kan vertrou word. . . dit is betroubaar. . . dit kan jy maar vas en seker weet….God is vir ons, wie kan dan teen ons wees.    Hierdie is vaste grond. . . dit kan regtig vertrou word.  Dit is vas en seker. . .

Ek lees iemand skrywe oor die evangelie en sê dan ons moenie te klein dink oor die sekerheid, die vastheid,  die versekerheid van hierdie beloftes  in verband met die evangelie nie.  Bedoelende, ons kan dit aanvaar,  ons kan dit vertrou. Ons kan daarvan seker wees, ons moet daarvan seker kan wees.   Ek lees in die Heidelbergse Kategismus  oor wat is ware geloof. . .’n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue, wat die Heilige Gees  deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade,  slegs op grond van die verdienste van Christus  vergewing van sondes, ewige geregtigheid  en saligheid geskenk het.   Maar dit is aangrypend gestel. . . ’n ware geloof  is ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy woord geopenbaar het , vir waar aanvaar en dat ek dit volkome vertrou.   Dit is ware geloof  . . . om dit wat die Here in sy Woord leer vir waar te aanvaar en dit te vertrou.    Om dus hieraan vas te hou. Om in hierdie beloftes te rus.  Om genoeg te hê aan hierdie blye boodskap.   Om getroos te wees met die wete .  En ons gebed moet telkens wees om nog vaster daaraan vas te hou.  En ons vra dit nie tevergeefs nie, want  juis  daarmee  wil die Heilige Gees ons help.    Ek lees van Martin Luther wat gesê het die Heilige Gees is nie ‘n skeptikus nie.  Ek lees iemand  skrywe die Heilige Gees is nie ‘n twyfelaar nie. Die Heilige Gees bring nie sinisme, wantroue, apatie, sinloosheid nie.  Nee , die Heilige Gees oortuig, verseker, lei, openbaar, verlig, troos, versterk, verseël ons.   Die Heilige Gees getuig saam met ons  eie gees.   Die Heilige Gees bring ‘n vrede in die hart wat alle verstand te bowe gaan.  Nee, die Heilige Gees is nie ‘n skeptikus nie. Die Heilige Gees van Pinkster  help mense wat hulle vertroue in die lewe, in liefde en omgee, in vreugde en geluk, in waarheid en sekerheid  êrens langs die pad verloor het , miskien selfs nooit geken het nie, om vaste grond onder die voete te kry.   Om nuwe geloof te kry.   In ‘n liefdevolle God, in wonderbare blye verlossing, in die betroubare beloftes van God se Woord.

In aansluiting nou by die versekering aangaande die evangelie  waarvan ons gelees het,  dat dit alles inderdaad betroubaar en waar is, dink net weer aan die beklemtoning daarvan  en dat ons kan bid dat die Here deur Sy Gees ons opnuut sal oortuig,  is ek oortuig daarvan dat dit ons nie genoeg van die Here kan bid nie. . . dat Hy deur Sy Gees sal kom en mense opnuut van Sy liefde deur Christus sal verseker, of dat mense wat nog nooit dit geken het nie, daarvan oortuig sal word, sodat hulle ook met hierdie versekering en daarom getroos en met ‘n diepe vreugde kan leef.   Ek lees van iemand wat skrywe oor die betroubaarheid van die evangelie en daarom die betroubare liefde van God en dit dan in verband bring met die tyd waarin ons leef. Ek haal aan . . . “dis ‘n geweldige boodskap vir die tyd waarin ons leef.   Want die tyd waarin ons leef, die gees in die lug van ons dag, word juis uitgekalwe deur ‘n diepe , lewensverwoestende twyfel.   Daar is mense onder ons, om ons, naby ons, miskien  kante aan ons eie harte en gedagtes, wat juis op hierdie punte ‘n diepe twyfel  ervaar, ‘n diepe onsekerheid , ‘n diepe nood.    Daar is mense -oueres , jongeres, kinders,  talle in die fleur van hulle lewens, oënskynlik so suksesvol en voorspoedig en gelukkig  as wat mense maar kan kom; kinders, jeugdiges, jongmense op die drumpel van hulle grootmensjare; lydende mense, arm, siek , ontnugter, leeg, behoeftig, in die steek gelaat, agtergelaat - wat almal ‘n diepe twyfel presies rondom hierdie vrae beleef.  Mense wonder of daar regtig ‘n goeie God is, wat omgee, wat vir ons is.  Mense wonder of daar hoegenaamd verlossing is, vreugde, sin, betekenis, nut in die lewe. Mense wonder of daar inderdaad êrens vaste grond is, sekerheid, waarop hulle kan rus, staatmaak, hulle lewenshuise kan bou sodat dit nie wankel as die storms daarteen aangewaai kom nie".  Dan skrywe hy verder. . ."Ons ken hulle, ons kinders ken hulle, ons familielede ken hulle, ons vriende ken hulle, ons landgenote ken hulle, ons tydgenote ken hulle.  Ons leef in ‘n tyd en ‘n wêreld waarin hierdie fundamentele wantroue – hierdie diepe verlies aan sekerheid, vastigheid, ankers, koers – iets alledaags geword het.   ‘n Mens hoef net die televisie aan te skakel  om uit te vind waarvan ons praat.  Of ‘n gesprek te hê met jou bure, met jou kollegas, of skoolkinders, of jongmense oral.    En dan net nog die volgende, want dit raak ons direk. . .Dalk hoef ons net ‘n slag stil en eerlik te word met onsself en te vra wie ons regtig is en wat ons regtig glo.  Waarvan leef ons werklik. Uit watter bron.  Uit watter vertroue. Met watter vanselfsprekenhede. Met watter ideale en drome”.     Tot sover die aanhaling. Toe ek dit weer lees en nog ‘n paar maal lees. . . toe net besef ek hoe ongelooflik belangrik is dit dat ons sal bid . . . Here gee ons opnuut die versekering deur U Gees oor die evangelie, sodat ons  opnuut sal weet die Here  het ons lief en niks kan ons van sy liefde skei nie.

Dat ons ook as kerk hierdie boodskap sal uitdra. . . Ag Here, skenk hierdie verskering aan mense wat vertroue verloor het. Skenk hierdie versekering vir mense in die kerk wat nie uit hierdie sekerheid leef nie, skenk dit vir mense wat nog nooit met hierdie verskering geken het nie. 


Ons het dit oor betroubaarheid. . .die evangelie van God se genade in Christus verseker ons van die betroubare liefde van die Here.  Daaraan kan ons vashou.   Daarop kan ons bou.

 

Op vaste grond

Ds Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins

Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .

NG Kerk Gansbaai
Onderlinge mededeelsaamheid

Onderlinge mededeelsaamheid

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 

NG Kerk Gansbaai
Goeie Vrydag

Goeie Vrydag

My God, my God  waarom het u my verlaat?. . .

NG Kerk Gansbaai
Ernst Toerien

Sendingsondag

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie

NG Kerk Gansbaai
Versoening

Versoening

Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid

NG Kerk Gansbaai
Nagmaal - naasteliefde

Nagmaal - naasteliefde

Die boodskap van die kruis is dwaasheid. 

NG Kerk Gansbaai