’n Hartlike dankie aan Reynier Möller
Banner Foto: Reynier Möller (regs) ontvang ’n erkenningsplaatjie van die President van L’Agulhas Rolbalklub, Andre (Kulu) Cruywagen (links).
L’Agulhas Rolbalklub wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om een van ons klublede, Reynier Möller, te bedank en erkenning te gee vir sy besonderse vrygewigheid en waardevolle bydraes tot die klub gedurende 2025 en 2026.
Gedurende hierdie tydperk het Reynier die klub op verskeie betekenisvolle maniere ondersteun. Sy bydraes het ’n groot verskil gemaak aan die daaglikse funksionering van die klub, asook aan die ervaring van ons lede.
Sy bydraes sluit die skenking van ’n lynmerkmasjien en kunsmisstrooier vir die rolbalbaan in waardevolle toerusting wat ons baanspan help om die hoë standaard van ons bane te handhaaf.
In September 2025 het Reynier ook die eerste L’Agulhas Mans Classic geïnisieer en geborg. Ná die sukses van die eerste toernooi het die Mans Classic nou ’n jaarlikse instelling geword, met die tweede toernooi wat in September 2026 plaasvind.
Reynier was ook ’n groot borg van ons vlagskiptoernooi, die L’Agulhas Classic, wat jaarliks in Augustus aangebied word. Sy ruim ondersteuning van hierdie gesogte toernooi, wat rolbalspelers van regoor die Wes-Kaap lok, het ’n belangrike bydrae gelewer tot die voortgesette sukses van een van die hoogtepunte op ons klubkalender.
Sy vrygewigheid strek ook verder as die rolbalbane. Reynier het die klub se CCTV sekuriteitstelsel geborg, wat bydra tot die veiligheid van ons fasiliteite, asook die DStv kykpakket. Dit het baie tot die sosiale sy van die klub bygedra en maak dit moontlik vir lede en besoekers om groot sportgeleenthede saam by die klubhuis te geniet.
’n Rolbalklub word nie net gebou op dit wat op die bane gebeur nie, maar ook deur mense wat bereid is om hul tyd, ondersteuning en hulpbronne beskikbaar te stel om die klub te help groei.
Reynier, baie dankie vir jou vrygewigheid, inisiatief en volgehoue ondersteuning van L’Agulhas Rolbalklub. Jou bydraes word opreg waardeer deur die Komitee en ons lede en sal die klub nog vir baie jare tot voordeel strek.









