Finbond Mutualbank-toernooi weer groot sukses by L’Agulhas Rolbalklub
Finbond Mutualbank het op 8 en 9 Mei 2026 vir die derde agtereenvolgende jaar die gewilde Finbond Mutualbank-toernooi by L’Agulhas Rolbalklub aangebied. Die klub spreek sy opregte dank en waardering uit teenoor die Hoof Uitvoerende Beampte, Carel van Heerden, asook Lee-Anne Nefdt, takbestuurder van Finbond Mutualbank in Bredasdorp, vir hul ruim borgskap en persoonlike betrokkenheid by die toernooi.
Die verrigtinge het reeds Vrydagmiddag, 8 Mei, afgeskop. Al 56 spelers is verras met waardevolle geskenksakke, asook ’n pragtige gholfhemp en sonhoed met die Finbond-embleem daarop. Daar is ook ’n Taylor-rolbalsak uitgeloot, sowel as ’n welkome R1 000-geskenkbewys van Aweh.
By die plotbord kon spelers hul geluk beproef vir verskeie pryse, waaronder ’n handige 2-bal drasakkie, heerlike souse van Montagu Saucy, ’n bal opligter en wyne van Van Loveren Wyne.
Spelers van ander klubs is deur die vise-president, Fanie du Plessis, verwelkom, waarna Bertie le Roux die toernooi op gepaste wyse met gebed geopen het. Die spelers is bederf deur heerlike etes wat gemaak en bedien is deur dames van die klub.
Die eerste wedstryde is lukraak bepaal, waarna sterk teen sterk meegeding het. Lee-Anne het die kontantpryse in die vorm van Finbond Mutualbank-debietkaarte, waarop die prysgeld reeds gelaai was, aan die wenners oorhandig.
Die eind uitslae was soos volg:

• Derde plek: Herman Fourie en sy span van Bredasdorp

• Tweede plek: Iris Nel en haar gemengde span

• Algehele wenners: Francois Rossouw van Villiersdorp en sy span
VLNR: Carel van Heerden, Hoof Uitvoerende Beampe van Finbond Mutalbank SA, saam met die wenspan. Francois Rossouw, Gerhard van der Walt, Willie Smit, Dalene de Kock en Lee-Anne Nefdt, Takbestuurder van Finbond Mutualbank
Na afloop van die verrigtinge het Carel van Heerden kortliks meer inligting gedeel oor die dinamiese Finbond Mutualbank en die voordele van hul aantreklike beleggingsrekeninge vir beleggers en pensioenarisse. Met ‘n 24-uur diens en persoonlike aandag, is die bank beslis ‘n besoek wêrd.
Baie dankie aan Finbond Mutualbank vir hul borgskap. Geen klub kan sulke toernooie aanbied sonder borge nie!






