Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Teks: 2 Kor 8:1-15, Rom 12:1-2
Hierdie maand is die tema dankbaarheid en rentmeesterskap. Die boodskap sluit vandag daarby aan en wel by rentmeesterskap as deel van ons dankbare lewe voor die Here.
Ek wil net ter inleiding vertel van my gesprek met die kinders tydens die gesinsdiens ‘n vorige Sondag. Ek vra vir die kinders of hulle met my sal saamstem dat daar so iets soos eerste dinge eerste is, bv as jy motor bestuur, dat as jy wil stop, jy eerste die koppelaar trap en dan die rem. Ek wys toe ter ter illustrasie ’n skoen en kous. Nee, sê hulle vir my jy moet eerste die kous aantrek en dan die skoen, ook as jy tande wil borsel, eerste die tandepasta, ook as jy wil lig met ‘n flits, dan eerste die batterye en dan kan jy lig met die flits, nee sê hulle vir my daar is so iets; daar is ‘n volgorde. Daar is so iets soos eerste dinge eerste. Toe wys ek vir hulle ‘n kruis en ‘n beursie en vra toe wat kom eerste. Hulle antwoord toe die kruis, of te wel die liefde van die Here. Hulle was baie oortuig daarvan. Nou is ek seker daarvan dat as ek julle vanoggend hieroor sou uitvra, sal julle ook saamstem dat daar volgorde is van dinge. Dat daar so iets is soos eerste dinge eerste en sal julle ook met my saamstem dat dit ook geld veral van ons verhouding met die Here. Die liefde van die Here eerste en dan ons besittings. Anders gestel ons wil die Here eerste stel in alles, daarom is ons besittings ook ondergeskik aan die Here en Sy liefde. Bedoelende dat ons dit so sal hanteer dat Hy daardeur verheerlik sal word.
Hier in die gedeelte wat ons saamgelees het, word die punt dan ook baie mooi geillustreer. Wanneer die apostel Paulus skrywe aan die Korinthiers om hulle ook aan te moedig om deel te neem aan die insameling vir die gelowiges van Judea wat swaargekry het, herinner hy hulle aan die voorbeeld van die mense van Macedonië wat so ruim bygedra het, en sê dan van hulle “Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, hulle het bo hulle vermoë bygedra. Uit eie beweging het hulle by ons aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea”. En dan skrywe hy iets baie aangrypends “Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulself aan die Here gegee, en toe aan ons”. Dit is soos God dit wil. Eers het hulle hulself aan die Here gegee, en toe aan ons. . . dus hulle wou nie net maar gee nie, nee, hulle wou dit so doen dat die Here daardeur gedien word. Dat die Here daardeur verheerlik word. Dit was deel van hulle lewe voor die Here. Daarom meer gegee as wat verwag word. Soos iemand dit gestel het . . . hierdie wete dat hulle dit vir die Here doen, het die beste uit hulle gehaal. En nou is ek oortuig daarvan dat dit ook vir hulle gegaan het oor die liefde van die Here. Dit was oor die liefde van die Here dat hulle Hom so wou dien. Die apostel Paulus sou dan ook in hierdie gedeelte hierna verwys. In v 9 lees ons dan ook “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word”. Hierdie vers beklemtoon so aangrypend die liefde van God in Christus. Die liefde van die Here waardeur Hy bereid was om homself vir ons te gee. Daaroor skrywe die apostel ook in Fil 2 so aangrypend. . . iets wat mos ‘n lied sou raak in die kerk van daardie tyd “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder . Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja die dood aan die kruis”. Om jouself so eerste vir die Here te gee soos hulle, glo ek was juis omdat hulle uit dankbaarheid vir die liefde van die Here vir hulle, dit kon doen. Die apostel sou ook skrywe oor die liefde van Christus wat hom dring. Die liefde van Christus dring my omdat ek tot die oortuiging gekom het as een vir almal gesterwe het, het almal gesterwe.
Dit is juis in hierdie verband dat ons ook Rom 12 :1-2 gelees het. Een van die mooiste gedeeltes in die Skrif as dit kom by om jouself vir die Here te gee . . . uit dankbaarheid. Daar skrywe Paulus oor die nuwe lewe in Christus, en dan begin hy v 1 so mooi “En nou doen ek ‘n beroep op julle broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”. Dit is God se goedheid wat die diepste grond is vir die vervulling van die wet deur God se kinders. Ontferming van God slaan dan ook op die veelvuldige openbaringe van God se genade soos Paulus dit in die vorige hoofstukke uiteengesit het. Om jouself so vir die Here te gee, op grond van Sy ontferming is die wesenlike ding om te doen in die godsdiens. Dit sou onredelik, ondenkbaar wees dat die gelowiges wat alles aan God te danke het, aan Hom minder as dit sou wil gee. Hy wat so oneindig baie gegee het. . . niks minder as jou lewe nie. Die woorde gee julleself aan God beteken die hele mens. . . dat die gelowiges met alles wat dit inhou, hulle hele aardse lewe tot beskikking van God moet stel. . . hulle hele aardse lewe. Dit is ondenkbaar om anders daaroor te dink. Iemand skrywe hieroor en sê dat daar nie ‘n duimbreedte is van die aarde wat nie aan die Here behoort nie. Daar waar ek in my familie is, by die werk, tussen vriende, politiek. Chrstenskap gaan daaroor om die volle lewe aan die Here te wy op grond van die Here se ontferming. En daarom dan ook my besttings so te bestuur dat die Here daardeur gedien sal word. En ook daarom wanneer ek die Here dien met my offergawes, dit so te doen tot Sy eer.
Daarom is oorgawe so ‘n deel van ‘n Christen se lewe. Om jouself dus vir die Here te gee, om jouself tot beskikking van die Here te stel. Maar daarom ook jou gawes. Ek wil die volgende opmerkings vir julle voorhou wat in hierdie verband veelseggend is. Ek lees Martin Luther sou gesê het : Op die geloofspad gaan ‘n Christen deur drie bekerings, eers die verstand, dan die hart, of die lewe, en uiteindelik die beursie, en die derde bekering is bewys van ware bekering. Loren Mead het die volgende gesê: die finansiële krisis in kerke is die wekroep van ‘n groter, dieper problem - ‘n geestelike probleem in die hart van ons gemeenskap. Die beginpunt is bekering. Omdraai van die vertroue op onsself na vertroue op die Here. Daarom is die offers wat ons bring eintlik ‘n simbool van ons lewens wat ons reeds vir die Here gegee het. Die Britse Raad van kerke het verklaar: Ons verhouding tot God en ons verbintenis aan Christus, ons liefde vir ons naaste en ons eie geestelike lewe is intiem verbind met ons houding teenoor ons besittings en geld en hoe ons dit aanwend. Geloof en finansies kan nie los van mekaar gemaak word nie.
Ek sluit af met die volgende kort storie wat ek by die VGK gehoor het. Van die vyftig sent en die rand wat mos gestry het wie die belangrikste is. Die rand sê toe vir die vyftig sent dat hy baie waardevoller is waarop die vyftig sent toe antwoord, dit is so . . . die rand is meer werd, maar hy wat die vyftig sent is kom baie meer in die kerk as hy. Nou kan dit wees dat in baie gevalle mense werklik net die vyftig sent kan bring, maar ‘n mense wonder of die feit dat die vyftig sent baie meer kerk toe kom nie ook te make het met ‘n bekering wat nog moet plaasvind nie. . . die derde bekering waarvan Luther praat.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid