L’Agulhas-rolbalspelers presteer goed by Riversdal Ope Dag
Op Saterdag, 15 Augustus, het drie lede van L’Agulhas Rolbalklub, André Krahtz, Lynette Krahtz en Gerhard van der Walt, na Riversdal gereis om aan die Riversdal Ope Dag, geborg deur Riversdal Toyota, deel te neem.
Die toernooi het 22 spanne gelok en is in die Gemengde Driespel formaat gespeel, met drie wedstryde van 14 koppe elk.
Die L’Agulhas-span het die toernooi sterk begin en hul eerste twee wedstryde gewen. Hul laaste wedstryd was ’n baie naelbytwedsyryd met die span wat uiteindelik met slegs een punt verloor het.
Hul uitstekende vertoning deur die loop van die dag het aan hulle ’n indrukwekkende vierde plek uit 22 spanne besorg.
Baie geluk aan André, Lynette en Gerhard wat L’Agulhas Rolbalklub uitstekend verteenwoordig en ’n puik uitslag teen sterk mededinging behaal het.
Banner Foto: VLNR: Gerhard van der Walt, Johanna Maddison (President Riversdal Rolbalklub) Lynette Krahtz en Andre Krahtz







