Vir my is die lewe Christus en die sterwe win...
Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Skriflesing: Romeine 8
’n Ongelowige wat die eerste keer ’n Bybel in die hande kry het, het die Ou Testament begin lees en toe gesê: “ As wat in hierdie boek staan die waarheid is, dan is daar vir my geen hoop nie.” Later toe hy die Nuwe Testament lees het hy gesê: “ As wat in hierdie boek staan die waarheid is, dan is daar selfs vir my ook hoop.” As ek aan iemand uit die hele Bybel een hoofstuk moet gee wat die evangelie en byna al die groot waarhede van die Skrif in ’n neutedop saamvat, sal ek vir die persoon Romeine 8 gee. In Romeine 7 hoor ons die jammerklag of wanhoopskreet: “Die loon van die sonde is die dood, Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos.” Dan in Romeine 8 breek die lente van die nuwe lewe deur, die lewe deur die Gees, hoor ons die jubellied, skitter die boodskap van hoop, kan ons waarlik roem. Ek wil graag vir u 5 dinge noem waaroor Rom. 8 ons wil laat roem en elkeen van hierdie dinge begin met die letter V.
1. Die Vryspraak so kosbaar:
Rom.8 begin met hierdie vreugdevolle boodskap: “ Daar is dus geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Dit moet verskriklik wees om as iemand wat die doodstraf verdien voor ’n regter te verskyn . Dit is die droewe lot van die mens buite Christus. Ons almal het gesondig en verdien die dood. Dan hierdie onverwagte en onverdiende wending as die regter sê: “Ek spreek jou vry, jy kan maar gaan. As jy in Christus Jesus is , is daar geen veroordeling nie. Dan kom Rom. 8 byna met ’n uitdaging (8:33) “ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf..” Daarom kan ons sing: “ Hy, my Heiland, spreek my vry, as die satan my beskuldig; Hy wat regter is oor my, het my straf gedra, geduldig.” As die regter gesê het: “Ek het jou vrygespreek, kan nie die satan, nie mense selfs nie my gewete my meer aankla nie.”
Die boodskap van die evangelie is dat God my as skuldige vryspreek omdat Christus, die onskuldige, in my plek veroordeel is tot die dood, ja die dood van die kruis. Aan die kruis is my skuldbrief vasgespyker, het ek amnestie gekry en niemand kan meer iets teen my inbring nie. Hierdie waarheid is die blye tyding, die goeie nuus aan mense wat die dood verdien. Dit kan egter slegs maar ’n vreugdelose verstandsaanvaarding bly, totdat die Gees hierdie vryspraak vir my persoonlik ’n heerlike werklikheid maak, so wonderlik dat ek met my hele wese voortdurend God daarvoor wil dank en loof en prys. Daarin wil roem.
2. Die Versekering wat vasstaan :
Ons as mense is so vol onsekerhede: Daar is finansiële onsekerheid, politieke onsekerheid en wat die gesondheid betref is jy die eendag nog blakend gesond en die volgende dag ernstig siek. Ongelukkig is baie mense wat hulle Christene noem, ook onseker oor hulle kindskap. Is ek werklik die Here se kind, behoort ek aan Hom? En sekerheid hieroor is van ewigheid belang. Daarom dat die Kategismus sê dat my enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek moet weet dat ek met liggaam en siel aan my getroue Saligmaker Jesus Christus behoort. In die inleiding van sy brief aan die Romeine meld Paulus dat sy brief gerig is: “ Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.” Rom. 8 wil my herinner dat die Heilige Gees my die sekerheid dat ek aan die Here Jesus behoort, wil skenk. Luister maar weer: “ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Hoe bewerk die Heilige Gees hierdie sekerheid? Luister na een van ons gesange: “ Ek het toe wilde storms gewoed het, diep onder vaste Rots gevind: die Woord wat my van ramp behoed het - God is my Vader; ek sy kind” dan volg: : “Dié vastigheid het die Getroue, my Heiland, met sy dood gelê: Ek is Gods kind en in vertroue kan ek dit glo; sal ek dit sê. Ek glo dit, ek sê dit, ek bely dit, ek weet dit: Ek is die Here se kind, ek behoort aan Hom, op grond van sy sterwe aan die kruis”. Hoe het Paulus nou weer daardie stormnag op die Adriatiese see gesê: ? “Verlede nag het daar ’n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort...” Ek behoort aan die Here, ek is sy kind is die roemtaal van Romeine 8.
Geliefdes, ’n mens wat sê dat hy of sy ’n kind van die Here is, is nie verwaand of arrogant nie. Ook is onsekerheid en twyfel hieroor allermins gelyk aan nederigheid. Johannes noem as rede van sy brief: “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo”. Blye versekering, Jesus is myn , moet werklik die roemtaal van die gelowige wees.
3. Versterking ondanks my swakheid:
Vers 26 lui: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by...” Elke mens het ’n swakheid. Dit kan ook gebeur dat my swakheid daar is waar ek dit die minste verwag. ’n Briljante proffessor kon vir sy studente die diepsinnigste vrae beantwoord. Op ’n dag kom sy seuntjie na hom met die vraag: “Pappa waar kom ek vandaan”. O, ho, het hy besef, hier is vir jou ’n moeilike vraag. Hy begin toe deur met bytjies en blommetjies te verduidelik en vra vir die outjie of hy verstaan. Nee, pappa ek verstaan nie, maar ek wou maar net weet waar ek vandaan kom, want Pietie in my klas se hy kom van Prieska af.
