Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skriflesing: Mat 9:35 tot 10:15
Net ter inleiding wil ek meld dat die tema van die prediking hierdie maand sal handel oor barmhartigheid. In die kerk is Augustus maand nou al vir lank barmhartigheidsmaand. Daarom dat ons hierdie gedeelte gelees het. Die gedeelte wat eintlik so bekend geword het oor Jesus wat die skare gesien het en vir die dissipels gesê het die oes is groot en die arbeiders min. . .
In Mat 9:35 word Mat 4:23 feitlik woordeliks herhaal. Dit dui daarop dat die skrywer in v 35 net kom sê ‘n nuwe afdeling van die Matteus evangelie begin waarin hy die werk van Jesus onder ‘n nuwe gesigspunt ter sprake wil bring. Hier gaan dit om die worsteling van Jesus om die behoud van die volk Israel. Dit het duidelik geword dat die volk, ondanks Jesus se optrede, hulle eintlik van Jesus afwend. Die aanvanklike verwondering begin verdwyn. Die skare reageer nie op sy verkondiging en die tekens van die nabyheid van die koninkryk nie. Verse 35-36 getuig dan ook van die diepe bewoënheid waarmee Jesus na die volk kyk.
Laat ons vir ‘n oomblik by hierdie bewoënheid stilstaan. Daar word uitdruklik vermeld dat toe Jesus die skare gesien het, Hy hul innig jammer gekry het. Die woord in die oorspronlike taal wat dan nou met innig jammer vertaal word, dui dan ook in ‘n oordragtlike sin die mens se ingewande aan as die sentrum van drifmatige hartstogte. Later sou dit ook die betekenis kry van ons woord hart as aanduiding van die gevoelslewe. Later sou dit spesifiek die betekenis van barmhartigheid verkry en dan ook in besonder as aanduiding van die barmhartigheid van God. Dit sinspeel dat die ingewande van God as ‘n ware in beroering kom by die aanskouiing van die leed en die ellende van die mense. Met ander woorde die leed en die ellende van mense is iets wat Hom geweldig diep raak. Hierdie medelye van die Here sou dan ook elke keer die beweegrede wees vir die verrig van Sy wonderwerke.
So lees ons bv in Mat 14:14: “Toe hy uit die skuit klim, het hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak”. Dink ook aan Mat 15:32: “Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huistoe stuur nie, want hulle kan miskien op die pad beswyk”. Dink aan Mat 20:24, oor Jesus wat twee blindes gesond gemaak het: “Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg”. Dink aan die genesing van die melaatse man: “Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak”. En dan word hierdie deernis van Jesus nog verder gemotiveer deur daarop te wys dat die mense moeg was en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Dit is wat Hy gesien het. Hy het hulle innig jammer gekry daaroor. En dit is nie dat Hy hier en daar iemand raakgesien het nie. Hy was nie selektief met Sy deernis nie, nee, Hy het hulle almal raakgesien, Hy het hulle almal jammer gekry.
Ek lees iemand skrywe die skare omvat allerlei soorte en karakters,goed en sleg, aantreklik en afstootlik, ryk en arm. Onder hulle sal daar mense gewees het wat enigsens bewus was van hulle ellende, maar baie ander wat dit glad nie besef het nie. En daar is geen enkele kwaliteit van die skare wat as sodanig die liefde en die barmhatigheid van God kon opwek nie. Dit was hulle nood met baie gesigte en vorms, maar ten diepste was dit veral die nood van vervreemding van God en innerlike vervreemding van hulleself en die lewe in sy geheel wat hulle gekenmerk het. En daarmee saam ook hulle aardse en liggaamlike ellendes, die armoede, die siekte en die lyding. Jesus het dit gesien en hulle innig jammer gekry. . .
