Blog

VERDRYF DIE MUSKIETE

VERDRYF DIE MUSKIETE

The Overberg Business and Lifestyle Magazine

VERDRYF DIE MUSKIETE - geskryf deur Ina Georgala

Die weer word nou lekker warm - en daarmee saam kom die muskiete!

Ek is nou ongelukkig een van daardie mense wat soos 'n magneet vir 'n muskiet is. Dit voel partykeer asof elkeen van die 3 000 muskietspesies op die aardbol 'n verteenwoordiger stuur om my tussen 'n skare mense uit te soek.  Hoogsomer is my man al daaraan gewoond dat sy vrou snags soos 'n wafferse samoeraai haar handdoek-swaard rondswaai en muskiete teen die dak afmaai - net om 'n bietjie te kan slaap. 

Daar is nog 'n verdere kinkel in my muskiet-kabel. Die meeste van die muskiet-weermiddels wat op ons winkelrakke is, is gelaai van die chemikalieë wat my laat uitslaan asof ek die rinderpes onder lede het. Saam met die allergie-hobbels wat die muskietbyte veroorsaak, verkeer ek dus die grootste gedeelte van die somer in 'n ellendige toestand.

Die laaste paar jaar het ek my begin wend na natuurlike middels wat verhoed dat muskiete my huis soos onwelkome gaste betrek én keer dat die dekselse goed my byt. Dis nogal belangrik dat die middels wat ek gebruik nie skadelik vir die natuur is nie, aangesien ons al reeds soveel chemikalieë in ons omgewing instoot.

Hier is my vyf top wenke om relatief muskietloos deur die somer te kom.

 
1) Pak die plassies

As jy 'n waterfokuspunt, voëlbad of selfs potplante op jou voorstoep het, gaan dit beslis muskiete lok want hulle larwes floreer in selfs die kleinste poeletjie water. Maak dus seker dat jou waterfokuspunt 'n filtreerstelsel het en dat jy dit ten minste een keer per dag in die somer aansit. Deur elke tweede dag die water in jou voëlbad te verander, hou jy nie net die voëls gelukkig nie maar keer ook dat die muskiete intrek. Skud 'n bietjie koffiemoer uit jou koffiepot in jou potplante se opvangbakke - nie net hou dit die muskiete weg nie, maar slakke hou ook nie daarvan nie. 

Nog 'n geliefkoosde wegkruipplek vir muskiete is geute en oop dreineringslote. Gaan sulke plekke gereeld na en verwyder alle nat blare en plantreste waaronder muskiete kan uitbroei.

 
2) Speel laventelhaan

Muskiete hou net mooi niks van sekere sterk plantreuke nie omdat dit die reuksin belemmer waarmee hulle hul prooi (ek en jy) opspoor. Kamfer, pepermint, sitroengras, basiliekruid, teeboom, kattekruid en laventel is van die plante wat jy langs jou deure en voor vensters kan plant om muskiete van die huis af weg te hou. Jy kan ook aftreksels van hierdie plante se blare maak en die vloeistof in spuitkannetjies gooi. Spuit die aftreksel binne jou huis rond voordat jy gaan slaap om wegkruip muskiete te verjaag. Dit ruik nie net lekker nie, maar jy sal ook beter slaap. 

Enige van hierdie kruide se olies kan natuurlik ook met chirurgiese alkohol of gesuiwerde water vermeng word en in en om die huis gespuit word. Ek hou nie baie daarvan om self sulke olies te gebruik nie want party mense kry allergiese reaksies daarvan. Mens moet ook versigtig rondom swanger vroue en kinders daarmee wees.

 
3) Kou daai knoffel

Dis miskien nie die gaafste oplossing nie, maar knoffel hou beslis die muskiete weg. Sit fyngedrukte knoffel in kookwater, syg deur en sit die knoffelwater in 'n spuitkannetjie. Jy kan dit in plaas van insekweerder aan jou voete, bene, arms en hande spuit, verkieslik wanneer jy buite sit. Ongelukkig hou dit ook moontlike geliefdes van jou lyf af weg en laat dit mens se huis na 'n goedkoop wegneemete ruik, so wees gewaarsku.