As ons praat oor swakheid of swakhede moet ons altyd onthou ’n ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. Paulus sê ons is so swak dat ons nie eens weet wat of hoe ons behoort te bid nie. Die Heilige Gees versterk my, versterk ook my gebedslewe en dan word dit waar wat Jakobus skrywe: “ Die gebed van die gelowige het ’n kragtige uitwerking. Dis in hierdie konteks van die Gees wat ons in ons swakheid bystaan, dat ons een van die troosrykste tekste in die Bybel vind. Rom. 8:28 “ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet,...” Geliefdes, wanneer ek by die puin van my prestasies, by die as van my ideale en by die skerwe van my drome of by die pyn van my verliese staan, kan ek hierdie “alles ten goede “ nie verstaan nie. Met die beste teleskoop kan ek nie ver genoeg kyk om God se einddoel sien nie. Met die beste mikroskoop kan ek nie die verborge dieptes van God se plan naspeur nie. Maar in hierdie swakheid van nie eens weet wat om te bid nie, pleit die Gees vir my met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En ek word so versterk dat al kan ek die, “ alles werk mee te goede” nie verklaar nie. kan ek dit in die geloof aanvaar, daarin berus en selfs daarin roem.
4.Verbondenheid met Christus is onontbeerlik:
Sonde bring verwydering, bring skeiding en dryf weg. Dit het vir Adam en Eva uit die paradys gedryf, vir Kain weg van God se aangesig gedryf, vir Jakob uit sy ouerhuis en vir Judas daar waar hy hom gaan ophang het. En skeiding bring smart of dit ’n egskeiding is of familie wat uitmekaar span of vriende wat mekaar vermy of die dood wat my van ’n geliefde skei. Dis sonde wat my van God vervreem en gemeenskap met Hom ontneem.
Rom. 8 vertel vir ons van ’n besondere verbondenheid. Dit begin met : “ die wat in Christus Jesus is…” Die verbondenheid word beskrywe met ’n besondere begrip : “ Kinders van God”. Die verbondenheid soos die loot in die wynstok. Op ’n ander plek skrywe Paulus dat in verbondenheid met die Here Jesus deel ons in sy volheid. Die verbondenheid met Christus is soos die naelstring tussen die moeder en die ongebore baba. Die ongebore baba is vir die lewe van hierdie naelstring afhanklik. So is ons verbondenheid: Ek leef nie meer nie maar Christus leef in my. Nou is dit mos vanselfsprekend dat die satan alles sal probeer om hierdie band met Christus te verbreek. Dan kom Rom. 8 met die vraag: “ Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Dan noem hy ’n paar dinge soos lyding, vervolging, honger ens. Dan onderbreek hy die lys en herinner ons dat ons meer as oorwinnaars is deur Christus wat ons liefhet (Miskien het hy gedink aan die Romeinse veldheer op sy strydwa en sy soldate wat na hul oorwinning op die slagveld die stad triomfantlik binnekom). Dan sit hy weer sy lys voort en sê dat selfs die dood ons nie kan skei van die liefde wat daar is in Christus Jesus onse Here. Ons kan ’n triomflied sing : “ Niks wat ons op aarde ly nie, kan my van sy liefde skei nie, ek sal juig in pyn en vrees, in my Heer oorwinnaar wees. Ja hierdie verbondenheid met Christus is die allerkosbaarste skat wat ek moet vertroetel en waaroor ek kan roem.
5. Die Vooruitsig van ’n ewige heerlikheid:
In die By van die Burger is daar Saterdae ’n vraelys waarop ’n belangrike persoonlikheid vrae beantwoord. Vrae soos : Wie sal jy graag vir ete nooi, wie is jou gunsteling skrywer, watter dinge maak jou ongelukkig ens. Die vraag wat my die meeste interesseer is die vraag: “Wat dink jy gebeur na die dood?” Die antwoord op hierdie vraag openbaar vir my baie van die persoon. Romeine 8 : 18 praat van ’n wonderlike vooruitsig: “ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Ja. Ons is volgelinge van Hom wat gely het en gekruisig is. Lyding was deel van die eerste Christene se lewe. Mense dra vandag miskien dikwels onnadenkend ’n hangertjie met die kruissimbool. Die eerste Christene het dikwels die littetekens ( Grieks stigmata) van hulle marteling aan hulle liggame gedra. Hulle het ondanks lyding volhard, want daar was die hoop op die ewige heerlikheid. Ewige lewe eindeloos heerlik, wat na hierdie lewe wag, dit alleen is gans begeerlik, is onsigbaar maar vol krag. Lewe vir my siel begeerlik, lewe onuitspreeklik heerlik. Die Heilige Gees getuig nie alleen dat ek kind van God is nie, Hy getuig ook dat ek erfgenaam van God en erfgenaam saam met Christus is .
Ja, ek wat deur Hom vrygespreek is, ek wat seker is dat ek aan Hom behoort, ek wat deur sy Gees versterk word wanneer ek swak is, ek wat in verbondenheid met Hom lewe , ek wat deel het aan sy lyding, ek sal ook deel hê aan sy heerlikheid. Wat ’n heerlike vooruitsig.
Romeine 8 verklaar onomstootlik, daar is iets na die dood, ’n erfenis, ’n heerlikheid ’n saamwees met Christus my mede-erfgenaam. Hierin kan ek roem.
Hierdie historiese kerk is geleƫ in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MorePaulus roep die gelowiges op om ligdraers te wees in die wêreld . . .
Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.
Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 jaar, is seker nie een van die maklikste dinge nie
Luther het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid. Nee, het hy gesê die regte emosie is geloofsekerheid