Die parsseisoen is pas verby en met saaityd op hande wonder die werksmense op Raka wanneer daar dan 'n ruskansie sal kom. Die week het hulle darem iets gehad om oor te glimlag, want 3 Raka wyne het mooi presteer en is gekies as Top 100 Wyne van Suid-Afrika.
Raka se span
Die eer het al vantevore die Raka Biography Shiraz te beurt geval, en vanjaar is die Biography2010, Quinary 2009 en die Quinary 2010 al drie gekies as Top 100 Wyne van Suid-Afrika. Die twee Quinary- wyne is versnit-wyne wat, soos die naam aandui, saamgestel is uit die 5 Bordeaux-varieteite.
Die twee wyne is ook aangewys as "Beste Waarde" wyne onder die Top 100 wyne. Daar is slegs 7 wyne wat die eer gekry het.
Josef Dreyer, Raka wynmaker en Ovie van die 2003 oesjaar, som Raka se sukses so op:
“Dis 'n spanpoging, en kom basies neer op goeie terroir en harde werk. Daar is geen geheime formule nie en elkeen by Raka het gedurende die jaar 'n rol te speel om die wingred gesond en gelukkig te hou. In Parstyd werk ons almal saam en daar is nie lyfwegstekers en klakouse nie, dis wat die wyn so lekker maak - die werkspan se goeie gees en positiewe gesindheid en die vreugde wat ons almal uit ons werk kry. Dis wat nou bekroon word - harde werk, deursettingsvermoë, en 'n wil om jou beste te doen.”
Lees gerus die rug-etikette van die Raka Quinary of Biography wyne.