Landbou-Siklus in die Overberg

Landbou-Siklus in die Overberg

Suidernuus / Southern Post

Landbou-Siklus in die Overberg

Alles lyk dalk vaal en lelik, maar...

Wonder jy soms waarom sommige graanlande gebrand word? Of waarom party graanlande vol stoppels staan en ander nie? In hierdie splinternuwe Suidernuus-rubriek, gesels Marius Swart oor waar in die landbou-siklus die Overberg tans is, en wat jy sou sien as jy nader aan die lande staan.

Dis verstaanbaar dat mense liries raak oor die Overberg se landskap. In die vroeë lente is daar die blokke geel kanola, groen koring en blink gars wat al die handelsmerk van ons distrik geword het. Dan verander dit in reëlmatige rye platgesnyde graan wat ewe gou weer wegraak soos die oes ingesamel word.

Maar nou is ons aan die ander kant van die seisoen, in wat sommige mense sien as die “vaal en lelike” tyd. Niks is meer so mooi groen soos net ’n paar maande gelede nie. Staan jy egter ’n bietjie nader, merk jy op dat alles tog nie heel-temal dieselfde lyk nie.

 
Hoe lyk dit op die oomblik?

Daar is lande met lusern waarop skape wei, en ander lande is bewerk om die grond los te maak vir die komende koring-aanplanting. Klippe word afgery sodat implemente nie beskadig word nie, grond word gelykgesleep. Daar lê hope kalk, gips, hoendermis, kompos en ander aanvullings om die grond se voedingstatus en gesondheid aan te help.

Jy sien dalk selfs die strooiers waarmee dit op die lande uitgestrooi word. Ons praat van “kalkstrooiers”, maar kalk is maar net een van die goed wat hulle kan toedien.

Plek-plek sien jy dalk ’n land wat van hoek tot kant afgebrand is. Minder as twintig jaar gelede was dit nog in groot areas die norm en is strooi elke jaar uitgebrand en die grond aggressief bewerk – ons is voorgelig dat ’n skoon saadbed sonder enige oesreste die beste oes sou lewer. Vandag kry ons nagmerries oor wat dit aan die grondlewe gedoen het. Om te brand is nou ’n laaste uitweg, maar steeds ’n belangrike hulpmiddel in spesifieke omstandighede.

 
Oesreste, opslag en onkruid

Op die meeste graanlande wat laas jaar gesaai was, is daar graanstoppels van die vorige oes, en basies niks anders nie. Hier word groot moeite gedoen en koste aangegaan om vog en voedingstowwe te bewaar vir die volgende oes.

Hier en daar het probleemonkruid, soos ons sê, “deurgeglip”.

Van die tipiese kandidate in die somer is die kakiebos, wat na ’n baie klein kersboompie lyk, en die skraalhans, ’n regop bossie met harige grysgroen blare en fyn wit blommetjies. Daar is nog ander ook. Baie ander. Maar ons praat ’n ander keer oor hulle.

Buiten onkruid en stoppels, is daar ook opslag van die vorige jaar se oes. In Engels noem hulle dit “volunteer”, maar die Afrikaanse woord is meer beskrywend. As jy mooi kyk, sal jy sien dat hierdie opslag in reëlmatige stroke oor die land loop. Dit is waar die stroper laas jaar die strooi en kaf gegooi het, hetsy fyngekap of heel, en daar is ’n groot konsentrasie graan- en onkruidsaad wat dan van die somer se reën ontkiem.

Op sommige lande lê dit in smal stroke van ’n meter of twee breed – hier is die strooi waarskynlik gebaal en weggery. Op ander lande vorm dit breër bane – hier is die oesreste oopgeslaan vir ʼn deklaag.

 
Gars, koring en kanola

Die stoppels self is nie altyd ewe lank nie. Gars en koring word heelwat laer afgesny as kanola – eersgenoemde ongeveer op die hoogte van ’n koeldrankblikkie, en laasgenoemde op kniehoogte of nog hoër.

Kanola se stoppels is ’n langer, dikker, wit stok, terwyl gars, koring en ander kleingrane ’n korter en fyner stoppel het wat teen hierdie tyd al taamlik verweer en verkleur het. Op sommige lande staan daar jong, groen lusern tussen laas jaar se stoppels. Kyk mooi, en jy sal sien dat die lusern baie keer juis tussen kanola se lang, wit stoppels staan. Die rede waarom hierdie twee saam loop, sal ek oor ’n paar weke verder bespreek.

Die landskap is dalk nie nou so fotogenies soos in Augustus en September nie, maar moenie dink daar gaan niks aan net omdat dit vaal en droog is nie.

En dis juis amper saaityd – of soos jonger millenniërs dit noem, “planttyd”.

Ons praat binnekort verder.

Marius Swart kom van die vlakte tussen Bredasdorp en die see, waar sy belangstelling in die grond, landboutoerusting en die boerdery ontstaan het.

Landbou-Siklus in die Overberg

Suidernuus / Southern Post

Suidernuus / Southern Post is a well-established Bredasdorp-based publishing and printing company that reaches thousands of readers, across 14 Overberg towns, each week. Other than publishing accurate local news and information, the publishing and printing company provides businesses with the opport...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

WATCH THE VIDEO: Welcome to Agulhas!
Read More

Other Articles

Overcoming Beliefs for Success

Overcoming Beliefs for Success

I witness on a daily basis how clients cling to their beliefs and integrate them into their personalities. 

Gamco Installs HDPE Pipeline for New Dam Outlet

Gamco Installs HDPE Pipeline for New Dam Outlet

Gamco Services is proud to announce the successful installation of an HDPE pipeline for the outlet of a new dam. 

Gamco Services
Double Flower Fuchsias

Double Flower Fuchsias

We're thrilled to announce the arrival of our latest stock: Double Flower Fuchsias!

Lifestyle Nursery
"We Will Fail When We Fail to Try" - Rosa Parks' Lesson

"We Will Fail When We Fail to Try" - Rosa Parks' Lesson

Rosa Parks stood up for what she believed to be right. She became a role model for her peaceful assertion of her rights. 

Electronic Sewing Machine Service Reminder

Electronic Sewing Machine Service Reminder

When you submit a sewing machine for service with us, please remember to bring your buttonhole foot.

Creative Notions
Electronic Sewing Machine Service Reminder

Electronic Sewing Machine Service Reminder

When you submit a sewing machine for service with us, please remember to bring your buttonhole foot. 

Bernina Overberg
See All Articles

Top Attractions in Agulhas & Struisbaai