A Year Later: Looking Back on an Unforgettabl...
This time last year, our event that we want to cement in memories.
Wat ’n heerlike aand was dit nie by die Groot Wit Huis nie! Al het ons dalk te laat kos bestel, was ons kos heerlik gewees. En net betyds ook, dat die hongerpyne nie te hard begin raas het nie!
Hierdie maand het ons iets heeltemal nuuts probeer. Elkeen moes ’n eie foto neem, daaroor skryf, maar sonder om ooit te verklap wat op die foto is. Ná elke voorlesing het die gehoor hul raaiskote op papier neergeskryf voordat die foto uiteindelik onthul is.
En wat het ons tog nie alles “gesien” nie!
Joey het begin met haar skrywe: ’n Plek en het ons harte geraak. Die meeste van ons het gedink aan ’n kerk, ’n huis, ’n gebedsplek of selfs ’n ouerhuis. Gideon was egter die enigste een wat die geheim ontrafel het: Luna, haar hond. Dit was ’n pragtige herinnering dat onvoorwaardelike liefde dikwels vier pote het.
Toe neem Alma ons op ’n reis wat begin het by ’n eenvoudige opwas en eindig het in ’n surrealistiese avontuur deur skuim, reënboë en maalkolke. Die raaiskote was net so kreatief soos die storie self. Water, wyn, badskuim... totdat die onthulling almal verras het - ’n afvoergat in ’n wasbak! Presies die soort verrassing waarop hierdie uitdaging gehoop het.
Dave het ons behoorlik laat kopkrap met sy gedig wat ook sommer kan dien as n riddle. Ons het gewonder oor vonke, elektrisiteit, vulkane, die son en watervalle. Die onthulling nadat ons nie meer kon raai nie? Delikate Erica-blomme. Nog ’n bewys dat een foto honderde verhale kan dra.
Diana se ritmiese gedig het ons gelaat met ‘n onthou glimlag. Johan het die antwoord sommer vroeg uitgeroep- wolke. Haar eenvoudige, staccato-styl het gewys hoe min woorde soms nodig is om groot beelde te skep. Dit was raakvat woorde wat die mooiste wolke opgetower het!
Natalie het ons teruggeneem na ’n donker stuk geskiedenis met haar gedig oor Cromwell en Cashel. Almal se raaiskoot spasies op hul papier was leeg, dit was moeilik! terwyl Arista se “oorlog” waarskynlik die naaste aan die emosionele kern van die gedig was.
Arista neem ons terug na ’n heel ander tyd en plek. Haar vertelling begin met ’n gesin wat hulle nuwe huis verken en op ’n vreemde bruin gedoente afkom wat later die kinders se “pophuis” word. Die raaiskote was kreatief ’n Wendyhuis, ’n vakansiehuisie en selfs ’n buitegebou. Toe kom die onthulling... ’n bomskuiling. Skielik kry die hele storie ’n nuwe betekenis, en besef ons hoe ’n eenvoudige foto ’n wêreld van herinneringe en geskiedenis kan oopmaak.
Hierdie uitdaging het nog ’n juweel uit Marí se pen opgelewer:
Herkenbare logo’s van tientalle franchises
Plaas wêreldwyd die seël op dié spesifieke kultuur.
Vir koninklikes, connoisseurs, karweiers en karwagte
’n Lewenslyn.
In pretensielose eenvoud nooi jy hier:
“Kom vriend, staan nader, maak jou tuis.”
Met slegs ’n paar reëls het sy iets só alledaags in iets veel groter omskep. Haar skrywe het nie net oor ’n ketel gegaan nie, maar oor gasvryheid, eenvoud en die universele uitnodiging wat ’n koppie koffie of tee kan wees.
“Kom vriend, staan nader, maak jou tuis.”
Soms is die eenvoudigste beelde dié wat die warmste stories vertel.
Die laaste twee reëls van Marí se gedig het my besonder aangegryp:
In pretensielose eenvoud nooi jy hier:
“Kom vriend, staan nader, maak jou tuis.”
Wat ons aand so besonders gemaak het, was nie net die skryfwerk nie, maar hoe anders elkeen dieselfde woorde beleef het!
Elke foto het eers in ons verbeelding bestaan voordat ons dit met ons oë kon sien.
Dit het gewys dat daar tussen ’n beeld en ’n storie, ’n wêreld van moontlikhede lê.
Dankie so baie aan elkeen wat sy of haar oë, verbeelding en woorde met ons gedeel het.
Gisteraand het bewys dat dieselfde beeld nooit dieselfde storie vertel nie. Elke paar oë sien iets anders. Elke hart lees iets anders. En miskien is dit juis waar skryf begin.
Dit was voorwaar n amazing en onvergeetlike aand!
Julle is tops!
Tot ons volgende keer!!!
Gansveer is a poetry group in Gansbaai, where words come to life through shared expression and storytelling. The group celebrates multilingual creativity, including Afrikaans and other languages, with English serving as the shared language to ensure inclusivity and clarity. Gansveer focuses on expre...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreThis time last year, our event that we want to cement in memories.
Take a photograph of something that catches your attention.
Hierdie maand het ons saamgekom op 10 Junie 2026 om 18:00 by The Great White House Restaurant!