Diensgroep Lofprysing

Diensgroep Lofprysing

NG Kerk Gansbaai

Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing (Kolossense 3:16). Paulus doen nie verniet hierdie beroep op die gemeente in Kolosse nie:  Christene móét sing! Van die vroegste tye af was sang 'n integrale deel van gods-diensbeoefening. Die boek Psalms is niks anders as 'n Ou-Testamentiese liederebundel nie. En dan was daar ook nog die talle musiekinstrumente wat gebruik is:  die ramshoring, snaarinstrumente soos die harp en lier, fluite en simbale (Ps 150).

Sang is die manier waarop 'n mens jou hart oopmaak en in die woorde van digters en die melodieë van liederekunstenaars aan God jou lof en eer toebring. Die sang tydens - ook voor - die erediens moet 'n jubelende getuienis wees van gelowiges se vreugde oor die goedheid van God.

En sing ons gemeente nie lekker nie! Gansbaai se NG gemeente is bekend vir hul heerlike en hartlike samesang. Dit hoor 'n mens telkens: uit eie geledere sowel as van besoekers aan ons kerk.

Ek glo ek praat namens ons lofprysingleiers - en ook ons leraars - as ek sê: Ek wens elke gemeentelid kan 'n beurt kry om daar voor in die kerk te staan en aan te hoor hoe wonderlik dit klink as die gemeente so lekker saamsing. Dit is 'n ongelooflike ervaring!

Meer oor ons diensgroepie: Die Diensgroep Lofprysing val onder die Bediening Eredienste, wat op sy beurt onder die Kommissie Gemeentebou ressorteer. Ons vorm dus maar 'n klein onderdeeltjie van die groot geheel, en probeer om na die beste van ons vermoë ons beskeie bydrae te lewer tot stigting van die erediens.

Ons diensgroep bestaan tans uit net 5 lede, nl. Dries Uys (ook ons sameroeper), Dries van Heerden, Athol Rankin, Miempie du Plessis en myself, Hettie Oosthuizen. Ons werk volgens 'n diensrooster, en aangesien ons tans net 5 lede is, kry ons elkeen so elke vyfde week 'n beurt.

Ekself is al sedert die begin 2001 'n lofsangleier. Dit was nog in die tyd toe wyle Bennie van der Westhuizen die koor afgerig het en sy vrou, wyle Alta, orreliste was. Dit voel soos gister toe ek vir die heel eerste keer op Sondag 4 Februarie 2001 voor die gemeente gestaan het - bitter benoud en senuagtig! Ek onthou nog goed dat ek 'n lang romp aangehad het. Ek het die gemeente toe vooraf ingelig dat ek met opset 'n lang romp aangetrek het sodat hulle nie kan sien hoe my bene bewe nie, en ek het hul versoek om asseblief kliphard te sing sodat hulle nie kan hoor hoe my kniekoppe teen mekaar kap nie!

Op 'n ernstiger noot: Dit is en bly nie maklik om daar voor by die kateder te staan en 'n see van gesigte voor jou te sien nie. Elke keer pomp die adrenalien en fladder die skoenlappers maar hier binne. Dit maak nie saak hoeveel kere  'n mens in jou beroepslewe of tydens gemeenskapsbedrywighede vol selfvertroue voor groot groepe mense opgetree het nie. En moenie dink dit gaan oor kleingelowigheid nie. Inteendeel. Ons bid altyd vooraf dat die Here se seën op die lofprysing sal rus. Ons wéét Hy is daar teenwoordig. Dit is egter menslik om so 'n bietjie gespanne te voel, juis omdat ons wil hê dat daar niks verkeerd moet gaan nie, dat die gemeente lekker moet saamsing . . .  juis omdat dit oor die lof en eer van ons Here gaan, en nie oor mense nie. Die lofprysing voor die erediens behels ook beslis voorbereiding. Ons skryf nie sommer net lukraak 'n klompie nommers van liedere neer en hoop vir die beste nie. Lank voor jou beurt kom, bid 'n mens vir insig en leiding van die Hemelse Vader. Ons deurdink die saak deeglik. Ja, ons maak dit werklik 'n saak van gebed. 

