Fynkos uit die see, met respek

Ongelukkig raak dit al moeiliker om jou tafel te spys uit die see. Jy, arme citizen wat ook net die smaak 'n slag wil ervaar, moet maar omkyk-omkyk jou lekker dingetjie uithaal en summier opeet.

Miskien nog die beste, want dan eet jy hom van sy ma af. Die ding dat mense hierdie delikate seekosse toegooi met sterk goed soos knoffel en tobasco en allerhande souse en verdiksels, is pure snert. Soveel te meer nog wanneer dit vrieskas-opgegaar was vir 'n paar maande. Nee wat, gee maar vir die hond en kyk of hy dit wil eet.

As jy gelukkig is om 'n perlemoen in die hande te kry - dis te sê as jy gestroef, oorleef en oorwin het om 'n permit vir uithaal met sukses en sonder enige wonde kon verkry -  maak hom sommer gaar net daar waar jy hom land. Maak dus seker dat wanneer jy see toe gaan, jy 'n pepertjie, suurlemoentjie, bacontjie en gerasperde kasie, tesame met 'n stukkie blink foelie tussen jou visgerei inpak. En natuurlik ‘n veilige hol ding om vuur te maak. Oop vure is verbode langs ons lieflike kuslyn waar die fynbos tot op die strand groei.

Tant Anna Nowers het op Buffeljagsbaai gewoon en dis daar waar sy my eendag langs haar seeppot die geheim van perlemoen vertel het. ‘n Seegees van formaat, kon niemand haar iets leer van die land van Neptunus nie. G’n mens is seeslimmer as tant Anna nie. ‘n Perlemoen se sag het niks te doene met ‘n kappery nie. 

Die aartsgeheim is om daardie een groot spier, want dis wat hy is, so vinnig moontlik te laat ontspan nadat jy hom van die rots afgehaal het. Sommer daar in die water gee jy hom 'n paar vinnige steke in die dikvleis met jou skroewedraaier, of watter instrument jy ookal gebruik vir die afhaalslag. Verslap hom onmiddellik.  Voor jy heeltemal uit die water is, steek hom gou uit die skulp en skuur sy boskasie bietjie skoon teen 'n rots. Ook nou nie lakenwit skoon nie, want baie van die smaak sit in die groenigheid. Die idee is om van die slymerigheid ontslae te raak.
As jy heeltemal wetlik onwettig in die water is, kom dan maar vinnig uit met hom, maar kap hom dan sommer met die eerste klip, een massiewe hou, kissie toe. Wees net verseker dat hy dan alreeds in stres was terwyl jy met hom land toe gebeur het en alreeds begin saamtrek het in sy vlug-of-veg-omstandighede.
Kom jy by die vuurtjie wat alreeds halfvaal begin kole maak, sit jy daai heel perlemoen op die blink kant van die foelie, druk 'n halwe suurlemoen oor hom uit, gooi bietjie peper, plaas die bacontjie op hom en so 'n knypseltjie gerasperde cheddar bo-op. NOOIT SOUT NIE, want dit maak hom taai omdat dit die natuurlike sousie uittrek.Vou die foelie mooi dig toe en sit die pakkie op die rooster. Tien minute aan elke kant. Niks meer nie. Vou hom oop, laat 'n bietjie afkoel, vat hom soos 'n hamburger en slaan jou tande in hom in. Murgsag!

Alkruk is bietjie anderster ding. Hier in die Strandveld praat net die buitemense en die cultivarias  van ali-kreukel, maar tussen onse mens is hy plein alkruk. Dis 'n snêksie om aan te peusel terwyl die vleisie op die vuur is. Omdat hy so 'n gemene dop het, is mens geneig om jou te verbeel hy moet lank kook. Verkeerd. Vir hierdie skulpdier moet jy 'n pot met kokende seewater gereed hou vir wanneer jy uit die see kom met jou kwota. Die water moet genoeg wees om al die alkruk te bedek. Dompel jou alkruk in die kokende water en hou die horlosie dop. Tien minute vandat die water weer begin kook het, toets jy een deur hom te skud. As die vleis uit die dop loskom en uitval, is hy reg. Eet hom met verdrag tussen ‘n koue wyntjie deur.
As jy die lang pad van maal en koekies maak wil vat, sorg dat jy dadelik by die huis kom en dit doen. Elke minuut wat jy uitstel, osmotiseer daardie seesmakie atmosfeer in en jy ontneem jouself van een van die see se beste fynkos smake.

Carien Badenhorst