Suid-Afrika se diversiteit en diverse en gesamentlike erfenis gevier op Napier
Ons is en lyk nie almal dieselfde nie, maar ons is almal deel van 'n diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap en elkeen is spesiaal en besonders.
Carmen Rene Pedro Jagers was die gasspreker by die Erfenisdag geleentheid wat op die vooraand van Erfenisdag deur die Elpidaspan gefasiliteer is en in samewerking met die personeel van Protea Primêr op Napier aangebied is. Die span het sommer ook die senior burger groep wat tweeweekliks by die Elpida sentrum bymekaarkom aan boord geneem sodat oud en jonk saam die spesiale geleentheid kon geniet.
Die grondslagfase leerders en die intermediêre fase leerders van graad 4 tot graad 7 is apart hanteer.
Daar is besluit om leerders, wat die uitdaging wou en kon aanvaar, uit te nooi om “aan te trek” in die tradisionele drag van een van die vele gemeenskappe wat hulleself aan die Suidpunt van Afrika in Suid-Afrika bevind. Opvoeders en senior burgers en les bes die Elpida spanlede kon ook in spesiale drag aanmeld by die vieringe. Senior burgers het dan ook die voorreg geniet om uiteindelik aan 'n leerdertjie van hulle keuse 'n geskenkie te oorhandig.
Afrika ritmes laat die voete wikkel en dans
Dit was aan die einde van die dag 'n vrolike geleentheid waar daar weereens ervaar is dat wanneer musiek met 'n Afrika ritme gespeel word, voete heen en weer beweeg op die maat van die aansteeklike musiek en dat baie van daardie voete ook sommer spontaan begin rondbeweeg het. Die kernboodskap wat jaarliks Erfenisdag kenmerk het egter die botoon gevoer met beide die Suid-Afrikaanse vlag en die vlag van Protea Primêr - wat albei 'n kosbare en besondere erfenis versinnebeeld - wat saam sy aan sy vertoon is.
Ora Laubscher