Spierwit Ratel
Raar maar waar - die foto bewys dit!
'n Fotobeeld van 'n spierwit ratel - ratels is gewoonlik swart van onder en van voor met 'n gryswit dorsale area - wat met 'n verskuilde kamera in die De Hoop Natuur Reservaat vasgevang is, het 'n opskudding onder wetenskaplikes en navorsers veroorsaak. Unieke fotomateriaal is bekom van die baie rare albino ratel (Mellivora capensis) wat, na wat verneem is, 'n baie rare gesig is. Dit is volgens 'n persverklaring wat in hierdie verband deur Cape Nature uitgereik is ook “'n eerste wetenskaplike bewys in die wetenskaplike literatuur van so 'n toestand”. Toestemming is vroeër deur Cape Nature verleen aan BirdLife SA en Panthera om inligting in te win aangaande die beweging en teenwoordigheid van roofdiere soos luiperds en rooikatte wat gevaar sou kon inhou vir 'n nuwe pikkewynkolonie wat vir die De Hoop Natuur Reservaat beplan word. Heel toevallig is daar toe tussen fotomateriaal afgekom op fotos van die albino.
Albinisme onder ratels Albinisme is 'n baie rare toestand wat oorerflik is. Die kanse dat so 'n albino die besondere geen kan oordra na 'n volgende geslag, is as gevolg van natuurlike seleksie skraal. Die kanse van so 'n dier om in die natuur te oorleef is net so skraal. Die albino is swakker en minder bestand teen hitte en natuurlik ook meer sigbaar as gevolg van die wit kleur van die vag.