Bredasdorper in hokkiespan vir Nasiebeker in Ghana
Die Afrika Hokkie Nasiebeker vind Januarie 2022 in Accra, Ghana plaas. 'n Suid-Afrikaanse span is aangewys om die land te gaan verteenwoordig.
Met 'n nuwe afrigter en verskeie nuwe jong spelers, is die span reg om die res van Afrika aan te pak. Hul mikpunt is om later in 2022 aan die Gemenebes Spele en die Wêreldbeker deel te neem. Iemand wat reg is om die groen en goud aan te trek en die land, provinsie en Bredasdorp te verteenwoordig, is niemand anders as Stephanie Botha.
Botha kry hierdie jaar haar B.Ed onderwys graad by Maties. Sy speel ook tans vir Maties Vroue se eerste span en ook vir die WP senior span. Stephanie het haar Vlak 1 afrigtingskursus voltooi en rig tans die O/16 A span van die Somerset College af.
Stephanie gaan volgende jaar 'n nagraadse diploma in Transport en Logistiek by Maties doen. In 2011 was sy hoofmeisie van Laerskool Bredasdorp. Sy is die dogter van S tef en R onèl B otha van Bredasdorp.
Botha is saam met Quanita Bobbs, Erin Christie, Bernadette Coston, Lilian du Plessis, Tegan Fourie, Tarryn Glasby, Robyn Johnson, Lerato Mahole, Ongeziwe Mali, Marizen Marais, Phumelela Mbande, Mmatshepo Modipane, Kristen Paton, Hannah Pearce, Shindre-Lee Simmons, Nompilo Thenjwayo en Nomnikelo Veto, in die span.