Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
TOEWYDING
Ons sing (Lied 202) van 'n Hemelvors op sy verhewe troon; 'n Skepperheer aan wie mag en eer gebring word; en ewige roem vir Sy gesag.
Kom ons maak seker dat ons dit regtig bedoel.
Glo ons dat God in beheer van alles is - en veral van my lewe en omstandighede?
Maak hierdie geloof 'n verskil in my daaglikse gesindheid; in die hoop of wanhoop wat ek koester; en in die getuienis wat ek het (of nie het nie) om te lewer.
LIED: 179:1-3 is 'n gebed in reaksie op hierdie selfondersoek.
SKRIFLESING: Filippense 1:1-11
GESINDHEID PRAAT HARDER AS WOORDE
Voordat Paulus 'n woord sê, is dit sy omstandighede wat die hardste praat: oftewel, sy gesindheid van dankbaarheid en lof aan God te midde van sy omstandighede (gevangenis - wat inderdaad uiteindelik tot sy dood - onhoofting - gelei het).
Wanneer ons dan egter na die inhoudelike van sy boodskap ook kyk, verklaar dit Paulus se lewensuitkyk wanneer hy telkens verwys na 'n posisie "in Christus", of "deur Christus", of "saam met Christus".
Die verwysing na hierdie posisie "in Christus" sien ons in 1:1 en 1:11 en omarm/omvou dit in werklikheid die inleidende gedeelte van sy brief.
DIE GELOWIGE SE VERBINTENIS MET CHRISTUS
Daar is 'n Afrikaanse idioom wat sê dat twee persone "aan die heup verbind is" wanneer hulle baie nou saam beweeg, saamstem of gedeelde belange en standpunte het.
Kyk weer mooi na 1:1 en 1:11 en herroep die feit dat Paulus vanuit moeilike en ongewensde omstandighede net eenvoudig blymoedig is. Dit is omdat Paulus ook "aan die heup verbind is met Christus."
Christus se oorwinning; Sy saak; die uitdra van die evangelie; dit alles word beklemtoon deur Paulus se gesindheid te midde van omstandighede. Dit gee kredietwaardigheid aan sy getuienis. Paulus "preek" nie vanuit die luuksheid van sy gerieflike studeerkamer êrens in 'n gegoede deel van die dorp nie.
Die tronk waarin hulle hom gegooi het, het die kansel geword en van daardie kansel af "preek" hy met oortuiging dat Christus sy alles is en dat alles die moeite werd is ter wille van sy geloof in hierdie Jesus.
Bybelkommentare praat van hierdie "in Christus"-wees as 'n korporatiewe identiteit wat die gelowige verwerf wanneer hy of sy so aan Christus verbind is. Dit is soos die stamvaders van ouds wat verteenwoordigend van sy stam se identiteit en waardes, moraliteit en handelinge was.
Gelowiges is aan die heup verbind met Jesus; gelowiges bekom die identiteit van Christus; en Christus is meer as 'n oorwinnaar in alle omstandighede.
DIE WONDER VAN LEWE: SWANGERSKAP
Ons praat dikwels van Jesus wat "in ons" is - en ons verstaan wat ons daarmee bedoel. Hy woon in ons deur Sy Gees. Hy leef deur ons.
Maar as ons so na Paulus luister is dit eintlik ook ons wat "in Christus" is, en dit het my laat dink aan 'n beeld wat ook nie sonder gebreke is nie, maar tog die sekuriteit en vrede wat Paulus beleef op 'n manier vir my sigbaar maak: Swangerskap en die beskermende, lewegewende omgewing van die baarmoeder.
Die wonder van swangerskap is onbeskryflik. Die gedagte aan lewe en die ontwikkeling daarvan. Die voedingsproses. Die naelstring.
Is dit nie presies wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy in Joh 15 na die wingerdstok verwys het nie? Daar sê Hy tog dat as die lote nie aan Hom geheg bly nie, hulle geen vrug sal dra nie (geen lewe sal toon nie); sal verdroog; afgesny sal word en weggegooi.
Bo en behalwe die beskermende omgewing, is daar die liefde en sorg van die verwagtende moeder; die koestering.
'n Uittreksel uit 'n gedig vanaf die internet getuig iets hiervan:
Kind wat veilig in my baarmoeder skuil,
ek sal jou vir geen geld of goud verruil.
Ek is bewus van jou groei, beweeg en leef…. ons twee sal speel en gesels
…ek sal jou aan my boesem dru …ek sal jou voed …ek sal jou dokter as jy siek is
Lees nou die gedig weer! Lees dit en hoor die Evangelie daarin.
Hoor iets van die Vaderhart (Moederhart) van God vir Sy kinders wat "in Hom" is…
ONS KAN GEESTELIK OPKRUL IN DIE BESKERMDE POSISIE IN CHRISTUS
In die sielkunde leer ons van 'n "fetus-posisie"; 'n toestand wat die pasiënt letterlik opgekrul lê soos in 'n fetus-posisie; dikwels na trauma of tydens depressie of verwante toestande. Dit word sielkundig verklaar as 'n hunkering na die veilige omgewing van die baarmoeder waar daar in al die behoeftes van die ongebore baba voorsien word.
Paulus sit in die tronk, maar hy ervaar sekuriteit en vrede omdat hy "opgekrul is in Christus".
Hopenlik dwing Paulus se omstandighede, sy reaksie daarop en die inhoudelike van sy getuienis ons ook vanoggend terug in die beskermde omgewing of plek waar God sê ons is: In Christus. Dit verander alles.
Gebed (Vanaf die CD van Onbeskaamd: U hart is vir my)
Vader U hart is vir my
En U liefde is dieper as my diepste seer
U genade is wyer as my hart se horison
En U stuur U Seun en Hy word die Weg
En U soek, ja U smag
Smag na U seuns en dogters
O Vader, my hart is vir U!
SLOTLIED: Lied 514:1-2
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid