BAIE DANKIE AAN NAPIER ROLBALKLUB
Foto: Lede van Napier Rolbalklub saam met lede van L'Agulhas Rolbalklub
Terwyl L’Agulhas rolbalklub se baan vir jaarlikse instandhouding gesluit was, het Mike Minnaar, wedstrydsekretaris van Napier rolbalklub, ons lede vriendelik uitgenooi om op Woensdae, Vrydae en Saterdae saam met hulle rolbal te speel.
Hierdie ruimhartige gebaar het ons lede in staat gestel om steeds hul rolbal te geniet, hul vaardighede op peil te hou en aan vriendskaplike kompetisie deel te neem terwyl ons eie baan buite aksie was.
Die hartlike ontvangs en wonderlike gasvryheid wat ons met elke besoek ervaar het, het nog meer besonders gemaak. Nuwe vriendskappe is gesmee, daar is saam gelag, en heerlike tye is op én langs die baan geniet.
Ongelukkig het die koue weer van die afgelope twee weke die herstel van ons baan en gevolglik ook die heropening daarvan vertraag. Ons toegewyde baanopsigter, Alan Coetsee, werk egter hard om alles weer reg te kry en mik daarna om die baan teen middel November gereed te hê vir spel. Ons sien daarna uit om ons lede weer op ons tuisbaan te verwelkom!
Intussen bedank ons Mike en al die lede van Napier-rolbalklub dat hulle ons so welkom laat voel het en gesorg het dat ons steeds die spel waarvoor ons so lief is, kon geniet!
Dit is waaroor rolbal gaan: vriendskap, kameraadskap en ’n gedeelde liefde vir die spel!






