Oor dolfyne, walvisse en haaie...
Dolfyne kom groet in die see by Struisbaai
By Struisbaai se 5 myl bank was daar op 26 September dolfyne vir Afrika in die see. So het 'n visserman, wat oor die Erfenis langnaweek daar rond gaan vis soek het, laat weet. 'n Foto van die dolfyne wat in die blou water baljaar, het Struisbaaiers gaande gehad.
Wanneer hierdie vriendelike seediere wat so lekker in die branders kan baljaar kom inloer, laat dit mense gewoonlik glimlag en na selfone en kameras gryp.
Dit wil egter voorkom asof dit nie net dolfyne is wat die Overbergsekuslyn in groot getalle besoek nie.
Walvisse, veral moeders en hulle kalfies, beweeg hierdie jaar ook heel sigbaar en naby genoeg aan die kuslyn om na hartelus dopgehou en afgeneem te word. Die Dolfyn en walvis Whatsapp groep hou diegene, wat op die spoor van walvisse of dolfyne in die Overstrand is, van vroeg tot laat op hoogte van hulle bewegings.
Besighede wat spesialiseer in haaikyk vaarte is, na wat verneem is ook in hulle noppies, want die withaaie wat vir 'n redelike lang tydperk “verdwyn” het, is ook nou weer in volle sterkte terug.
Kunstenaars vier ikoniese seediere aan die hand van uitstalling
Om walvisse, maar ook ander ikoniese seediere, gedurende Erfenisnaweek te vier, is 'n spesiale kuns uitstalling in Kaapstad aangekondig. Die uitstalling wat onder die vaandel van die titel “Whale Song” bekend gestel is, is 'n verteenwoordigende versameling kunswerke met marine diversiteit as tema. Die wêreldbekende marinebioloog en viskenner, Prof Mike Bruton, het die uitstalling geopen.
Ora Laubscher