 
4) Laat waai

'n Muskiet is maar 'n ligte gewiggie en glad ook nie 'n sterk vlieër nie. Hulle staan daarom geen kans teen 'n gewone waaier nie. Deur net voor jy gaan slaap vir 'n paar minute 'n waaier in die slaapkamer aan te sit, verminder jy klaar die kanse dat 'n muskiet daar gaan insluip. As jy nie 'n ligte slaper is nie, kan jy selfs die waaier die hele nag laat aanbly. En as die muskiet jou nou klaar gebyt het en jy op jou tande moet kners om nie aan die krap te gaan nie - 'n gewone ysblokkie teen die byt help gewoonlik. As die muskietbyt na 20 minute nog opgehewe, rooiwarm en seer is, is jy onder die paar gelukkige mense (soos ek) wat allergies vir muskietspeeksel is. Hou dan maar altyd 'n buisie antihistamien room byderhand - en hoop die winter kom gou weer!

 
5) Ken jou vyand

Hoe meer jy van muskiete weet, hoe meer kan jy doen om hulle te vermy of hulle gedrag teen hulle in te span. Hier is net 'n paar voorbeelde:

•  Nes ander insekte, word muskiete ook deur lig aangetrek. Vervang jou gewone gloeilampe met LEDs en gebruik geel insekligte (bug lamps) buite om jou huis se aantrekkingskrag vir muskiete drasties te verminder.

  Volgens die wetenskaplikes word sommige muskiet-spesies aangetrek deur kleure soos swart, blou en rooi. Deur klere in ligter kleure te dra, kan jy jou as't ware teen die muskiete kamoefleer.  

•  Jy kan muskiete se natuurlike vyande inspan om hulle van jou af weg te hou. Een van die muskiet se grootste vyande is die vlermuis. 'n Vlermuis kan gemiddeld 600 insekte per uur eet, waarvan 'n groot persentasie uit muskiete bestaan. Deur 'n vlermuiskas (bat box) op jou erf op te rig, kan jy sommer terselfdertyd iets goeds vir die omgewing doen.

  In die meeste muskiet spesies, is dit die vroulike muskiet wat mense byt. Sy is gewoonlik teen sonsondergang en met sonsopkoms op haar aktiefste, daarom is dit belangrik om met hierdie tye klere te dra wat jou mees kwesbare gedeeltes bedek of om 'n muskiet-net oor jou bed te trek.

VERDRYF DIE MUSKIETE

The Overberg Business and Lifestyle Magazine

The Overberg Business and Lifestyle Magazine represents the interests of business owners in the Overberg by providing them with an online platform to effectively advertise and promote their businesses. Based in Struisbaai, The Overberg Business and Lifestyle Magazine has extensive experience in proj...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

WATCH THE VIDEO: Welcome to Napier
Read More

Other Articles

True Leadership Begins When You Stop Carrying It All Alone

True Leadership Begins When You Stop Carrying It All Alone

Leadership isn’t about doing it all - it’s about building a team that thrives.

May 2025 Newsletter

May 2025 Newsletter

Here’s what’s been happening and what’s coming up for OGG members and friends.

Leadership Starts Within: The Power of EQ

Leadership Starts Within: The Power of EQ

Emotional intelligence transforms good leaders into great.  

Poegie-uitdaging se Donasies Groei

Poegie-uitdaging se Donasies Groei

Lees meer oor 'Die Poegie-uitdaging' wat deur Manny de Bruyn van TMS Bouers en sy gedugte en 'manmoedige' spanmaats gaan aanpak!

Gans-Berg Nuus / News
DARWIN200 hosted in Gansbaai

DARWIN200 hosted in Gansbaai

DARWIN200 centres around the 2023-2025 Global Voyage, retracing Charles Darwin's historic journey aboard HMS Beagle. The initiative focuses on three core objectives: Empower, Inspire and Solve.

Gans-Berg Nuus / News
Beplande Khoisan Bay-ontwikkeling

Beplande Khoisan Bay-ontwikkeling

Lees Meer oor die Beplande Khoisan Bay-ontwikkeling vir De Kelders.

Gans-Berg Nuus / News
See All Articles