Een van ons klante met 'n groot hart het begin organiseer dat vriende beanies brei vir kindertjies wat hulle hare verloor het as gevolg van die Chemo behandeling. Daar is vrouens dwaarsoor die land wat brei want die een vrou vertel haar niggie en haar niggie vertel haar vriend en haar vriend vertel haar Ma wat haar kollegas by die werk sê en so word die storie van die projek versprei.
Kerneels en Kie se bydrae is natuurlik om die verpakking te maak. Elke hoedjie word in sypapier toegedraai en dan in 'n lucky packet sakkie gesit.
Die volgende 90 beanies sal in Julie maand reg wees vir die kleuters. Christa het al begin met sakkies maak. Dit breek mens se hart om die klein liggaampiesin die hospitaal bed te sien pleks van buite onder die blou hemel speel-speel met hulle maatjies.
Ons kan hulle nie help om gesond te word nie maar almal in die projek doen hulle bes om seker te maak hulle koppies warm bly veral as die koue dae kom. Miskien nog meer belangrik as die warmte en die mooi kleure van die hoedjie is die wete dat daar mense in die land is wat nie verplig is om vir hulle te sorg nie maar wat dit uit liefde en aanmoediging doen. Dit is hulle manier van se, 'Jy is nie alleen nie, Skattie, ons staan hier aan jou sy'.