En as 'n mens daar voor in die kerk staan, wonder jy oor die gesigte wat op jou gerig is. Die meeste van die gemeentelede sing lustig met oorgawe en vreugde saam. Daar is egter ook die enkele belangloses wat met strak gesigte sit en nie saamsing nie, en 'n mens wens uit die diepte van jou hart jy kan hulle motiveer, hulle betrek. En jy weet ook: Daar is  'n paar gesigte wat krities na jou luister en kyk: Is jou optrede korrek, val die liedere wat jy opgee in hul smaak? Ons moet egter altyd in gedagte hou dat mense verskil en dat hulle verskillende menings en voorliefdes het. Dit is onmoontlik om altyd alle mense gelyktydig tevrede te stel. Ons lofprysingleiers is net gewone mense, ook individue - elkeen met sy/haar eie manier van doen - en ons probeer werklik hard om hierdie taak na die beste van ons vermoë te verrig. Die lofprysing gaan egter  - soos reeds gesê - in die eerste plek níe om mense nie, maar om die lof en eer van God. Ons glo dat ons ons taak verrig volgens die leiding wat ons van die Here kry, volgens dit wat Hy ons op die hart lê.

Om af te sluit:  Johan Smit skryf in een van sy dagboeke:  “Sing  met dankbaarheid in julle  harte. Sang is die lof wat uit ons harte borrel wanneer ons net nie die woorde het om God behoorlik te dank vir sy wondergenade nie. Sang is die moment van ekstase waarin ons aan iets van ons diepste sielservaring uiting gee. En dan maak dit mos nie saak of jy goed of sleg sing nie. Wat saak maak, is dat jou  lied iets van die roering in jou hart verwoord. Vir God is elke lied uit die hart 'n kunswerk. Daarom: Sing tot eer van God!”

Uitnodiging: Is daar nie miskien tog belangstellendes wat by ons diensgroepie wil aansluit nie? Julle is so hartlik welkom!  Dit is regtig baie lekker om lid van hierdie groep te wees en so die Here te dien. Elke keer as 'n mens 'n lofprysingsbeurt het, is dit werklik  'n verrykende ervaring.   - Hettie Oosthuizen   

Diensgroep Lofprysing

Redaksie Seestrome

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Simeon en Anna en Baba Jesus

Simeon en Anna en Baba Jesus

Maria en Josef het hulle babatjie Jesus genoem, net soos die engel ‘n paar maande tevore vir Josef gesê het.  

NG Kerk Gansbaai
NGK Gansbaai Webblad

NGK Gansbaai Webblad

Gedurende Oktober 2013 is ‘n “Proud Community Member” sertifikaat aan die NG Kerk Gansbaai oorhandig deur Candice Lombard, die Gansbaai Explore Gemeenskaps Bestuurder

NG Kerk Gansbaai
Gesins en Jeugbediening 2013

Gesins en Jeugbediening 2013

In 'n oogwink is nog 'n jaar verby - nog 'n jaar waarop ons met dankbaarheid kan terugkyk en ons Hemelse Vader eer vir al sy liefde en genade aan ons as mense bewys.  

NG Kerk Gansbaai
Vir die Jongspan :  die Kersverhaal

Vir die Jongspan : die Kersverhaal

Lank, lank gelede, voor daar  nog motors en vliegtuie was, het Josef en Maria na Betlehem gereis. Hulle het net ‘n donkie gehad waarop Maria kon ry as sy te moeg geraak het. Dan het Josef die donkie gelei.  

NG Kerk Gansbaai
NGK Gansbaai Kerssangdiens 2013

NGK Gansbaai Kerssangdiens 2013

In afwagting om 'n ware Christusfees te vier, kon ons op Sondag 24 November 2013 deel wees van  die Kerssangdiens, wat die regte gees van Kersfees in ons harte laat ontwaak het.  

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos hou Skaapkopete

Baardskeerdersbos hou Skaapkopete

Die NG gemeentelede van Baardskeerdersbos reël jaarliks ‘n Skaapkop-ete waartydens hulle saam met vriende en besoekers gesellig verkeer. 

NG Kerk Gansbaai