Dankie NSRI (Nasionale See Reddings Instituut)
'n Dankie uit die diepte van Zoetendal se hart.
Jurie Els het in een van sy liedjies die vraag gevra: Hoe sê 'n mens dankie? Inderdaad! Hoe sê ons dankie vir die NSRI se selflose, groothartige ondersteuning van ons pragtige skool?
Zoetendal Akademie het na 'n uiters suksesvolle Kleuresport Driekampdag, ook oor hierdie vraag nagedink. Om aan die manne van die NSRI te bewys hoe dankbaar ons was dat hulle ons veilig gehou het in en om die water, was 'n uitdaging - maar vir die Zoeties, is geen taak onmoontlik nie.
Dis tóé dat ons besluit het om op Valentynsdag 2022, 'n muntlegging te hou waar elke leerder die geleentheid kon kry om 'n munt of 'n noot van dankbaarheid in die NSRI-hart te pak.
Die Nasionale See Reddings Instituut is 'n vrywilliger reddingsorganisasie wat 24/7 aan diens is. Hul missie is om lewens te red in Suid-Afrikaanse waters. Hulle is egter meer as 'n reddingsorganisasie - hulle lei ook gemeenskappe op en streef daarna om deur innovering, voortdurend aan te pas en waterveiligheidsinisiatiewe uit te brei deur bemagtiging en sigbaarheid. Die NSRI het so ook ons skoolgemeenskap ondersteun.
'n Klein gebaar van dank vir onbaatsugtige opoffering vir die veiligheid van ons kinders op hierdie dag van liefde.
Elanah S. Engelbrecht