Gansbaai het pas ‘n “Country Western” restaurant bygekry.
Die eienares, ‘n nuwe intrekker vanuit Mpumalanga, Nicky Olivier ontmoet Gansbaai Courant by die trappe van haar nuwe restaurant.
Haar “cow girl” klere is netjies afgerond met ‘n paar wit stewels en jy wonder wanneer ‘n perd gaan kop uitsteek om die hoek van die bruin geverfde gebou in Kerkstraat, van waar Marie’s Boutique voorheen bedryf is.
‘n Kaktusplant en “Wanted” plakkaat onderstreep die tema by die vooraansig van die restaurant.
The Old Wild West het pas sy swaaideure vasgeskroef en wag dat besoekers dit kom oopswaai en oor hul plankvloere stap na die sygedeelte van die gebou, waar groot ronde houttolle as tafels dien.
Hoewel jy sissende biefstuk op ‘n swart ystererts bord hier kan verwag, is Nicky en haar span ook uitstekende boerekos en Mexikaanse gereg kokke.
Nicky waarsku egter dat hierdie kosse vooraf bestel moet word.
Sy het reeds groot groepe daar onthaal wat haar boerekos op die proef gestel het en reeds weer bespreek het.
Nicky sê dat haar toltafels ideaal is vir gesellige fondue-aande.
Skakel haar gerus vir ‘n gesellige Wilde Weste aandjie uit!