In hierdie barmhartigheid kan die gemeente hom nooit genoeg verbly nie. In die verband is daar dan ook darem merkwaardige tekste in die Bybel wat hierdie ontferming van God soos deur Jesus geopenbaar, beklemtoon. Dink maar net aan Ps 103:8: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde”. Vir baie jare sou hierdie Ps gelees word as deel van danksegging na die Nagmaal. (Eerskomende Sondag is dit weer Nagmaal.) Paulus skrywe aan die Efesiërs en oor wie hulle voorheen was voor hulle Christene geword het en sê dan vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word, maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. . . deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was deur ons oortredings saam met Christus lewend gemaak. Soos dan ook blyk uit die optrede van Jesus. Hy wat die skare gesien en hulle innig jammer gekry het. . . Dit is die rede vir ons bestaan. Want God het ons ook innig jammer gekry. . .
Maar terselfdertyd moet dit altyd ook vir die gemeente ‘n herinnering wees dat God van sy kinders verwag om ook so barmhartig te wees. In hierdie verband het Jesus ook gesê : "wees barmhartig soos My Vader barmhartig is". Dink aan die woorde van Jesus in die saligsprekinge: "Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmartigheid bewys word". Dink aan die woorde in Jakobus 2: “egte en suiwer godsdiens voor die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan”. Jesus sê dan ook vir die Fariseërs in Mat 23:23: “ellende wag vir julle, huigelaars! Julle gee tiendes , maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid”. Dit weeg volgens die wet die swaarste. Ek lees iemand vra die volgende vraag na aanleiding van barmhartigheid. As ons aan God dink, wat sou jou die beste nuus wees oor Hom, dat Hy ‘n hart het, deernis het, ‘n gevoel , en wat sou die Here die mees opgewondste maak as Hy aan ons dink. . . wat sou vir Hom die beste nuus wees oor ons. As ons self ook ‘n hart het vir ander, ‘n deernis vir ander. Bonhoefer sou gesê het dat Christenskap beteken om op ‘n nuwe manier daar te wees vir ander. Luther het gesê dat om ‘n Christen te wees beteken om vry te wees , maar nooit so vry dat jy vry is van jou naaste nie. '
Daarom as Jesus dan na hierdie woorde in verband met die oes, dan ook die dissipels uitstuur, dan vra Hy eintlik ook dieselfde deernis teenoor mense. Ook ons, daarom moet ons as ons mense sou sien in hulle nood van vervreemding van God en hulle fisiese leed, hulle innig jammer kry , en ook ons moet soos Jesus uitreik na hulle, en soos Jesus die skare gesien het, nie selektief wees in ons deernis nie. Maar om aan almal goed te doen. Dit gaan daaroor om nie net barmhartig te wees teenoor diegene wat vir ons aangenaam en aanvaarbaar is nie. Nee, Christelike barmhartigheid is grenslose barmhartigheid. Iemand het op ‘n keer gesê: As jy in God glo en jou vriende liefhet , dan is jy ‘n godsdienstige mens, as jy in God glo en ook jou vyande liefhet, dan eers is jy ‘n Christen. Daarom om barmhartig te wees soos Jesus moet ons bid dat die Here ons ook sal bewaar teen ons vooroordele sodat ons werklik in staat kan wees om deernis met almal te kan hê. Met regtig almal. . . dink weer aan die sien van Jesus van die skare, dat Hy nie selektief was in Sy deernis nie, en as mense dan hulp verleen, nie ‘n voorwaarde byvoord daaraan koppel dat dit net vir ‘n sekere groep mense sal gaan, terwyl ‘n mens tog baie waardering ook het.
Watter uitdaging bly dit nie om vandag aan almal barmhartigheid te kan bewys nie. In hierdie verband is ons baie dankbaar vir ons kerk se betrokkenheid by die nood van ons land se mense, dankbaar vir die onvoorwaardelike deernis met alle mense. Daar is die mooiste verhale van deernis in ons land, dink daaroor!
Ja, hierdie verhaal bly altyd uitstaande as ‘n voorbeeld van deernis met ander. Die Here wil dat ons ook so deernis sal hê. Daarvoor bid. . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid